Cele maan teen boendoegeweld

Bheki Cele tydens Vrydag se imbizo (Foto: SAPD)

“Ons aanvaar dat dienslewering deur die polisie verbeter kan en moet word, maar dit kan nooit goedgepraat of as ʼn normale praktyk in enige samelewing aanvaar word wanneer inwoners eie reg gebruik nie.”

Só het Bheki Cele, minister van polisie, gesê nadat hy en die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) Vrydag ʼn misdaadvoorkomingsimbizo in Limpopo gelei het wat deur inwoners van dorpe in en om die Sekhukhune-distrik bygewoon is.

“Daar is eenvoudig geen geregtigheid daarin om eie reg te gebruik nie, dit is misdade wat hardhandig hanteer sal word,” het Cele tydens die imbizo, wat in Jane Furse gehou is, gesê.

Inwoners kla onder meer oor bewerings van polisiekorrupsie en stadige reaksie deur die plaaslike polisie rakende hul veiligheidsbehoeftes.

Daar was die afgelope week verskeie gevalle van boendoegeregtigheid in die Sekhukhune-distrik wat die lewe van vier mense geëis het.

Twee vermeende rowers is Woensdag buite Thohoyandou met klippe doodgegooi voor hulle aan die brand gesteek is. Dit het gevolg nadat drie verdagtes na bewering ʼn 23-jarige vrou van haar selfoon en ander besittings beroof het. Hulle het toe glo probeer om haar te ontvoer ten aanskoue van omstanders, maar het haar gelos en weggejaag nadat sy om hulp geskree het.

Gemeenskapslede het die verdagtes agternagesit en ingehaal nadat hulle in ʼn botsing met hul wegkommotor betrokke was. Die polisie het een van die verdagtes gered. Die voertuig is ook aan die brand gesteek.

In nog ʼn voorval is twee vermeende selfoondiewe ook deur gemeenskapslede vermoor.

Sommige inwoners het gesê die gevalle van boendoegeregtigheid kan toegeskryf word aan die feit dat misdadigers nie aan die pen ry nie, asook stadige reaksietye van die polisie.

Om die polisiëringstekortkominge dringend aan te pak en dienslewering in die polisiëringsgebied te verbeter, sal ʼn span saamgestel word om onopgeloste sake te ondersoek. Daar sal ook ʼn verslag saamgestel word oor die plaaslike polisiestasie in Jane Furse.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sal ook bewerings van polisiebrutaliteit en korrupsie deur polisiebeamptes ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nie Verbaas ·

En daar blah blah blah die nar met die hoed alweer. Altyd reaktief te stadig om proaktief op te tree.

Hasie ·

Gedink dit sal een of ander gebeur.Misdadigers het mos meer reg as gewone burgers en net so vinnig as wat hul geartestreer word net so vinnig word hul losgelaat.

christo ·

Bheki Cele, wie maak die meeste arrestasies? Dis buurtwagte en sekuriteitsmaatskappye. Indien die SAPD ‘n arrestasie dien, hoeveel lei tot suksesvolle vervolgings in die howe?
Mense gebruik die SAPD om saaknommers vir versekeringseise te verkry, beëdigde verklarings en die waarmerk van dokumente. Dis al.

Veronika ·

Dis reg laat hulle hul self uitsorteer, miskien help dit en kry misdadigers die boodskap, want hul doen dit helder oordag ten aanskoue van omstanders, nie gedink hul gaan hul moses tee kom nie!!

honeybee ·

As ek na die 2 links en regs van Cele kyk,, kan ek verstaan hoekom die polisie niks kan doen nie. Met daardie lywe moet dit moeilik wees om te kan hardloop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.