Centurion-skietery: Verdagtes glo betrokke by reeks motorkapings

Die owerhede en omstanders vanoggend op die toneel. (Foto: Facebook)

Die verdagtes wat vanoggend in ’n skietery met polisiebeamptes in Hennopspark in Centurion betrokke was, word na bewering verbind met ’n reeks motorkapings in Gauteng.

Twee verdagtes is gedurende dié skietery noodlottig gewond terwyl vier ander mans, onder wie twee verdagtes en twee polisiebeamptes, kritiek beseer is.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het gesê lede van die Gautengse trio-taakspan het die verdagtes se bewegings al ’n geruime tyd dopgehou toe hulle die verdagtes vanoggend in ’n swart BMW in Centurion opgemerk het.

“Die polisie het die verdagtes se voertuig onderskep en die verdagtes het skote op die polisiebeamptes afgevuur wat daarna teruggeskiet het.”

Twee van die verdagtes is doodgeskiet terwyl die ander twee onder polisiebewaking na ’n hospitaal geneem is vir mediese behandeling.

Volgens Peters het die polisie op drie vuurwapens asook die verdagtes se motor op die toneel beslag gelê. Dié motor is in Julie vanjaar in Honeydew in Johannesburg gekaap.

Die oorlewende verdagtes sal nou van poging tot moord, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie asook die besit van ’n gekaapte motor aangekla word.

Nog aanklagte kan moontlik later bygevoeg word.

Maroela Media het vroeër berig een van die polisiebeamptes is gedurende die skietery in die gesig geskiet terwyl die ander ʼn skietwond aan die been opgedoen het.

ʼn Helikopter is weens die aard van die twee polisiebeamptes se toestand ontbied en albei pasiënte is na ʼn hospitaal gevlieg.

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, het die polisiebeamptes alle beterskap toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vrijburger ·

Sterkte en spoedige herstel vir die twee polisiemanne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.