Broers vermoor toe hulle op Facebook-advertensie reageer

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

Twee broers is Saterdag koelbloedig doodgeskiet nadat hulle op ʼn advertensie op Facebook gereageer het en in ʼn lokval gelei is.

Die broers van St. Albans in Nelson Mandelabaai het gereageer op ʼn advertensie vir ʼn televisie op Facebook se Marketplace en is na ʼn huis in Motherwell waar hulle doodgeskiet is.

Die Oos-Kaapse polisie ondersoek die moord op Kyle en Aaron Alberts, onderskeidelik 30 en 19 jaar oud.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, is die broers omstreeks 12:20 Saterdag na die huis in Ceru-straat in NU 5 in Motherwell om die televisie op te laai.

“Die inwoners van die huis het gesê dit is nie hulle wat die advertensie geplaas het nie en dat hulle geen kennis dra daarvan nie. Terwyl hulle nog by die huis was, het twee verdagtes hulle genader en die broers beroof en doodgeskiet.”

Die broers se bakkie, selfone en kontant is gesteel. Die bakkie is later naby die toneel opgespoor.

Die provinsiale ondersoekeenheid vir ernstige en gewelddadige misdaad in Gqeberha ondersoek twee sake van moord.

Die polisie het die publiek gewaarsku oor die gevare verbonde aan aanlyn transaksies. “Ons doen ’n beroep op die publiek om versigtig en nougeset te wees wanneer sosialemediaplatforms gebruik word om aankope te doen. Verifieer die geloofwaardigheid van verkopers, doen transaksies op veilige plekke en oorweeg dit om wetstoepassing te betrek indien jy onseker is.”

Genl.maj. Vuyisile Ncata, polisiehoof van die Nelson Mandelabaai-polisiedistrik, het sy medelye met die broers se familie betuig en gesê die polisie is daartoe verbind om geregtigheid te laat geskied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Robert ·

Ai tog! Mense leer maar net nie. Hoevele mense is al op hierdie wyse bedrieg maar steeds reageer mense op hierdie tipe advertensies… Jammer dat die broers met hulle lewens moes betaal. Sterkte aan die familie!!

Aggie ·

Ongelukkig kan mens nie meer handel dryf op hierdie manier nie. As dit in ‘n twyfelagtige buurt is, laat vaar dit liewer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.