Bessie-uitvoerders bekommerd oor Transnet-staking

Bloubessies (Foto: Pixabay)

Die bessie-seisoen is nou in sy piektyd, maar die staking wat gister by Transnet se hawens begin het, voorspel niks goeds vir die boere wat dringend hul produkte op skepe moet kry nie. Boonop bedreig die aksie glo 30 000 werksgeleenthede in die bessiebedryf.

Dié staking het daartoe gelei het dat die hawe-owerheid ʼn force majeure vir alle Suid-Afrikaanse hawens verklaar het.

Justin Mudge, voorsitter van BerriesZA het ʼn dringende skrywe aan ministers en die Transnet-bestuur gerig om hulle te versoek om dringend in te gryp.

“Selfs ʼn enkele dag waarop die hawens nie werk nie, het ʼn beduidende uitwerking op die hele bessiewaardeketting, wat sal meebring dat miljoene rande in uitvoerinkomste verlore gaan,” sê Mudge.

In ʼn verklaring voer dié bedryfsorganisasie aan dat die jongste staking net nog meer skade aan die bedryf aanrig, wat ook ernstig geraak word deur voortdurende operasionele probleme by die land se hawens weens verouderde of stukkende infrastruktuur en toerusting, ondoeltreffende stelsels en personeeltekorte.

“Verskepings wat vertraag word weens die probleme op die hawens beïnvloed die gehalte van die bessies wat buitelandse markte bereik, wat daartoe gelei het dat meer produkte deur kliënte  afgekeur word – verlede jaar se waarde was ʼn ongekende kwartmiljard rand.

“Wat hierdie probleem vererger is ʼn styging in insetkoste wat deur boere in die gesig gestaar word, insluitend ʼn styging in kunsmis- en brandstofpryse sowel as stygende vervoertariewe,” voer hy aan.

Mudge sê die gevolg daarvan is dat meer as ʼn derde van plaaslike bessieboere tans nie winsgewend is nie, wat beteken dat hul voortbestaan, asook die lewensbestaan ​​van die mense wat hulle ondersteun, ernstig bedreig word.

“Die jongste staking kan die laaste spyker in die doodskis vir bessieboere wees wat ook ʼn gaping in die jaar vir die arbeidsektor vul, omdat hul oesseisoen van September tot November strek, voordat die vroeë steenvrug- en tafeldruif-oesseisoen begin.”

Transnet het die afgelope drie dae terugvoer aan die bedryf gegee oor sy onderhandelinge met die vervoervakbond Untu en die South African Transport and Allied Workers Union (SATAWU) en hulle verseker dat die situasie onder beheer is.

Mudge sê dit lyk egter nie so nie.

“Untu en Satawu se besluit om ʼn staking van stapel te stuur en Transnet wat ʼn force majeure verklaar het, toon duidelik dat die hawe-owerheid nie beheer oor die situasie het nie. Daar is ook nie ʼn aanduiding van wanneer hierdie dooiepunt sal eindig en of gebeurlikheidsplanne in plek gestel gaan word nie.”

BerriesZA het ʼn vergadering met Transnet se bestuur versoek om bepaalde gebeurlikheidsplanne te bespreek wat dringend ingestel moet word om die voortgesette beweging van bessies deur die hawens te verseker. Daar is ook ʼn skrywe aan Pravin Gordan, minister van openbare ondernemings, Thoko Didiza, minister van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming en Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging gerig wat ʼn dringende ingryping versoek om die impak van die huidige staking te versag en om te verseker dat die huidige loongeskil so gou moontlik opgelos word.

“Dit is absoluut krities om die winsgewendheid en volhoubaarheid van honderde bessieboere en die werksgeleenthede wat hulle bied oor die kort termyn, sowel as die langtermyngroei van die bedryf te verseker. Hierdie seisoen sal na verwagting minstens R3 miljard se uitvoerinkomste tot die plaaslike ekonomie bydra,” sê Mudge.

“Die situasie is onhoudbaar, en tensy daar nie dringend opgetree word nie, sal die regering aan honderde mense moet verduidelik waarom hulle nie werk het nie weens hul onvermoë om betyds op te tree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

vuurvliegie ·

Dis goeie nuus vir die gewone verbruiker. Al ons top produkte word uitgevoer sonder dat ons as gebruikers kan voordeel trek.

Leana ·

Probleem is hulle gaan dit eerder in die hawe laat lê en vrot as wat hulle dit aan ons verkoop.

Manie ·

Die regering voel vere vir werkloosheid, wanneer mense afgelê word weens stakings ens, sal die blaam weer op die arme werkgewer geplaas word.

Kokerboom ·

Dankie aan ANC 100% toegewy aan absolute vernietiging van ekonomie

Vettiemaragartos ·

Weet ons regering wat beteken force majeure????? Hierdie is nie ‘n Act of God nie. Dis onnoselheid wat die chaos veroorsaak.

Di ·

Dan moet hulle maar gaan aansoek doen vir grants nes die ander 80 persent in die land

Francois ·

Die werkgewers skroef die werknemers, en die werknemers skroef die werkgewers, en die arme Jan Publiek ly daaronder. Kan ons nie maar RSA kanselleer en van vooraf begin nie?

quartus ·

EK DINK DIE SKRYWER VAN DIE ARTIKEL BEDOEL ” ONDOELTREFFENDE PERSONEEL BY DIE HAWENS “

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.