Centurion-ma vertel van gru-ongeluk

Lorenzo, Zanike en JD (Foto: Verskaf)

Toe Yolande de Beer (33) Dinsdagoggend hoor haar man en kinders was in ’n ongeluk in Centurion, Gauteng, het sy dadelik die ergste verwag.

“’n Agtjarige kind is dood in ʼn ongeluk op die hoek van Saxbylaan en Ruimteweg in Centurion,” het die berigte deurgekom en Yolande het dadelik gedink dit is haar agtjarige seun, JD.

“Ek het amper van my kop afgeraak en niemand wou my sê wat aangaan nie.”

Groot was haar verligting toe sy by die hospitaal kom en vasstel haar man en kinders is orraait. JD en Zanike (12) is intussen ontslaan en haar man, Lorenzo (34), sterk nog in die hospitaal aan.

“Die agtjarige seun wat in die ongeluk omgekom het, was in die ander voertuig,” is Yolande by die hospitaal ingelig. Springvale Primary School in Centurion het intussen aan Maroela Media bevestig dat die oorledene hier skoolgegaan het.

“Wat is die kanse dat twee agtjariges in dieselfde ongeluk kon wees,” het Yolande aan Maroela Media gesê.

“Hoewel ek so dankbaar is my seun is veilig, breek my hart vir die ander ma wat nou weer ’n seun verloor het.

“Ek het net weer eens besef dat ons nie ons kinders of gesin as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Ons kan hulle binne ’n oogwink verloor.”

Doodnormale oggend

’n Agtjarige seun is Dinsdagoggend in ’n ongeluk op die hoek van Saxby- en Ruimteweg in Centurion dood. (Foto: ER24)

Volgens Yolande was dit ’n doodgewone oggend voor skool toe sy haar man en kinders by die huis groet.

Lorenzo het die kinders die oggend in die gesin se Volkswagen Tiguan-sportnutsmotor (SUV) na Laerskool Wierdapark in Centurion geneem. Zanike sou daardie oggend eksamen skryf.

“Ek ly aan slapeloosheid en het die vorige aand baie sleg geslaap. Nadat ek die kinders gegroet het, het ek weer probeer slaap. My foon se klank was afgeskakel.

“Dit was nie eens ’n halfuur nadat Lorenzo en die kinders gery het nie, toe my skoonsuster se verloofde by die huis opdaag en my inlig dat daar ’n ongeluk was. Ek het op my selfoon gekyk en gesien ek het 32 oproepe van Lorenzo gemis.”

Lorenzo was ná die ongeluk gedisoriënteerd en Zanike het goed kopgehou deur sy selfoon te vat en haar (Yolande) te probeer bel. Toe Zanike nie haar ma in die hande kry nie, het sy haar tannie, Lorenzo se suster, gebel.

Die gesin se SUV was in ’n ongeluk met ’n bakkie betrokke. Volgens Yolande weet sy nie wat presies gebeur het nie en wil sy ook nie oor die oorsaak van die ongeluk bespiegel nie.

Ambulansdienste is na die toneel ontbied en het Lorenzo en die kinders na Kalafong-hospitaal in Pretoria geneem.

“My swaer het my na die hospitaal geneem en dit was die langste rit in my lewe, juis omdat ek in daardie stadium nog nie geweet het of JD leef of nie.”

JD het minimale beserings opgedoen en is nog dieselfde dag uit die hospitaal ontslaan. Hy gaan al Maandag terug skool toe.

Zanike en haar pa na die ongeluk (Foto: Verskaf)

Zanike is Donderdagmiddag ontslaan en afgesien van die kneusplekke oor haar lyf, het sy haar bene seergemaak en moet nou eers met krukke loop. Sy is tot 2 Desember afgeboek en volgens Yolande is die skool baie ondersteunend daaroor en sal haar help om die eksamen in te haal.

“Haar maatjies mis haar egter reeds.”

Lorenzo is steeds in die hospitaal en het sy linkerhand en rug tydens die ongeluk erg seergemaak.

“Een van die vingers aan sy linkerhand is tydens impak amper heeltemal afgeruk en op sy ander vinger is ’n groot stuk vleis uitgeruk. Daar is ’n moontlikheid dat hierdie vingers dalk geamputeer moet word.”

Yolande is bekommerd oor Lorenzo se ou beserings wat ook dalk weens die ongeluk vererger kan word. Lorenzo het twee jaar gelede sy ribbes gebreek en rugwerwel gekraak.

Yolande hoop Lorenzo se hand herstel ten volle omdat hy gaande is daaroor om met sy hande te werk.

“In die dag verkoop Lorenzo voertuie en in sy af tyd maak hy voertuie reg, bou goed en doen net enigiets waar hy sy hande kan gebruik.”

Yolande is egter dankbaar dat haar man en kinders leef.

“Ek weet nie of dit geluk, genade of beskermengele was nie. Ek weet nie waarom my gesin leef en die seuntjie in die bakkie dood is nie. Dit is een van daardie goed wat jy nie kan verduidelik nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Antie Sarie ·

Daardie is seker een van die gevaarlikste kruisings in Centurion

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.