Beseerde brandbestryders benodig spesialissorg

Brandbestryders spook om die vlamme in die omgewing van Jonkershoek te blus. (Foto: Stellenbosch Munisipaliteit/Twitter)

Die twee brandbestryders wat beserings opgedoen het in die veldbrand wat in die berge in die omgewing van Stellenbosch en Franschhoek woed, is ernstig beseer en sal na hospitale met spesialisgeriewe oorgeplaas moet word.

Jo-Anne Otto, woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, het Saterdagmiddag gesê brandbestryders het intussen goeie vordering gemaak om die veldbrand onder beheer te bring.

Brandbestryders sal wel weer deurnag moet spook om die vlamme te blus en enige opvlammings te bestuur. Nog geen ander beserings of skade aan eiendom is in dié stadium aangemeld nie.

Volgens Otto kon lughulpbronne vandag weens gunstige windtoestande ingespan word om die sporadiese brandlyn in die hoër pieke van Bothmaskop tot by die Helshoogtepas te blus.

’n Kleinerige brand woed egter steeds op die piek bo Banhoek. Dié brand is onbereikbaar en waterbronne sal weens die steil kranse in die omgewing geen verskil maak nie. Die brand wat tans in die vallei onder Jonkershoek woed, bied ook in dié stadium ʼn groot uitdaging om te blus.

Brandbestryders sal vanaand op dié gedeeltes fokus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mieke ·

Baie sterkte aan die twee beseerde brandweermanne, ons dink aan julle en wens julle vinnige beterskap. Dankie vir julle opofferinge vir die gemeenskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.