Bizos nou eers volgende jaar verhoor

Monique van Oosterhout (Foto: Verskaf deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid)

Die verhoor van Alexis Bizos wat glo sy vervreemde vrou aangerand het, sou Dinsdag in die Johannesburgse landdroshof begin het, maar is tot volgende jaar uitgestel. Bizos is die seun van die befaamde adv. George Bizos, ʼn bekende kampvegter vir menseregte.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat Bizos se vrou Monique van Oosterhout verteenwoordig, sê die verhoor sal nou volgende jaar op 23 Februarie begin, nadat Bizos skielik besluit het om nuwe prokureurs aan te stel.

“Ons was gereed om vandag met die verhoor voort te gaan en het reeds met getuies gekonsulteer. Dit blyk egter dat die beskuldigde vertragingstaktieke inspan met die hoop dat hierdie saak sal verdwyn,” sê Natasha Venter, adviseur by die privaatvervolgingseenheid.

Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by die privaatvervolgingseenheid, het Dinsdag namens Van Oosterhout verskyn.

Vorster het dit op rekord geplaas dat, hoewel ʼn nuwe verhoordatum vasgestel is, die beskuldigde se nuutaangestelde advokate in Februarie betrokke is by geregtelike doodsondersoeke rakende die Life Esidimeni-voorval. Die privaatvervolgingseenheid is óók hierby betrokke.

Die kans bestaan dus dat Bizos se saak wéér uitgestel sal word.

Venter sê die eenheid sal egter nie toelaat dat die verhoor verder vertraag word nie en fokus nou daarop om te verseker dat dit wel in Februarie sal voortgaan.

“Ons erken ʼn beskuldigde se reg op die regsverteenwoordiger van sy keuse, maar hierdie reg kan nie gebruik word om ʼn saak onredelikerwys te vertraag tot nadeel van die slagoffer en die breër gemeenskap nie.”

Maroela Media het vroeër berig dat Bizos na bewering Van Oosterhout in 2015 aangerand en ses van haar ribbes gebreek het.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik geweier om hom te vervolg, maar het in 2018 hul deuntjie verander toe AfriForum aansoek gedoen het vir ʼn nolle prosequi-sertifikaat om Bizos te vervolg.

Bizos is daarna genooi om vertoë aan die NVG te rig, voordat die vervolging ingestel sou word. Ná ontvangs van Bizos se vertoë het die NVG weer eens besluit om nie te vervolg nie.

Van Oosterhout het kort daarna weer aansoek gedoen om ʼn sertifikaat om hom privaat te vervolg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JM ·

Al hoe meer aangeklaagdes volg deesdae Zuma se voorbeeld van vertragingstaktiek, met die hoop dat hul sake sal verdwyn. Hoop Bizos kry die straf wat hom toekom!

marius ·

Die eenheid sal nie toelaat dat die verhoor verder vertraag word nie ? Hoe ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.