Bergfietsryer op Tafelberg aangeval

Goolam Hassan. Foto: Facebook

Goolam Hassan. Foto: Facebook

ʼn Bergfietsryer van Kaapstad is Sondagoggend op Tafelberg deur twee mans aangeval, aangerand en van sy bergfiets en selfoon beroof.

Die slagoffer, Goolam Hassan, het Maandag aan Maroela Media gesê hy het oudergewoonte op die berg gaan oefen toe hy aan die voet van Plum Pudding naby Hospitaaldraai deur twee gewapende mans oorval is nadat hy om ʼn skerp draai gery het.

“Een van die mans het my met ʼn tak in my gesig geslaan. Hy was met ʼn mes gewapen en het my op die grond vasgepen en gewurg. Hy het die mes onder my regteroog gedruk en gesê ek moet alles doen wat hulle sê, want hy sal nie huiwer om my daarmee te steek nie,” het Hassan gesê.

Die medepligtige was met ʼn vuurwapen gewapen en het dit op Hassan gerig. Die aanvallers het Hassan vir waardevolle besittings deursoek en sy fiets, ter waarde van R40 000, en selfoon, ʼn Samsung S6, gebuit waarna hulle hom geskop het.

“Hulle het my gedwing om teen die berg op te loop terwyl hulle in die teenoorgestelde rigting gevlug het.”

Twee ander fietsryers het op ʼn beseerde Hassan afgekom en hulp ontbied.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Hy het gesê die omstandighede rondom die aanval word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die groep, Table Mountain Bikers, het op sy Facebook-blad gesê Hassan se aanval is die jongste van ʼn vlaag aanvalle in die Rhodes Memorial-omgewing van Tafelberg en het ʼn beroep op fietsryers gedoen om versigtig te wees as hulle daar gaan fietsry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.