Berugte R30-pad finaal gesluit om brug te bou

Die berugte R30-pad (Foto: Vrystaatse regering)

Die R30-pad tussen Allanridge en Welkom is finaal gesluit sodat ʼn brug gebou kan word nadat nagenoeg 30 mense reeds vanjaar op dié pad dood is.

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, het die pad Woensdag saam met verskeie LUR’e besoek.

William Bulwane, LUR vir polisie, paaie en verkeer, het tydens die besoek bevestig dat die stuk pad van sowat 1 km, wat ʼn verlegging oor ʼn waterpan is, nou finaal gesluit word sodat ʼn brug gebou kan word.

Ntombela het ʼn beroep op motoriste gedoen om die stuk pad te vermy en van alternatiewe roetes gebruik te maak.

“Ek is ingelig dat byna 30 mense tot dusver hul lewe verloor het. Die mees onlangse slagoffer het verlede week haar lewe verloor toe haar motor in die dam gesink het.

“Wat ook hartseer is, is dat motoriste die naamborde en ander materiaal wat gebruik word om die pad te sluit verwyder en sodoende hulself aan ernstige gevaar blootstel.”

R34 ook verder opgeknap

Sisi Ntombela (Foto: Vrystaatse regering)

Ntombela en Bulwane het ook vroeër die week die R34-pad tussen Hoopstad en Bloemhof besoek.

Bulwane het erken paaie in die Vrystaat is nie in ʼn goeie toestand nie en dat die R34-pad een van dié paaie is.

Hy het beloof dat die departement die 12 km lange stuk pad sal regmaak en dat ʼn aangestelde kontrakteur teen 19 September met fase 2 sal begin om die pad te rehabiliteer. Fase 1 is reeds voltooi.

Die projek sal na raming R60 miljoen kos. Die departement het intussen ook onderneem om slaggate in die gebied te begin vul.

Ntombela het beklemtoon dat dit nie reg is dat mense voortdurend hul lewe in gevaar stel terwyl hulle paaie moet gebruik wat nie op standaard is nie. Sy het ook gesê sy sal verseker dat alle LUR’e hul werk behoorlik doen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Chris dupreez ·

Hoop maar daar word n behoorlike oudit gedoen op die spandeer van die geld

Marius ·

Nou wat van die res van ons paaie of is dit potgat roetes ?

Barend ·

Mens moet maar die slaggate gebruik as verskoning om ‘n 4×4 voertuig te koop

Pieter ·

Taamlik belaglik om so geld te vermors. Wat van ‘n ordentelike padfondasie en deeglike afsperrings langs die pad sodat voertuie nie in die water kan beland nie. Nog beter is ‘n pad om die pan. Pad deur die pan oortree die Waterwet en bring geotegniese probleme mee.

Robert ·

Presies my punt, koppe moet rol oor die goedkeuring daarvan.

Pokkels ·

Hulle het tyd nodig om te bepaal tussen wie die 60miljoen rand verdeel gaan word vir eie gewin

anniekiewiet ·

Snaaks dat hulle iets probeer voorgee, net nadat die video van iemand oor daai (gewese) stuk pad naby Bloemhofdam die sosiale media deurkruis het. Die Vrystaatse regering se hogere mense is ongelooflik useless, maar as hulle n dorp besoek, dan moet n spul jongmense gate opvul en sypaadjies skoonmaak asof dit uit die mode gaan. Kan hulle nie vir n slag onverwags besoeke aflê nie?

ABDP ·

Tjo hoekom wag sy tot 30 mense in een jaar (nee 6 maande) maande dood gaan voordat sy besluit nou regverdig di ‘n brug.

Maritza ·

Wonder net hoekom daar eers mense moet dood gaan voordat die regering doen waarvoor ons belasting geld gaan

Papsak ·

Hoop net hulle gaan goeie brug bou wat sal hou en nie in een stort as daaroor gery word nie

Robert ·

Nog ‘n bewys dat die politici in beheer niks voel vir die burgers vandie provinsie. Die pad was ‘n ramp en my vraag hoe is dit goedgekeur? Deur wie? Daardie persone is verantwoordelik vir al die lewens wat verloor is en moet aan die pen ry.

janeee ·

Die pad van Vrede – Memel – Newcastle is al baie jare in ‘n uiters swak toestand. Menige mense reeds gesterf na ongelukke op die pad maar steeds word daar niks aan gedoen nie…..
Ons kinders moet die pad ry Universiteite toe???

Eden ·

Ek sou die berig laat stop het in die helfte van die eerste sin: die R30-pad is finaal gesluit.

anniekiewiet ·

Ek hoor van n nootlottige ongeluk gister op die Bloemhofdam se brug en mense moes n wye ompad ry, maar daardie ompad net soos die pad tussen Schweizer en Wolmaranstad is net so onrybaar soos meeste ander paaie. Enigeen sukkel om met n knopkierie daar te stap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.