‘Cele doen strandbesoeke wyl SA’ners in vrees leef’

Bheki Cele. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die DA het uitgevaar teen Bheki Cele, minister van polisie, wat blykbaar ʼn prioriteit daarvan maak om strandbesoeke af te lê terwyl misdaad landwyd bykans buite beheer is.

“Dit is welbekend dat Suid-Afrika onder ’n uiters hoë misdaadsyfer gebuk gaan. Verkragting, geslagsgeweld, moord, plaasaanvalle en bendeoorlogvoering is bykans buite beheer,” het Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor polisie, gesê en na onlangse voorvalle van geweld verwys.

“Dit is egter onder hierdie omstandighede wat minister Cele verkies om branderplankryers op die strand rond te jaag en om sonbaaiers en drawwers op promenades te konfronteer.”

Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, het vroeër ’n video op Twitter gedeel wat wys hoe ’n branderplankryer op Langebaan aan die Weskus in hegtenis geneem word.

Die ontplooiing van lede van die weermag in die Tuinroete om rampbestuurmaatreëls af te dwing, het die DA intussen ook warm onder die kraag.

Themba het bevestig weermaglede is op pad na die Suid- en Wes-Kaap.

“Ons veroordeel die aankondiging dat lede van die weermag gebruik gaan word om strande in die Tuinroete te patrolleer, ten sterkste,” het Whitfield gesê.

Daar word intussen ook vrae gevra oor die nasionale polisiekommissaris, Khehla Sitole, se rol.

“Die SAPD is aanspreeklik teenoor die minister, maar nie onder sy bevel nie, en dit is kommerwekkend dat dit lyk asof die kommissaris aan minister Cele die leisels oorgegee het sonder enige reaksie oor die manier waarop sy mans en vroue in blou ontplooi word vir polisiëring van oortredings terwyl prioriteitsareas soos bendeoorlogvoering, plaasaanvalle en geslagsgebaseerde geweld verwaarloos word.”

Whitfield meen dit is duidelik ’n erkenning van mislukking deur Cele om die weermag in te roep terwyl die SAPD se begroting amper dubbeld die van die weermag is en daar meer as 187 000 polisiebeamptes is teenoor die weermag se 75 000 lede. “Sekerlik het die polisie die hulpbronne om ’n paar branderplankryers op hul eie te kan hanteer?

“Dit word al hoe duideliker dat ons nasionale veiligheidspersoneel misbruik word ten einde die outoritêre agendas van ANC-ministers te dien wat vasbeslote is om te beheer eerder as om te regeer.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.