Cheetahs stuur Bulle slagplaas toe

(Foto: GB Jordaan)

Cheetahs 3, Blou Bulle 0.

Nee, dit was nie die telling in Saterdag se kragmeting in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks tussen die Cheetahs en die Bulle in Bloemfontein nie, maar vanjaar se somtotaal van die Cheetahs se oorheersing oor die Blou Bulle in die reeks.

Die Cheetahs het tot die tuis-eindstryd deurgedring toe hulle met ʼn puik, kliniese vertoning die lustelose Blou Bulle met 39-10 gekarnuffel het.

Met dié oorwinning het die Cheetahs dit drie uit drie oorwinnings in vanjaar se Curriebekerreeks oor die Bulle gemaak nadat hulle vroeër vanjaar die twee groepronde-wedstryde met 32-7 en 31-15 gewen het.

Tel dit bymekaar: Die Cheetahs 102 punte, Blou Bulle 32.

Wat die Cheetahs se sege merkwaardig maak – hulle speel die 11de keer in die Curriebeker-eindstryd – is dat hulle die Bulle gewurg het, in foute gedwing het en agterlangs van hulle voete gehardloop het. Die Bulle het verskeie kere besit afgestaan, hulle het ʼn paar lynstane verloor en het hanteerfoute begaan.

Om alles te kroon is die drie wat deur die plaasvervanger WJ Steenkamp gedruk is, reeds nadat die doelskop deur die pale geklits is, gekanselleer omdat Chris Smith se aangee vorentoe was.

En toe lol hul hul dissipline met geniepsige spel.

(Foto: GB Jordaan)

Dit het aan die plaasvervanger-haker Jan-Hendrik Wessels ʼn onnodige geel kaart besorg.

Toe word hulle ook gestraf oor terugpratery.

Daar sal op Loftus diep in die spieël gekyk moet word.

Die Cheetahs se groot helde was die flink heelagter Tapiwa Mafura, die gevaarlike Daniel Kassende en Cohen Jasper en die kalm planmaker-losskakel Ruan Pienaar, wat met al agt sy skoppe pale toe geslaag het.

Dan het die hele pak voorspelers uitmuntend vertoon deur die Bulle se rolmale doeltreffend te stuit.

Die groot vraag aan die Suid-Afrikaanse rugbybase is steeds wat meer moet die Cheetahs doen om behoorlike erkenning te kry?

Puntemakers: Cheetahs 39 (20) Drieë: Reinhardt Fortuin, Tapiwa Mafura, Evardi Boshoff. Doelskoppe: Ruan Pienaar (2), Fortuin. Strafdoele: Pienaar (6).

Bulle 10 (3) Drie: Johan Grobbelaar. Doelskop: Johan Goosen. Strafdoel: Goosen.

(Foto: GB Jordaan)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Geluk Vrystaat, sterkte vir die finaal, Stonehouse en sy span moet nie onderskat word nie?

Frans ·

Dit is teleustellend dat die spanne wat die meeste spelers gewerf het nl die Bulle en Sharks nie die mas kon opkom in enige kompetisie waaraan hul deelgeneem het wn selfs in die Curriebeker verloor teen spanne wat met minder moet klaarkom.
Wat is die probleem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.