Berigte oor onteiening van wildplaas saai ‘onnodig kommer’

Akkerland wild-en-jagplaas. Foto: Facebook via Akkerland Boerdery (pty) Ltd Ventures

Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming (DRDLR) meen berigte die afgelope naweek oor eienaars van ʼn wildplaas in Limpopo wat in ʼn onteieningsregsgeding met die staat gewikkel is, het onnodig kommer onder grondeienaars veroorsaak.

Dit volg nadat Rapport die afgelope naweek berig het die regering het plase “eensydig begin onteien” waar onderhandelings oor die koopprys vasgeval het. Die Sondagkoerant het berig oor ʼn onteieningskennisgewing wat reeds in April aan die eienaars van Akkerland Boerdery uitgereik is waarin die besonderhede vir ʼn terreininspeksie en oorhandiging van die plaassleutels uiteengesit word.

Akkerland is ʼn wild-en-jagplaas noord van Louis Trichardt in Limpopo. Volgens Rapport bestaan die plaas uit twee plase, naamlik Lukin 643 en Salaita 188. Lukin 643 én Salaita 188 verskyn op die lys van plase wat vroeër vandeesmaand deur AfriForum bekendgemaak en wat geoormerk is om sonder vergoeding deur die staat onteien te word.

Die lys het wyd opslae veroorsaak met sommige wat die bekendmaking daarvan ondersteun het, terwyl ander AfriForum vir dié besluit gekritiseer het.

Die Musekwa-volk het reeds in 1996 ʼn grondeis op Akkerland ingedien. Die departement het in 2013 met die eienaars van Akkerland begin onderhandel om die grond te koop.

Linda Page, woordvoerder van die DRDLR, het aan Maroela Media gesê die eienaars was destyds bereid om die plaas te verkoop. Die departement het toe ʼn onafhanklike waardeerder gekry wat bepaal het dat die eiendom sowat R20 miljoen werd is. In die lig van dié waardasie is ʼn aanbod aan die eienaars van die plaas gemaak, maar die aanbod is van die hand gewys.

Volgens Page het die eienaars aangedring op R200 miljoen vir die grond. Sy voeg by dat sy nie weet waar die eienaars aan dié bedrag sou kom nie aangesien ʼn onafhanklike waardeerder bepaal het dat die grond R20 miljoen werd is.

Akkerland wild-en-jagplaas. Foto: Facebook via Akkerland Boerdery (pty) Ltd Ventures

“Dit is ʼn uitdaging wat die regering gereeld in die gesig staar waar grondeienaars ʼn bedrag uit die lug gryp en daarop aandring om die onteieningsproses te vertraag. Grondeienaars is soms onder die indruk dat die regering ʼn onbeperkte hoeveelheid geld het en dring dan aan op vergoeding wat nie eerlik en regverdig is ten opsigte van die waarde van die eiendom nie. Daar is geen gronde hier vir ʼn koopprys van R200 miljoen nie,” sê Page.

Sy het bevestig dat die departement hom dus tot die hof gewend het om uitsluitsel te gee oor die saak. Page het beklemtoon dat dit in ooreenstemming met die voorskrifte van die wet is om hof toe te gaan in gevalle waar grondeienaars en die departement nie ooreen kan kom oor vergoeding vir ʼn stuk grond wat vir onteiening geoormerk is nie.

Daar is niks vreemds of buitengewoon hieraan nie. Daar is ook nie sprake van onteiening sonder vergoeding nie. Indien die hof beslis dat die departement wel met onteiening van die grond kan voortgaan, sal die eienaars steeds vergoed word soos deur die hof bepaal. Daar is geen manier wat grond net gevat sal word sonder dat vergoeding betaal word nie. Dit is nie deel van die wet nie,” het Page gesê.

Annelize Crosby van Agri SA se sentrum vir uitnemendheid: grond, het aan Maroela Media gesê die organisasie is bekommerd dat die afgelope naweek se berigte ʼn wanindruk gewek het dat plase nou sonder vergoeding onteien word. “Ons wil die publiek daarop wys dat hierdie geval nié onteiening sonder vergoeding is nie en dat daar regsopsies tot die beskikking van die eienaars is wat skynbaar in hierdie geval uitgeoefen word,” het sy gesê.

Volgens Crosby is Agri SA nie betrokke by die Akkerland-saak nie, maar het sy deur die media van die saak bewus geraak. “Ons het nie eerstehandse inligting oor die saak nie, maar soos ek verstaan, het die minister direk oorgegaan en ʼn finale onteieningskennisgewing aan die eienaars uitgereik, terwyl die grondeis nog betwis word.

“Dit is kommerwekkend. Net die hof kan ʼn dispuut oor ʼn grondeis finaal besleg, die minister kan derhalwe nie besluit om namens die hof sy onteieningsmagte uit te oefen nie,” het sy verduidelik.

Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming. Foto: Flickr/GovernmentZA

Mashile Mokono, hoof van die grondhervormingskantoor binne die DRDLR, meen dít is egter bloot ʼn regsmening en word nie deur wetgewing uitgestippel nie. Hy het Maroela Media verwys na artikel 42(e) van die Wet op die Restitusie van Grondregte. Volgens die artikel is die minister by magte om enige grond of gedeelte van grond te koop of op ʼn ander manier te bekom, en enige grond of gedeelte van grond te onteien, onderhewig daaraan dat ʼn grondeis ooreenkomstig wetgewing teen die spesifieke stuk grond ingedien is.

Mokono meen die minister het dus binne haar regte opgetree deur die onteieningskennisgewing aan die eienaars van Akkerland uit te reik en dat die hof moet beslis wat verder sal gebeur.

“Hierdie saak is eintlik sub judice en dit is jammer dat die besonderhede daarvan nou in die openbaar bespreek word, maar wat kan ons doen? Die saak het nou in die media beland voordat die hof hieroor beslis het,” het hy gesê.

Hy het soos Page ook bevestig dat daar geen sprake is om Akkerland sonder vergoeding te onteien nie.

Crosby het gesê hoewel die minister gebonde is aan die bepalings van die Wet op Administratiewe Geregtigheid, is Agri SA wel bekommerd oor die formule wat die waardeerder-generaal gebruik om regverdige en billike vergoeding vir eiendom te bepaal.

Sy sê dat konsepregulasies vroeër voorgestel is waardeur huidige gebruikswaarde van ʼn eiendom in ag geneem word tydens die bepaling van die waarde van die eiendom, ʼn regulasie wat voorheen net op geboue toegepas is.

Volgens Crosby kan dié konsepregulasies tot nadeel wees van die grondeienaar, byvoorbeeld by ʼn boerdery wat nie baie winsgewend is nie. “Ek weet nie of die formule al formeel gebruik word nie, want die regulasies is nog nie gefinaliseer nie, maar dit wil voorkom asof dit wel in die praktyk toegepas word. Grondeienaars is natuurlik geregtig om die vergoeding wat die staat aanbied in die hof te betwis.”

Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum. (14 Augustus 2018). Foto: Rozier van Tonder

“Onteieningslys”

Intussen hou die DRDLR vol dat daar geen planne is om eiendom sonder vergoeding te onteien nie. Oor die feit dat Lukin 643 en Salaita 188 albei op die sogenaamde “onteieningslys” verskyn wat deur AfriForum bekendgemaak is, sê Page sy weet steeds nie waar dié lys vandaan kom nie.

“Soos ek voorheen gesê het, daar bestaan nie ʼn lys van eiendomme wat sonder vergoeding onteien sal word nie. Ek vermoed iemand het moontlik die name van plase waar onderhandelinge vasgeval het of waar onteieningskennisgewings uitgereik is op ʼn lys saamgevoeg.

“Die departement is wel besig met onteieningsake, so daar is plase wat deur sekere prosesse sal gaan. Maar daar bestaan nie ʼn lys vir onteiening sonder vergoeding nie.”

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, meen egter die feit dat die name van die twee plase op die lys verskyn, moet juis ʼn aanduiding van die egtheid van die lys wees. “Die feit dat die twee plase nou vir onteiening geteiken word, behoort nie net as bevestiging gesien te word dat die lys eg is nie, maar behoort ook te bewys dat die staat se uitsprake oor onteiening sonder vergoeding nie bloot bangmaakpraatjies is nie,” sê hy.

Hy meen die DRDLR se beklemtoning van die feit dat Akkerland nie sonder vergoeding onteien sal word nie, is bloot ʼn poging om die publiek om die bos te lei. “Die staat se eerste stap hier is nou om eiendomme te onteien teen vergoeding ver onder markwaarde. Nou kruip hulle weg agter die feit dat daar wel vergoeding betaal word vir die grond wat onteien word, maar hierdie vergoeding stem nie ooreen met wat die grond werd is nie en dit is net een stap nader aan onteiening sonder vergoeding.”

Roets het gesê AfriForum se regspan is in verbinding met Akkerland se regspan oor die aangeleentheid.

Maroela Media het Theon Smith, Akkerland Boerdery se regsverteenwoordiger, om kommentaar genader, maar kon hom nie Dinsdag telefonies bereik nie. Ten tyde van publikasie het Maroela Media ook nog nie terugvoer op ʼn skriftelike versoek vir kommentaar ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
Natan

Onafhanklike waardeerder? Ek het so waardeerder al ontbloot in die hof. Gekonkel en saamgespan met die staat om ‘n laer waardasieprys vas te stel. Die hof, wat ‘n staatsinstelling is, het die waardeerder gelyk gegee, maar die feite is uit deur sy onkunde en gierigheid. Sy waardasie is in elk geval nie gebruik nie op grond van ‘n vooraf ooreenkoms. Die landbouverenigings ondersteun egter sulke waardeerders en elke grondeienaar is aan sy eie lot onderwerp.

Judge Dredd

Linda Page? – as jy die waarde van die wild in ag neem, dan inderwaarheid kan die plaas R200 miljoen werd wees.

Thea

Lekker gierig, nou kry hulle niks. Omdat dit ook nie ‘n deursigtige proses is nie, kan dit verwag word dat grondeienaars bekommerd sal wees. Ek is verbaas dat hulle nie méér bekommerd is nie.

tokkie

As Mala-Mala ‘n biljoen destyds kon kry – kan sy seker 200 miljoen vra – dit is mos die norm
om te veel te vra en te kry – waar in jou lewe het jy gesien ‘n plaas kos ‘n biljoen rand. Met daai geld kon hulle duisende plase gekoop het. Maar nee vir een gesin gee hulle dit – wonder maar

Celtis Africana

Dit wys net weer op die betroubaarheid van die Afriforum lys. Ek ondersteun die Afriforum siening oor die aangeleentheid heelhartig.