Bome in Kaapstad verwyder oor stompkopkewers

Volwasse wyfie van die Stompkopkewer (Euwallacea fornicatus) (Foto: Dgomezuf, eie werk via Wikimedia Commons)

Die Kaapstad-munisipaliteit sal vandeesweek begin om bome, wat deur ʼn indringerplaag geteiken is, te verwyder.

Daar is wetenskaplik bewys dat dit die enigste manier is om van die stompkopkewer (polyphagous shot hole borer) ontslae te raak en te verseker dat die pes nie na ander gebiede versprei word nie.

Maroela Media het vroeër berig Suid-Afrika kan oor die volgende tien jaar 65 miljoen bome kwyt wees en meer as R200 miljard moet opdok weens ’n indringerplaag wat bome teiken en reeds oor agt van die nege provinsies in Suid-Afrika versprei het.’n Studie deur die Universiteit van Stellenbosch (US) in samewerking met die Universiteit van Pretoria (UP), het bevind dat die stompkopkewer (polyphagous shot hole borer) reeds derduisende bome geïnfekteer het. Dit het reeds te wyd versprei om heeltemal uit te roei en dus kan die verspreiding bloot bestuur word. Die koste verbonde daaraan om geïnfekteerde bome te vernietig, asook om koolstofdioksied wat normaalweg deur dié bome uit die atmosfeer verwyder sou word, op ʼn ander manier te verwyder, word op R274 miljard geraam.

Die stompkopkewer is ’n indringerplaag wat bome infekteer en in 2012 vir die eerste keer in Suid-Afrika opgemerk is. Dit het sedertdien na agt van Suid-Afrika se nege provinsies versprei, wat dit tans die grootste uitbreking van hierdie indringerplaag wêreldwyd maak.

Eddie Andrews, adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewingsake, sê die eerste Boxelder-esdoringbome sal Woensdag in die strook langs die Liesbeekrivier, naby die N2-snelweg en Liesbeekparkweg verwyder word. Toegang tot dié gebiede sal beperk word terwyl die werk met kettingsae en houtkapmasjiene gebruik word. Sodra die bome afgekap is, sal die massa na ʼn toepaslike perseel verskuif word om verbrand te word.

“Dit is baie jammer dat dinge só uitgedraai het. So waardevol as wat ons bome is – meeste van hulle is dekades ouer as ons – het ons ongelukkig geen ander keuse as om die geïnfekteerde bome af te kap nie in ʼn poging om die indringerpes in sy spoor te stuit en ander bome van dieselfde lot te spaar,” voeg Andrews by.

Die verwydering van die Boxelders op stadsgrond langs groot vervoerweë sal geprioritiseer word, omdat dit die grootste bedreiging inhou vir die verspreiding van die PSHB na ander dele van Kaapstad.

Teen 6 Maart 2023 het die stad reeds 191 geïnfekteerde bome aangeteken (104 op stadsgrond en 87 op privaat eiendomme in die suidelike voorstede). Gebiede wat hierdeur geraak word, is Nuweland, Kenilworth, Mowbray, Rondebosch, Observatory en Wynberg.

“Ons sal nie al die geïnfekteerde bome op een slag verwyder nie. Ons sal wel bome, wat die ergste hierdeur geraak word, of bome wat reeds besig is om dood te gaan en ʼn veiligheidsrisiko vir mense en eiendom inhou, prioritiseer.”

Op 10 Maart sal Andrews deelneem aan ʼn boomplant-inisiatief waartydens ʼn boomvervangingsprogram van stapel gestuur word. Dié program is vrywillig vir inwoners wat graag wil deelneem terwyl die formele boomvervangingsprogram gefinaliseer word.

Die munisipaliteit sal ʼn lys van aanbevole bome en geskikte gebiede op die dag aan die publiek uitreik. Dit is inheemse bome wat nie bekend is daarvoor dat die PSHB hulle teiken nie.

Die munisipaliteit sal oor die volgende paar maande nog bome aanplant en inligting oor die program beskikbaar maak.

“Die pes hou ʼn ernstige bedreiging in, maar daar is baie dinge wat ons kan doen om die impak daarvan op ons plaaslike omgewing te beperk,” sê Andrews. “Met winter om die draai wil ek inwoners maan om baie versigtig te wees waar hulle hul hout vir kaggels vandaan kry, en om die hout te koop waar jy dit gaan gebruik. Dit geld ook vir wanneer jy ʼn braai beplan. Ondersoek ook die bome op jou eiendom vir simptome van infestering en meld enige probleme by die munisipaliteit aan. Maak asseblief ook gebruik van tuiniers en plaaslike ondernemings wat vertroud is met PSHB-protokol. Moenie vir fop-redmiddels val nie. Daar is tans nog nie enige geneesmiddel nie. En die belangrikste van alles, plant inheemse bome wat dié kan vervang wat ons oor die volgende paar maande gaan verloor.”

Moets en moenies:

  • Moenie enige plant- of boommateriaal skuif van gebiede waar gevalle van PSHB bevestig is nie, soos Somerset-Wes, Nuweland, Kenilworth, Mowbray, Rondebosch, Observatory en Wynberg.
  • Wanneer jy plantmateriaal hanteer, ondersoek die boom vir simptome van PSHB.
  • Maak tuintoerusting skoon voor en ná gebruik en ontsmet voertuie wat gebruik is om groen afval mee te vervoer.
  • Vervoer groen afval in geslote en verseëlde sakke, of bedek die agterkant met ʼn seil.
  • Vermy gebiede waar PSHB bevestig is.
  • Koop brandhout waar jy dit gaan gebruik.

Wees op die uitkyk vir dié simptome:

  • Takke wat doodgaan, krake op die takke, verkleurde blare, droë en blaarlose takke, takke wat afbreek wys webbe gevul met ʼn swart fungus
  • Stukke vloeistof en gom wat uit die bas of kewergate peul
  • Ingang- en uitganggate – baie klein gaatjies op die bas van die boom; so groot soos ʼn sesamesaad (2 mm); haelgeweer-tipe letsels rondom die gate
  • Bruin of donker vlekke op die bas van die boom.

Baie belangrik: Geïnfekteerde bome moet op die perseel afgekap word en mag nie van die eiendom verwyder word nie, aangesien die verwydering van die afgekapte hout die pes na ander gebiede kan versprei.

Só meld jy PSHB-gevalle aan:

Die munisipaliteit sal sy bes doen om binne 10 werksdae te reageer op ʼn besigtiging. Die reaksietyd hang egter af van die hoeveelheid besigtigings wat aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

FM ·

Dis so jammer dat ons mooi land met lieflike bos hierdeur besmet is. Veral ons sagtehout soos geliefde Krematart mag seblief nie uitgeroei word nie.

Frank ·

Ek kan nie glo dat NIE ‘n manier is om die bome te red nie. Agt van die nege provinsies, grootste verspreiding in die wereld…. Paar goggas is genoeg om ‘n nuwe verspreiding te veroorsaak (tweede gedeelte van sy naam is Fornicatus, sien ek….). Jy gaan later alle bome in die land moet afkap as daar nie ‘n beter manier gekry word om dit te bekamp nie.
Wat van iets soos Metasystox wat deur die wortels opgeneem word en deur die HELE stelsel versprei?

JohanR ·

Stad Kaapstad is soe lief om bome af te kap. Dit was eens ‘n wonderlike boom en woud stad, nou moet jy ver ry om by ‘n woud uit te kom.

Jacobus ·

Ek het hier in 2001 al n hout kameelperd by n buitelandse kunstenaar gekoop wat ek toe agterkom vervuil was met die kewers. Ek dink dit is hoe die kewers in SA beland het, met hout van oor ons grense. Terloops ek het vuur gemaak met die kameelperd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.