Beskuldigde laat vaar borgtog in Chevonne Rusch-saak

Stefan van Niekerk in die Germiston-landdroshof. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die man wat van die moord op ʼn kleuter van Germiston aangekla word, het Woensdagmiddag sy borgtogaansoek ten aanskoue van ʼn stampvol landdroshof laat vaar.

ʼn Nekdoek het die grootste gedeelte van Stefan van Niekerk se gesig bedek en hy het met niemand oogkontak gemaak terwyl hy in die beskuldigde bank gesit het nie. Chevonne se pa, Bradleigh Rusch, was ook in die hof en met tye sigbaar emosioneel. Hy het ʼn pienk keps ter nagedagtenis aan sy dogtertjie gedra.

Maroela Media het vroeër berig dat Chevonne by ʼn kliniek in Klopperpark dood verklaar is nadat die beskuldigde haar glo na dié kliniek gebring het. Volgens die polisie het die dogtertjie verskeie kneusplekke aan haar lyf gehad. Die oorsaak van haar dood is egter nog nie bekend gemaak nie.

Betogers buite die Germiston-landdroshof. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Van Niekerk was aan Chevonne se ma, Rochelle Botha, verloof. Maroela Media het verneem dat Chevonne ten tyde van haar dood onder Botha en Van Niekerk se toesig was.

Betogers wat van vroegoggend buite die hof saamgedrom het, was verheug oor die nuus dat Van Niekerk nou tot 19 Julie in aanhouding sal bly totdat hy weer voor die hof moet verskyn.

Die betogers, die meeste in pienk geklee, het met plakkate en baniere buite die hof gestaan en aangedring dat Van Niekerk borgtog geweier word.

Hulle dring ook aan dat geregtigheid vir Chevonne geskied.

“Ons is kwaad, ons is baie kwaad. Hier is baie emosies hier,” het Annari du Plessis, aktivis en stigter van die Go Purple Foundation, gesê.

“Kinders word daagliks vermoor. Ons voel dat die stelsel ons kinders faal. Mense hier weet hoe dit voel om te kla oor ʼn kind wat in nood is, maar daar gebeur niks nie.”

Bradleigh Rusch en sy meisie, Susan Viljoen. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Bradleigh het buite die hof aan Maroela Media gesê dat Chevonne – of Vonnie soos hulle haar genoem het – sy “alles” was.

“Sy was die liefde van ons familie.”

Hy vertel saam met sy tannie, Katherine Rheeder, dat Chevonne lief vir musiek was en dat sy behoorlik kon dans.

Sy kon ook laf wees en sommer twee fopspene op een slag in haar mond druk, onthou Rheeder. Sy het lank na Chevonne gekyk en sê dat die dogtertjie haar in ʼn stadium “Mammie” genoem het.

“Sy kon ʼn regte nar wees,” sê Rheeder.

Betogers buite die Germiston-landdroshof. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Dan skop die hartseer weer in.

Die familielede sê hulle wens hulle kon haar beskerm het teen die persoon wat haar lewe kortgeknip het.

“Ek is jammer dit het met jou gebeur, en ek het jou lief met my hele hart,” het Bradleigh hartseer gesê.

Botha was ook Woensdag by die hof, maar het nie self die hofverrigtinge bygewoon nie. Sy het haar eenkant gehou en ook ʼn koeëlvaste baadjie aangehad.

Verskeie betogers het ook beledigings en beskuldigings na haar kant geslinger. Botha wou nie met lede van die media praat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Delia ·

Jammer die dogtertjie kon ook nie n koeëlvaste baadjie dra im haar teen die slae beskerm nie. Waar was die ma..en die biologiese pa. Het niemand regtig van niks geweet en net sommer op n dag…word sy mishandel tot sy dood is

Alma ·

Die dogtertjie het blykbaar by die pa se familie gebly tot die ma so 6 weke voor haar dood, haar vir n naweek gaan haal het en net nooit weer terug gevat het nie. Maar ja op die stadium weet mens nie meer wat waar is nie. Punt is meer moes gedoen gewees het om hierdie kleintjie te beskerm.

Nella ·

Die pa was in die tronk, maar weet nie hoe lank voor haar dood is hy uit nie. Maar dit was blykbaar vir diefstal

Casper ·

Delia,ek stem volkome saam met jou.Het haar ma haar nooit vasgebout en die kneusplekke gesien nie.Het sy nooit eina gesê as haar ma haar optel nie.Het haar biologiese pa nooit iets agter gekom nie.Of het hy hy haar net die dag van haar dood so wreedaardig aaangerand.Toe hy by die kliniek opdaag toe is sy dood verklaar,dan moes die aanranding erg gewees het,so sy is al by die huis verlos van die pyn wat sy moes verduur.Ek hoop nie hy het haar verkrag ook nie.

Swerwer ·

Die ma is net soos skuldig soos die wese wat die arme onskuldige lyfie vermoor het. Die ma behoort saam met die wese in die regsbank te staan

Cecilia ·

Waarom staan die ma nie langs hom as beskuldigde twee nie?

Di ·

SKUIM van die aarde! Ek hou die MA net so aanspreeklik vir hierdie klein engeltjie se dood! Watse tipe MA is jy as jy nie kan opstaan vir jou eie vlees en bloed nie? Hoe kyk jy toe dat ‘n man dit aan jou kind doen? Hoop julle ALTWEE kry wat julle toekom, TRONKSTRAF

Nettie ·

Kan nie glo dat die ma nie geweet het waardeer haar kind gegaan het nie.Het sy maar net weg gekyk terwyl die verloofde haar kind aanrand,mishandel.Sy hoor ook in die tronk.

Chillipepper ·

In ander berig sê dit die biologiese pa kom nou onlangs uit rehab. Ma en verloofde glo ook dwelmgebruikers en is van die ander kinders al uit haar sorg geneem gewees, so hoekom hulle terug geplaas is in hul sorg, sal net die patetiese regstelsel kan verduidelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.