Brink en span op sending om Tshwane te red

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Koalisieregering is rof. Daar word egter verwag dat die veelparty-koalisieregering in die Tshwane-metroraad (DA, ActionSA, VF Plus, ACDP, IVP en COPE) tot minstens 2026 sal hou.

Burgemeester Cilliers Brink het Woensdag gesê elkeen van die partye in die koalisieregering is te midde van die metro se vele uitdagings nog tot die koalisie verbind. “Daar is in hierdie stadium geen sprake daarvan dat enigiemand gaan onttrek nie.”

Brink het vanoggend tydens ’n gesprek van die Solidariteit Beweging die stand van sake in die hoofstad bespreek.

“Daar is ’n bereidwilligheid en welwillendheid [onder die partye] om die beste van die saak te maak,” het die burgemeester verseker.

Grandi Theunissen, VF Plus-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, het egter toegegee koalisieregering is nie maklik nie.

“Iemand het al gesê om in ’n koalisie te wees, is so bietjie soos om in ’n ongelukkige huwelik te wees, maar jy bly ter wille van die kinders,” het Theunissen geskerts.

Hy sê egter die huidige koalisie – spesifiek diegene wat op die burgemeesterskomitee dien – “werk goed saam”.

“Almal is toegewyd. Party meer as ander. Maar daar is regtig verandering. Die gesindheid is: Ons wil dien. Dís ons uitgangpunt: Om ons gemeenskap te dien.”

Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in Tshwane. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Nóg Brink nóg Theunissen het egter doekies omgedraai oor die vele uitdagings wat die Tshwane-koalisieregering moet oorkom.

“Ek sal baie graag vir julle wil sê dat die strate skoon, die werksmag produktief, die infrastruktuur goed onderhou, die metropolisie ferm, maar vriendelik en hulpvaardig, die balansstaat gesond en die toekoms redelik seker is.

“Maar ek is oplaas nie die burgemeester van Kaapstad nie,” het Brink gespot.

“Hier in Pretoria gaan dinge bietjie moeiliker.”

Brink sê dit nie omdat daar nié ’n politieke wil is om verandering in die hoofstad teweeg te bring nie.

“In baie gevalle is dit juis omdat daar baie mense is wat omgee en hard werk om die stelsel te verander, dat dinge tydelik erger word voor dit verbeter. Daar is ’n verbete poging om die Stad Tshwane reg te ruk.

“Ons is op ’n reddingsending.”

Die bestaande koalisie beskik tans oor ’n 50% plus een meerderheid in die stadsraad nadat die ANC in die plaaslike regeringsverkiesing van 2021 verder teruggesak het in die Tshwane-metro.

Brink verduidelik dat die meeste kernbesluite op plaaslike regeringsvlak nié deur die burgemeester geneem word nie, maar deur die stadsraad. Dit sluit in besluite oor die aanstelling, skorsing, afdanking en aflegging van die munisipale bestuurder en senior bestuurders, sowel as die goedkeuring van die begroting, ontwikkelingsplan, munisipale verordeninge en die bekragtiging van langtermynlenings.

Brink is egter deeglik bewus daarvan dat die huidige koalisie oor ’n “papierdun” meerderheid van twee beskik.

“Maar dit is ’n baie belangrike meerderheid van twee want daardie meerderheid is een van die kernbestanddele van ’n suksesvolle koalisie in ’n stadsraad.”

Argieffoto ter illustrasie van die afgelope paar maande se staking in Tshwane. (Foto: Tshwane-metro)

Brink sê die veelparty-koalisieregering in Tshwane deel “breedweg” dieselfde uitkyk wat rassigheid, die oppergesag van die reg, ’n bekwame staat en ’n vryemarkekonomie betref.

Die koalisieregering het ook breedweg dieselfde plan van aksie om die Stad Tshwane reg te ruk.

“Ons vermoë om die druk te weerstaan van drukgroepe wat invloed het in die ANC-alliansie, gaan wel ’n groot toets wees om te bepaal of ons koalisie gaan slaag,” sê Brink.

Met vrae gepeper

Brink moes vanoggend nie net vrae oor die huidige stand van die Tshwane-koalisieregering en die Samwu-staking antwoord nie, maar ook bontstaan om gewone Pretorianers se diensleweringsvrae te beantwoord. Die burgemeester is gepeper met vrae oor alles van stukkende verkeersligte tot openlike dwelmmisbruik in die stad se strate.

Brink en Theunissen het op elkeen van die vrae terugvoer gegee en in sommige gevalle onderneem om die kwessies op te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Gertdup ·

Ons staan bankvas agter Celiers Brink en glo as hy die kans gegun word Pretoria weer ñ stad sal word om op trots te wees.

Kokerboom ·

Ek be-aam Gertdup. Laat ons aanhou bid dat hy die omkeer in Tshwane kan bewerkstellig!!!

Lettie ·

Staan ook sterk saam met mnr Celliers Brink. Staan vas! Red Tshwane van onderdrukking.

gpsa ·

Nee wat, waar ek in Pta woor het ons plek onder die DA in ‘n ashoop verander. As daar vir die DA gevra word wat hulle aan die saak gaan doen is daar geen optrede of antwoord nie. Wens ek kon fotos plaas. My stem verseker verloor. Weet nog nie vir wie om te stem nie maar hulle is redelik heel onder.

Kokerboom ·

gpsa Lees asb wat Cilliers sê en neem kennis van uitsonderlike omstandighede
Wees dankbaar hul probeer. Moed opgee en Afrikaner dwarstrek gaan ons NERENS bring!

houopkruip ·

Cilliers Brink en koalisie doen ONDER OMSTANDIGHEDE baie goeie werk in Pta. Mense wat dit nie kan insien nie, moet weer skool toe.
Dis een ding om Pta te bestuur met minderheids partye en uiters diverse demografiese samestelling, in vergelyking met ‘n stad waar jy 70% stemme/verteenwoordiging het, en steeds nie op verskeie gebiede presteer nie (bv skaapstad, skelmbos).

Astrain ·

Ek dis-investeer in Tshwane…hulle gaan die arme Brink Cilliers nog ook BREEK want dis wat hulle doen, breek als!!! Ek verkoop als wat ek daar besit want die dienste rekeninge word al meer, die areas verval dus die huur word al minder – en rentekoerse styg en styg net. Nee wat, dis NODELOOS!!!

Pinoccio ·

@gpsa, ek is self effe naar maar die rede hoekom dinge slegter af is, is omdat die algemene werker die DA nie goedgunstig is nie en werk teen die norm om hulle juis te diskrediteer. Uiters moeilike situasie…

Johann ·

Terwyl jy so hard probeer, vra biekie rond in Peter Sutton se kantoor hoe lank en met hoeveel effort van oor en oor en oor vra, vat dit om jou geld terug te kry na die verkoop van ‘n eiendom? MAANDE!!!!!!!!!!!

KB ·

Ek dag ons het ʼn geldnood, ʼn elektrieseteits-krisis. Maar Pretoria/Tshwane se straatligte en gemeenskapsligte (Hammanskraal) is helder oordag AAN!
Begin bietjie julle werk REG doen vir ʼn slag!

Truman Burbank ·

Die feit dat koalisies gevorm kan word, wys juis watse klug is verkiesings.

Antoinette ·

Persone in beheer het ondersteuning nodig, nie kritiek nie. Ek haal my hoed af vir Cilliers en sy span. Ons het die wonderlikste DA raadslid in ons wyk wat letterlik agteroorbuig. Moenie almal oor dieselfde kam skeer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.