Beurtkrag: Fase 6 opgeskort

(Argieffoto: Unsplash)

Fase 6-beurtkrag sal nie meer Vrydagaand ingestel word nie nadat Eskom aangekondig het dat daar ʼn laer vraag na elektrisiteit is as wat hy aanvanklik verwag het.

Fase 4-beurtkrag sal nou tot 22:00 geld.

Die kragvoorsiener het vroeër aangekondig dat fase 6-beurtkrag vanaf 05:00 ingestel sou word, maar later aangekondig dat dit eers later Vrydag van krag sou wees. Dít was weens die voortslepende staking, wat Eskom nou reeds dae lank lamlê.

Eskom het egter Vrydagmiddag gesê dat beurtkrag ná 22:00 na fase 2 afgeskaal sal word, wat dan tot 07:00 Saterdag sal geld. Hierna sal fase 4-beurtkrag tot 22:00 Saterdag van krag wees. Dieselfde fases gedurende dieselfde tydgleuwe sal ook vir Sondag geld.

Die kragvoorsiener het te midde van die welkome nuus gewaarsku dat die verminderde beurtkragfases slegs is vanweë die feit dat die vraag na krag oor naweke aansienlik laer is as deur die week.

“Ons sal voortgaan om die situasie te monitor en die stelsel fyn dop te hou,” het Eskom in ʼn verklaring gesê.

“Enige veranderinge in die kragnetwerk sal bekendgemaak en geïmplementeer word soos nodig.”

Eskom staan in dié stadium minstens 3 104 MW af aan beplande instandhouding, terwyl hy sonder ʼn bykomende 17 431 MW moet klaarkom weens onbeplande onderbrekings.

“Eskom wil lede van die publiek opnuut daaraan herinner dat beurtkrag slegs ingestel word as ʼn laaste uitweg om die nasionale kragnetwerk te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anel ·

Ons jry beurtkrag dan kan julle defnitief nie van ons verwag om ‘n verhoging te aanvaar nie. Hoe betaal ‘n mens meer vir iets wat jy die helfde van die tyd nie het nie? Dis gewoon diefstal.

Henri ·

“Eskom staan in dié stadium minstens 3 104 MW af aan beplande instandhouding, terwyl hy sonder ʼn bykomende 17 431 MW moet klaarkom weens onbeplande onderbrekings.”

Hierdie gaping word net groter en groter en die verskonings word net heeltyd aangepas by die omstandighede van die dag, hetsy die weer, stakings, duurder brandstof, oorlog in Oekraïne, ensovoorts.

Frank John ·

Die government moet hul sokkies optrek en as hulle besef hul kannie die land reg regeer nie dan moet hulle opsy staan sodat die wat kan kan red wat nog te redde is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.