‘Brand ook nuttig in natuurreservaat’

Eddie Andrews saam met Roy Ernstzen, die stad se hoof van natuurbewaring in die oostelike streek. Ernstzen verduidelik hoe proteas sade vir hergroei vrystel. (Foto: Stad Kaapstad)

Die Helderberg-natuurreservaat in Somerset-Wes sal vir die volgende maand gesluit wees sodat ʼn biodiversiteitspan van die Kaapstad-metro brandskade kan bepaal en watter herstelmaatreëls nou ingestel moet word.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn brand wat Woensdag in die omgewing van die Lourensford-wynlandgoed ontstaan het, weer opgevlam en na dié reservaat versprei het. In die lig hiervan het die bestuur van die reservaat Saterdag besluit om die natuurreservaat eerder te sluit. Die brand is teen Sondag in bedwang gebring.

Die metro het Dinsdag in ʼn verklaring gesê dat sowat 280 ha in die reservaat gebrand het. Ekologies gesproke het die brand egter nie ʼn negatiewe uitwerking gehad nie aangesien die veld gereed was vir ʼn beheerde ekologiese brand.

DA-raadslid Norman McFarlane, Eddie Andrews en Roy Ernstzen in die Helderberg-natuurreservaat. (Foto: Stad Kaapstad)

“Die stad se biodiversiteitbestuurspan is tans nog besig om die skade aan die reservaat se infrastruktuur te bepaal. Daar kan egter bevestig word dat verskeie bankies, waterkeerwalle op roetes en ʼn gedeelte van die promenade om die eenddam deur die brand vernietig is,” het Eddie Andrews, onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing, gesê.

“Reservaatpersoneel sal oor die volgende paar weke aandag aan dringende erosiewerk skenk, en spesifiek daarop fokus om infrastruktuur soos omheinings en piekniekterreine weer veilig vir die publiek te maak.”

Andrews sê hoewel wegholveldbrande onbeplan is, bied dit tog die geleentheid vir verskeie intervensies ná so ’n brand. Dit sluit die verwydering van verouderde infrastruktuur en ander ongewenste materiaal in.

In die geval van die Helderberg-natuurreservaat was die brand ook ’n goeie katalisator om beplande ekologiese herstelaktiwiteite te bespoedig.

Uitheemse plante in die gebied kan ook nou beheer word aangesien hulle ná die brand ontkiem. Die span kan ook na die moontlikheid kyk om inheemse spesies in gebiede wat agteruitgegaan het te vestig.

Helderberg-natuurreservaat. (Foto: Friends of Helderberg Nature Reserve/Facebook)

“Die brand is verder ʼn belangrike ekologiese dryfveer en goed vir die bewaring van fynbosbiodiversiteit op die lange duur. Die fynbosplantegroei is van vuur afhanklik om sade en ondergrondse bergingsorgane te herontwikkel.

“Vir fynbos in die Kaapse Skiereiland is ’n brand elke 15 jaar ideaal.”

Andrews sê die meeste van die plantegroei in die gebied waar die brand in die reservaat gewoed het, was reeds 13 jaar oud.

“Daarom is goeie saadbanke gevestig om hierdie winter te ontkiem. Ons sien dus uit na skouspelagtige blombolvertonings in die reservaat in die lente.

“Fauna is ook aanpasbaar ten opsigte van brande. Meer beweeglike diere soos bokke en die meeste voëls kan van die vuurfront vlug terwyl knaagdiere, reptiele en baie ander klein soogdiere in gate of rotsagtige toevlugsoorde skuil. Ná brande word opvallend min dooie diere gevind, maar ongelukkig vrek sommiges – soos skilpaaie wat nie betyds skuilplek kon vind nie. Skilpadeiers wat begrawe was, oorleef egter.”

Andrews verduidelik dat die uitwerking van ʼn brand ernstiger is op gebiede met uitheemse plantegroei, aangesien diere nie ʼn veilige heenkome kan vind nie. Dié gebiede kan tot tien keer warmer word tydens ʼn brand. Heinings en stedelike grense kan ook beduidende hindernisse vir diere wees wat probeer vlug.

Die metroraad sê hy sal inwoners op die hoogte hou van verwikkelings in die reservaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Wis gou die berig uit want as munisipaliteite elders in die land die goeie nuus moet lees, nl dat brande goeie hoedanighede het, dan werk g’n brandweerwa meer nie. Dink net. Waarom word die storie telkens vertel van die voordele van brande van veld en bosse? Bome neem tot 30 jaar om groot te word en skaars plante verminder. Wat van diere wat sterf en ly? Wat ons darem nie alles as goed beskryf nie. Cannabis sal volgende aan roofdiere gevoer word om plastiek beter te verteer.

Colin ·

Lees die berig weer. Die voortbestaan van fynbos is afhanklik van brande op die regte tyd. En soos mnr. Andrews sê, daardie gedeelte van die reservaat het 13 jaar laas gebrand. ‘n Ophoop van brandbare materiaal wat tot wegholbrande lei is meer skadelik as beheerde brande. Sanparke gebruik al jare die praktyk

Samuel ·

Ons weet al vir honderde jare dat brande baie voordelig is vir fynbos. So, die sarkasme pas nie hier nie. Niemand sê brande is andersins goed nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.