Chevonne se ma se stories strook nie

Rochelle Botha staan saam met Stefan van Niekerk tereg op die moord op Botha se dogtertjie, Chevonne Rusch. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

Die polisiekonstabel wat die moord op Chevonne Rusch ondersoek het, sê die kleuter se ma, Rochelle Botha, wat nou teregstaan op aanklag van die moord op Chevonne, het drie verskillende weergawes gehad oor wat op die dag van Chevonne se dood gebeur het.

Die weergawes strek van Botha wat deur haar medebeskuldigde en gewese verloofde, Stefan van Niekerk, vasgebind en aangehou is tot Chevonne wat op ʼn spons gegly en geval het.

Dié stories is aan verskeie mense vertel nog voordat Botha ooit ʼn verdagte in die saak was.

Die betrokke konstabel het vandeesweek in ʼn sitting van die hooggeregshof in Palm Ridge getuig oor al die gesprekke wat sy met Botha gehad het en die verklarings wat sy ná Chevonne se dood afgelê het.

“In die dae wat ek met Botha gekonsulteer het oor wat gebeur het, het sy vir my drie verskillende stories gegee oor wat presies gebeur het,” sê die getuie.

In die eerste weergawe het Botha aangevoer dat Van Niekerk op die dag van Chevonne se dood baie “knorrig” was omdat hy glo sy werk verloor het. Hy het glo ook op Chevonne geskree nadat sy water gemors het, waarna sy haarself natgemaak het.

Botha het in ʼn geskrewe verklaring aangedui dat Van Niekerk vir Chevonne gevat het om te bad, maar dat sy deurlopend geskree het om na Botha toe te gaan. Chevonne se geskreeuery het skielik opgehou en Van Niekerk het uit die badkamer gehardloop na hul kamer toe. Botha het hom gevolg en glo op ʼn potblou Chevonne afgekom.

“Sy [Botha] het gesê dat sy Van Niekerk geskop het om van Chevonne af weg te kom, maar dat hy haar weggestamp het. Sy het op die vloer geval, opgestaan en hom weer probeer wegstoot,” sê die getuie.

Van Niekerk het glo die kamer verlaat, maar Chevonne was reeds styf en het nie op Botha gereageer nie. Botha voer aan dat sy wel in daardie stadium nog asem gehaal het.

In ʼn ander weergawe wat aan familielede oorgedra is, het Botha gesê Chevonne was in die badkamer toe sy op ʼn spons gegly, geval en haar kop gestamp het.

In nog ʼn weergawe, wat Botha vertel het terwyl sy dae later die polisie deur die huis gevat het waar die voorval plaasgevind het, het sy aan die ondersoekbeampte, asook ander getuies, vertel dat toe sy Van Niekerk en Chevonne in die kamer aangetref het, was hy besig om die kleuter te wurg.

“Sy [Botha] het vertel hoe Chevonne glo gekla het dat sy haar moet droogmaak en toe sy by die vertrek ingaan, het sy gesien hoe Van Niekerk Chevonne op die mat verwurg,” sê ʼn ander getuie.

“Toe Botha probeer het om Van Niekerk van Chevonne af te kry, het Chevonne glo vir Van Niekerk geskree om haar ma uit te los.”

In ʼn uiteenlopende weergawe het sy vertel hoe Van Niekerk haar aan ʼn plastiekstoel in ʼn ander deel van die erf vasgemaak het, en ʼn vriend by Botha gelos het om oor haar wag te hou.

“Ek het haar [Botha] gevra hoekom sy nie geskree het nie, aangesien die deel van die erf waar sy vasgemaak was baie naby aan die bure is, maar sy het my nie daarop geantwoord nie,” sê een getuie.

“Ek het ook gesoek, maar geen plastiekstoel op die erf gekry nie, net ʼn wit band.”

ʼn Polisiesersant sê hierdie einste weergawe is ook aan hom vertel terwyl hy Botha se verklaring afgeneem het. Sy het in hierdie verklaring aangevoer dat sy die laaste keer vir Chevonne gesien het net voordat sy vasgebind is. Sy het slegs gehoor hoe Chevonne skree, dit ophou, en hoe mense in ʼn motor klim en wegjaag.

Botha se prokureur het egter die geldigheid van hierdie verklaring bevraagteken. Hy het aangevoer dat Botha nie die geleentheid gehad het om die verklaring deur te lees voordat sy dit onderteken het nie, anders sou sy gesien het dat die huisadres verkeerd is.

Die sersant het egter volgehou dat Botha wel die verklaring nagegaan het.

Botha het deurlopend in die beskuldigdebank gesit en snik. Sy het in een stadium, toe die hof verdaag het, vlugtig aan ʼn familielid gesê dat sy moeg is.

“Ek wil nie meer nie,” het sy gefluister.

“Hy [Van Niekerk] voel niks nie. Dis mos nie sy kinders nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Nie net ‘n MOORDENAAR nie, ook ‘n LEUENAAR! Hoop sy kry wat haar toekom indie tronk. BEIDE van hulle is SKULDIG

Fontein Tannie ·

Hoe laat mens jou Kerel (nie die dogtertjie se pa nie) hierdie klein meisie bad? Dis onvanpas… So bitter jammer vir die klein mensie wat hierdeur moes gaan… RIV klein Chevonne…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.