Benoni-nagklubsaak: De Lange, Hearn vanaand weer tuis

Gideon Fourie, Jacques de Lange en Sampie Hearn Dinsdag tydens vonnisoplegging. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Ná twee weke agter tralies slaap Jacques de Lange en Sampie Hearn Woensdagaand weer tuis.

Die twee jong mans wat vroeër vandeesmaand elk vyf jaar tronkstraf opgelê is vir hul aandeel in Daniël Botha se dood, is op borgtog vrygelaat nadat landdros Ian Cox hul aansoeke om verlof tot appèl teen hul skuldigbevinding en vonnis toegestaan het.

Cox het ook borgtog aan hulle toegestaan hangende die uitkoms van die appèlaansoek.

Die bedrag is eindelik op R7 500 elk vasgestel nadat De Lange se regspan aangevoer het dat hy net R2 000 vir borgtog kan betaal en Hearn se regspan aangedui het dat hy R500 vir borgtog kan bekostig.

De Lange en Hearn is in Februarie vanjaar skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat Botha in Julie 2018 só erg by ’n kuierplek in Benoni aangerand is dat hy later breindood verklaar is.

Op 9 Mei is De Lange en Hearn elkeen tot vyf jaar, asook ’n verdere twee jaar tronkstraf gevonnis. Dié twee jaar is vir vyf jaar opgeskort. De Lange en Hearn kom ook ná tien maande agter tralies in aanmerking vir korrektiewe toesig.

Cox het vanoggend toegegee dat verskeie feite tydens die verhoor betwis is en dat dit “onregverdig” van hom sou wees om De Lange en Hearn nie toe te laat om hul saak aan ’n ander hof te stel nie.

Dít omdat ’n ander hof moontlik tot ’n ander gevolgtrekking kan kom.

Cox het nie met die verdediging saamgestem dat De Lange en Hearn se vonnisse te streng is nie en het gesê dat hy inderwaarheid toegeeflik was met die oplê daarvan.

“’n Mens moet wat daardie aand gebeur het, holisties beskou. Neem ook in ag dat die skuldigbevindings altyd van aanranding met die doel om ernstig te beseer na moord of medepligtig aan moord verander kan word,” het Cox gesê.

De Lange en Hearn het in hul borgtogaansoek aangevoer dat hul appèlaansoeke veel langer kan neem as tien maande waarna hulle in elk geval in aanmerking vir korrektiewe toesig sal kom.

Cox het saamgestem.

“Daar is geen manier dat ’n appèlaansoek binne tien maande aangehoor gaan word nie.”

Staatsaanklaer Basil Marishane het egter aangedui dat die toestaan van borgtog hangende die uitkoms van die appèlaansoek sal beteken dat lede van die publiek vertroue in die regstelsel verloor.

“Daar is altyd ’n moontlikheid dat die appèlaansoek kan slaag. Wat sal mense dan sê? Die hof is nie hier om lede van die publiek tevrede te stel óf om ’n gewildheidskompetisie te wen nie,” was Cox se reaksie daarop.

Gideon Fourie, De Lange en Hearn se medepligtige wat tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is vir die moord op Botha, was nie Woensdag gereed om met sy aansoek om verlof tot appèl voort te gaan nie.

Dié aansoek sal op 7 Junie aangehoor word.

Die jong mans het Woensdag al drie in voetboeie in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Harley Davidson ·

Hoe belaglik is dit nie ,die tipe van verkragting van die wet sal veroorsaak dat wetsgehoorsame burgers reg in eie hande sal neem en die land sal in anargie verval.

Marius ·

So omdat die howe nie teen ‘n bilikke tyd ‘n appél kan aanhoor nie kan die kans nie geneem word om hulle agter tralies te hou nie?
Dit sê baie oor die howe se funksionering (of tekort daaraan) bo en behalwe die tandelose toestand waarin on strafreg hom tans bevind.

Schalk ·

Die howe is nie hier om lede van die publiek tevrede te stel nie? Julle stel wel die publiek met elke uitspraak uit ons howe teleur. Die regsbank is n grap, die drie bere het presies geweet wat hulle doen, hulle kon voorsien het dat hulle die slagoffer kon dood met al die houe en skoppe! Ek hoop van harte daar is iemand in hulle area wat reg sal toepas, slegs die tronk is goed genoeg vir hierdie gemors!!!

Sobymykoolkop ·

Dalk, net dalk misluk die appêl en kry hulle nog langer strawwe. Geweet om skoppe en klappe uit te deel maar sien nie kans vir 10 maande nie.

ES ·

Selfde het met Oscar gebeur. Die Appelhof het sy manslag vonnis na moord verander.

Daleen ·

Snaaks hoe vinnig die borgaansoeke (2 weke) aangehoor is as in ag geneem word die saak het 5 jaar lank gesloer….

sarah ·

Dit is n baie tragiese ding wat hier gebeur het.
Die Oorledene wou wegstap en huis toe gaan.
Maar geen genade was hom egter toegegee!
die hof se die beskuldigdes het n history van baklei.
Nou draai die saak heeltemal 360 grade om
en dit Se Wat verkeerd is, is reg, en wat reg moet wees is nou eintlik verkeerd???
Dit maak nie sin

Hasie ·

Hul het nie geld nie maar kan dit verkwis by ‘ n nagklub ……belaglik …

Lillian ·

Dis nou absurd, hulle is net so aandadig, jaek Jen nie al die feite nie, maar hoeveel feite kan verbloem wees? Hulle is net so aandadig soos Fourie.

Elsabe ·

Met die druk waaronder ons leef, is dit duidelik dat ons nie meer soos vantevore by nagklubs kan uithang nie. Die druk het ‘n direkte invloed op ons gedrag en veroorsaak dat die moontlikheid van baklei in sulke sosiale omgewings baie hoog is. Dit is werklik hartseer om te dink dat iemand wat dalk slegs wou ontspan en sosialiseer nooit weer huistoe sal kom nie oor die dade van n oor emosionele persoon.

ES ·

Ongelukkig gaan dit deesdae oor hoe baie geld jy het vir regsverteenwoordiging. Dit klink vir my of Cox J baie maklik deur die verdediging se regspan beinvloedbaar was.

Christine ·

Ek het niks teen alkohol gebruik nie, maar hoeveel wat goed en mooi is kom laataand uit drinkplekke……?

Nico ·

Geregtigheid gaan seevier, die beskuldigtes sal nog betaal vir hulle misdaad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.