Celeste Gouws-verkragtingsaak: Beskuldigde kry nie ontslag

Die slagoffer se vriende het haar tydens vorige hofverskynings ondersteun. Van links is Desiré Jordaan, Lynette van Zyl, Sandy Richie, Gavin Donnoly (agter), Celeste Gouws, Dafré Troskie en Katja Offerman. (Foto: Verskaf)

Isaac Andile Memese se aansoek om ontslag in die verkragtingsaak van Celeste Gouws, is in die streekhof in Somerset-Wes van die hand gewys.

Gouws is na bewering op die aand van 2 September 2017 in haar huis deur Memese verkrag nadat hy glo ingebreek het.

“Uit al die bewyse wat op hierdie stadium aan hierdie hof voorgelê is, is die mening van die hof dat daar getuienis is waarop die beskuldigde skuldig bevind kan word aan die misdryf waarop hy aangekla is, en dit is om daardie rede dat die aansoek van die hand gewys word,” het landdros Eric Mbiyo in sy uitspraak gesê.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vroeër aangevoer dat die eenheid ’n sterk saak het. “Daar is tans ’n bo redelike twyfel saak. Die beskuldigde kan hom slegs verontskuldig indien hy getuig. Dit is nie die geval dat die beskuldigde homself kan inkrimineer nie. Die saak vir vervolging is beslis sterk,” sê Nel.

Nel het sy saak in Februarie vanjaar afgesluit nadat hy verskeie getuienisse, waaronder Gouws se getuienis, gelei het. Sy is in 2017 in haar huis verkrag nadat sy vermoedelik bedwelm is. Die direkteur van openbare vervolging in die Oos-Kaap het aanvanklik geweier om Memese te vervolg ondanks oorweldigende bewyse teen hom.

AfriForum meen die beskuldigde is voorheen teen vervolging beskerm omdat Memese en sy familie politieke bande het.

Gouws het voorheen oor die gebeure op die aand van die voorval getuig. Adv. Nel het ook kringtelevisiebeeldmateriaal in die hof gewys, wat duidelik wys hoe Memese herhaaldelik by Gouws aanlê, aan haar raak en haar probeer soen. Sy het dié toenaderings keer op keer geweier. Gouws het getuig dat Memese herhaaldelik aangedring het dat sy saam met hom moet bad. Die beeldmateriaal wys ook hoe Memese in ’n stadium sy eie glas met Gouws s’n ruil, waarna sy binne minute onstabiel begin raak. Memese drink daarna nie weer self uit dié glas nie.

Gouws moes uiteindelik ’n vriend kontak om haar te kom geselskap hou by die gastehuis wat sy bedryf het omdat Memese nie sy onvanpaste gedrag wou staak nie. Nadat die vriend Memese uitgesien het, wys die beeldmateriaal hoe die beskuldigde minute later weer die huis binneglip en Gouws uiteindelik na haar slaapkamer dwing.

“Ons is verheug dat die hof die aansoek van die hand gewys het,” het Andrew Leask, hoofondersoeker by die privaatvervolgingseenheid, gesê. “Dit het ons oortuiging bevestig dat ons ’n sterk saak teen die beskuldigde het. Dit verstom ons steeds dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het om Memese nie te vervolg nie. Hierdie uitspraak is ’n verdere aanklag teen die NVG omdat hulle nie die saak voortgesit het nie. In ’n land wat deur die plaag van geslagsgebaseerde geweld geteister word, kom ons te dikwels gevalle teë waar die NVG se verpligtinge om hierdie misdade aan te spreek blote lippediens is. Hierdie is ’n sprekende voorbeeld daarvan.”

Die saak hervat weer 1, 2, 5 en 6 Desember vanjaar wanneer die verdediging sy saak sal stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Swerwer ·

Waar op aarde kan mense met Politieke verbintenis kwyt geskel word van misdade. Ongelukkig deur die afgelope jare het dit ‘n bose kringloop geword. Sterkte aan Celeste, geregtigheid sal geskied.

Renier ·

Sal graag meer wil weet oor wie en wat die politieke familie bande is wat hom so beskerm. Dit is duidelik nie mense wat enige mag moet he in die land nie.

domheks ·

‘our people’ dink hulle is bo die wet verhewe. Dankie Gerrie Nel & Kie!!! As dit nie vir julle was nie het dit nog erger gelyk!

Christina ·

Ek wil net weet hoekom word rassisme nie hier genoem nie of maak dit nie saak nie? Gewoonlik as dit andersom is is dit rassisme al is die persoon hoe onskuldig dit werk nie vir my nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.