Berugte ‘renosterstropery-baasbrein’ dood in koeëlreën

Petrus Mabuza. (Foto: Saving the Wild)

Een van die mees berugte mans in die onderwêreld van renosterstropery in Mpumalanga is Donderdagmiddag in ʼn koeëlreën in sy geparkeerde voertuig dood.

Die polisie het bevestig ʼn 57-jarige man, wat vroeër in hegtenis geneem is op verskeie aantygings rakende renosterstropingsake, is in sy bakkie in die parkeerterrein van ʼn winkelsentrum in Hazyview doodgeskiet.

Die oorledene se naam is nie deur die polisie bekend gemaak nie, maar volgens ingeligte bronne is dit Petrus Sydney Mabuza, die vermeende baasbrein van ʼn reuse-renosterstroperysindikaat in Mpumalanga, wat die slagoffer van die aanval was.

Volgens brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het die oorledene Donderdagmiddag in sy Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie in die parkeerterrein gesit toe minstens drie gewapende verdagtes in ʼn swart VW Polo op die bakkie losgebrand het.

“Hy is na ʼn hospitaal gehaas waar hy aan sy beserings beswyk het. ʼn Bejaarde vrou is tydens die skietery in haar onderlyf getref en sy herstel tans in ʼn hospitaal.”

Mabuza, ook bekend as “Mr Big”, is al verskeie kere op aanklagte wat met renosterstropery verband hou in hegtenis geneem. In Julie 2018 is hy op borgtog van R250 000 vrygelaat. Hy is daarna weer in hegtenis geneem en in November 2018 is hy op borgtog van R90 000 vrygelaat.

Die Valke het destyds met Mabuza se inhegtenisneming gesê daar is beslag gelê op luukse voertuie en motorfietse, vragmotors, ʼn onbevestigde bedrag kontant, diervelle en ʼn groot aantal vermoedelik gesteelde items, waaronder sleepwaens, kragopwekkers en verskeie elektroniese toestelle. In die ondersoek het beamptes hulle toegespits op die voorsieningketting van gestroopte renosters in die Krugerwildtuin, KwaZulu-Natal en Gauteng asook in privaat en staatsreservate.

Lede van die sindikaat het glo stroopgroepe bedryf met behulp van korrupte polisiebeamptes asook [die bestuur van] privaat wildreservate. Die misdadige aktiwiteite is glo baie deeglik beplan en blykbaar uitgevoer met paramilitêre dissipline en teenintelligensie-optrede om blootstelling te voorkom. Die horings wat so verkry is, is glo vir die hoogste prys op markte in Gauteng verkoop en dan na Suidoos-Asiese markte versprei.

In Maart 2020 in aanloop tot Mabuza se verhoor is lt.kol. Leroy Bruwer (49), ʼn speurder van die Valke, in ʼn beweerde sluipmoordaanval doodgeskiet. Bruwer was een van die Valke se prominentste ondersoekbeamptes in die stryd teen renosterstropery. Daar word vermoed dat Mabuza moontlik by die moord betrokke was.

Volgens Hlathi is die motief vir die moord in dié stadium nog nie bekend en is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Genl.maj. Thulani Phahla, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die skietvoorval ten sterkste veroordeel. “Niemand het die reg om ʼn ander mens se lewe te neem nie, ongeag die redes. Ons is optimisties dat lede van die gemeenskap inligting met die polisie sal deel, sodat die skuldiges aan die pen sal ry,” het Phahla gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Snowball ·

Sy mond is gesnoer deur die benoude manne wat bo in die slagtingshiërargie sit. Renosters dra nie gewere nie.

marius ·

“met die hulp van korrupte polisie bemptes” . Dis genoeg gese .

marius ·

Niemand het die reg gehad om Leroy Bruwer se lewe te neem en sy familie se lewens te verwoes nie .

Elinette ·

Kommenteer jy nie op verkeerde artikel nie? Na bewering is dit ene Petrus Mabuza wat hier doodgeskiet is.

Leana ·

Marius ek stem saam met jou. Elinette Petrus Mabuza was een van die verdagtes as ek reg kan onthou wat te doen gehad het met Leroy Bruwer (van die valke) se moord. Leroy Bruwer was besig met ondersoeke oor die renosterstropery.

blackbird ·

Petrus Mabuza…………renoster stroper
Jabu Mabuza…………..Eskom plunderaar
David Mabuza……………SA adjunk president, hoe toevallig dat die Mabuza’s die nuus oorheers hierdie week?

Skillie ·

David is ook in n korrupsie saak betrokke van R30 miljoen te doen met Eskom

Henri ·

Ek verstaan nie hoe werk die reg en borg nie. As hy op R250 000 borg vry gelaat is en weer in hegtenis geneem is en dan op ‘n skrale R90 000 borg vrygelaat is, beteken dit hoe meer jy in hegtenis geneem word, hoe groter raak jou afslag op borg?

Cherokee ·

Waarskynlik is die polisie nie die enigstes in die regwêreld wat korruptes huisves.

Menan ·

En hulle het soveel bewyse teen hom gehad en elke keer borgtog toegestaan … liewe genade. Dom.

Pablo ·

Maar hy is vry op die straat en nie in die tronk nie. Klink soos die Mafia.

Vernon ·

Hoe se hulle in Eng..” if you live by the sword you……

Hennie ·

Selfs die VW Polo se kleur is polities korrek. Beslis ‘n staatsvoertuig wat gebruik is om ‘n groot mond te snoer!

Blikkies ·

Beste Generaal. Die Probleem is Skuldiges ry nooit aan die pen nie. Hoe kon julle toelaat om die stroper koning weer borg te gee op ‘n soortgelyke klagte as julle weet hy gaan dit weer doen. Ek het geen simpatie met sy dood nie, of sy vriende en familie nie. Almal het om die bierpot gedrink met die bloedgeld. Dit moes lankal gebeur het. Nou het geregtigheid geskied.

Jack ·

As die amptelike regstelsel faal dan neem vigilante reg oor. In elk geval, die sedige uitsprake van politici en hoë polisie amptenary dat niemand die reg in eie hande mag neem nie klink maar hol as jy dink hoe baie boere gedurende die ANC se bewindstyd op plase vermoor is en daar geen veroordeling daarvan van regeringskant kom nie, laat staan nog kragdadige optrede om die moordenaars vas te trek en te verhoor.

Danie ·

Wonder of sy neus ook afgesny is en Sjina toe gestuur is???

Madz ·

nou verstaan ek ook nie…. as hy nou al op SOVEEL aantygings SKULDIG bevind was in verlede – hoe de heck het hy dan nog vry rondgeloop….?

Hennie J ·

n Bekende misdadiger wat vry rondgeloop het. Hoe de duiwel is dit moontlik? Al loop die leuen so snel, die waarheid agterhaal hom wel.

Andrew ·

En die wapen wat gebruik was, is natuurlik ge-lisensieerd vir self-verdediging

Oom Hennie Pennie ·

Karma? Boendoe geregtigheid? If you live by the sword, then you die by the sword?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.