China help nou beurtkrag takel

China het noodkragtoerusting aan Suid-Afrika geskenk om met beurtkrag te help. (Foto: Twitter)

China gaan help om beurtkrag in die land te takel nadat hy ʼn reuseskenking van noodkragtoerusting aan Suid-Afrika gemaak het.

Minstens 500 openbare fasiliteite regoor die land sal nie verder die effek van beurtkrag voel nie te danke aan ʼn skenking van onder meer kragopwekkers en wisselrigtoestelle (inverters) deur China.

Die aankondiging is Woensdag deur Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, gemaak tydens die ondertekening van ʼn memorandum van samewerking met agt Chinese entiteite wat leiers is in kragopwekking wêreldwyd. Die ondertekening het saamgeval met die Brics-beraad in Sandton.

Ramokgopa het gesê die skenking sal help om “volhoubare kragtoevoer aan sommige van die land se grootste openbare fasiliteite soos klinieke, hospitale en polisiestasies te voorsien”.

“Ons gaan altesaam 552 van hierdie eenhede ontvang en 450 van hulle is reeds op pad na Suid-Afrika.”

Die noodkragtoerusting wissel van 6 KW tot 200 KW. “ʼn 200 KW-kragopwekker kan ʼn kliniek en ʼn mediumgrootte hospitaal ondersteun, so dit is werklik verligting vir die Suid-Afrikaanse mense,” het hy gesê.

Chinese het ‘waardevolle ervaring’ met krag

Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit, tydens die ondertekening van ʼn memorandum van samewerking met agt Chinese entiteite. (Foto: Twitter)

Ramokgopa het oor die memorandum van samewerking gesê dat die ooreenkoms Suid-Afrika, en Eskom, baie gaan baat, aangesien die betrokke Chinese entiteite “waardevolle ervaring en tegnologie” het.

Die agt entiteite wat die memorandum onderteken het, is State Grid Corporation of China; China-Africa Development Fund; China Energy International Group; China General Nuclear Power Corporation; China National Electric Engineering Company; Huawei Technologies; TBEA; en Global Energy Interconnection Development and Cooperation Organisation.

“Hulle [China] het ʼn soortgelyke probleem ervaar wat ons nou ervaar,” het Ramokgopa gesê.

“Hulle het ook die grootste steenkoolopwekkingsvermoë van enige land ter wêreld. Hulle het die grootste geïnstalleerde hernubare energiekapasiteit van enige land ter wêreld … ongeveer 688 GW.

“Die hoeveelheid hernubare energie wat hulle het, is 12 keer die grootte van Eskom. Hulle sit op groot hoeveelhede likiditeit. Ons kan daardie finansiering benut wat goedkoper is as enige ander. Hulle het [ook] die grootste geïnstalleerde kapasiteit van kernkrag van enige land in die wêreld.”

Volgens Ramokgopa het die Chinese entiteite nog lank voor die memorandum onderteken is al Suid-Afrika gehelp met sy kragopwekkingsprobleme.

“Hulle het reeds ʼn aantal verslae gegenereer oor hoe ons die prestasie van die steenkoolaangedrewe aanlegte kan verbeter en ook die emissievlakke kan verminder, oor hoe om die tegniese verliese op die netwerk en ook aan die transmissiekant te verminder en wat vereis word met betrekking tot die beplanning en akkommodering van nuwe hernubare energie op die netwerk,” het hy gesê.

Of die ooreenkoms met die Chinese entiteite Suid-Afrika gaan help om beurtkrag heeltemal uit die weg te ruim, bly onduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

44 Kommentare

Daniel ·

Ramakgopa se gesig op die foto lyk asof hy die jackpot geslaan het. Ek vertrou nie vir China met die vrygewigheid, hulle is besig om SA te koop

Danie ·

Nee. Dit is lankal reeds gedoen. Op ‘n skinkbord. Seker al in ’92…

Rooikopheks ·

Kyk sy gesigsuitdrukking en lyftaal, lekker gaan daar weer geskep word.

Anel ·

Al die kundigheid wat ons gehad het, wat wêreldklas was, is weggejaag!! Niks waar geld betrokke is gaan ooit suksesvol hier wees nie, want die geld gaan nooit by die regte plekke uitkom nie. En teen wstter koste doen die Chinese dit? Niks is verniet nie!!!!

George ·

Ja die ” hulp middels ” sal seker by die ministers en adjunk ministers se huise afgelaai word …????????????????????

Hendrik ·

Die onversadigbare bedelbakhand pas China uitstekend. Hoe meer daar in die toekoms gegee word hoe sterker word sy greep op die waardevolle grondstowwe en die land self.

Di ·

“Debt trapping” China is baie uitgeslape en target nie verniet Afrika lande nie. Hulle weet die klomp kan maklik ompraat word as die geld reg is.

Hannes ·

Hier kom dit… nou gaan die kaders (b)miljoene spandeer op Chinese gemors Wisselrigtoestelle wat geen oog gaan sien nie.

Zollie ·

Indien dit dieselfde gehalte is as hulle scooters gaan die skroewe al klaar opgeroes wees wanneer dit hier aankom Vra my ek praat uit ondervinding.

Elizabeth ·

Verligting vir die Suid Afrikaanse mense? ANC sê dan alles is okay? Julle is die grootste klomp leuenaars ooit.

Yvonne ·

Hulle sien net $$ die eintlike gevaar tel nie…….kortsigtigheid kan ons nog duur te staan kom….my beskeie mening…hoop ek is verkeerd

007 ·

Nou wonder ek net, waar gaan ons parte kry om die kragopwekkers, te diens? Of gaan ons hulle net laat loop totdat hulle nie meer kan nie en dan net weggooi. Wie gaan vir die brandstof betaal? As jy op die pamflet lees wat in Manderin geskryf is sal daar staan, “do not use to often, keep in a cool and dry place “

Sue ·

Ja. Hulle is ook Godlose kommuniste. Maar as jy almal vervreem met jou steun Vir die brutale Putin het jy Nie baie vriende oor nie.

Tewis ·

Met anderwoorde jy Minister kan nie bestande kragstasies onderhou nie maar gaan nou 500 klein kragopwekkertjies wat meer daglikse hulp nodig het soos : olie, brandstof vlak en die inkoop daarvan, na sekere ure dit gediens moet word ens ens gaan nou ons krag probleem oplos???
NEEEEE!!! jy leef in ń droom wereld !!

Willem ·

Tewis, u noem dit ‘n droomwereld – lyk meer soos ‘n gekke paradys !!

Dirk ·

Wat het geword van die 100 suid afrikaanse kundiges wat aangestel sou word om die krisis op te los????

Niklaas ·

Die gedagte daaroor en uitvoerbaarheid was nie polities korrek nie.

Johan ·

Skenking van toerusting, nie geld aan die elite soos wat die weste altyd doen nie. Let op, wie help werklik en wie verslaaf Afrika. Daarom maak die media, Sjina en Rusland, altyd sleg. Tyd dat ons Afrikaners ook nuwe vriende gaan maak. Hoekom hardloop ons “leiers” altyd VN toe, hulle het ons in die gemors!

Martie Smartie ·

Ek hoop die chinas gaan die diesltenks kom volhou en die onderhoud doen, want die anc regering sal dit nie eens kan doen nie

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

En die hele Suid-Afrikaanse nasie wag in spanning op hierdie Chinese oplossings. Viva China! Viva BRICs! Wonder wie gaan die toerusting onderhou! Ha-ha-ha! “Never a dull moment in South Africa!”

jmboonzaaier ·

Ek is dankbaar die skenking is nie in geld maar fisiese toerusting.
Dit gaan egter nie die beurtkrag op grondvloer help nie aangesien dit net by openbare instansies installeer sal word. Welliswaar baie min verligting op die vermoë van Eskom om elektrisiteit op te wek.
Addisionele kragbronne, soos die son, wind, seegolwe en kernkrag moet voorsien word.

Di ·

EEN van die dae kan SA nie al die skuld terug betaal nie, dan begin hulle bates kleim in die land. Gaan google maar HOEVEEL afrika lande nie hulle skuld kan terug betaal aan China nie. “How many African countries are in debt with China?
“Seven African nations were identified by the World Bank as being in financial trouble or in danger of going into debt distress as a result of the volume of Chinese financing”
Hulle noem nie verniet hierdie lenings as “debt trapping” nie

Leana ·

Die hele storie laat my dink aan die gesegde van ons siel verkoop aan die duiwel.

Republikein in die Wes Kaap ·

Baie van daai opwekkers gaan ontplof. Hopelik is die brandweerdienste gereed.

Lillian ·

Ja, nee. Hy tel daai geld wat in sy bankrekening gaan opeindig… Daai geld gaan net so, poef, verdwyn!

Termiet ·

Niks in die lewe is verniet nie. China gaan hulle pond vleis een of ander tyd eis.

Jasper ·

Al die ministers se huise, plase en besighede gaan nou baie goed toegerus wees.

Eden ·

Goeie gebaar deur Sjina. Nou sal ons moet sien hoeveel werk nog na ‘n jaar of wat.

Benn ·

Rural takel ook beurtkrag in die Vrystaat maar word om elke hoek en draai gekeer deur NERSA en Eskom! Dis mos makliker om China se geld te vat vir die probleem wat hulle in elk geval nie kan of wil oplos nie.

annie ·

Waar was julle slimmes voor jul die land afgeteken het? Dalk is die meeste Afrikaners maar ‘back seat drivers’… Hou van kla as julle niks meer kan keer nie. Braaivleisvure is deesdae meer van begrafnisredes met ietsie te ete daarna; net eers ‘n knertsie vir dominee en gemeente om die treurmare in te lui en ietsie sterk ná vir krag vir die toegooiers. G’n wonder ons kinders drink deesdae al in graad 3 stresmiddels teen pa se gekerm nie.

Niklaas ·

Hierdie Sjinese is slimmer as wat ons dink. Niks is gratis nie, hul rekening kom nog. Dit was ook die strategie van die Gupta boeties.

Sakkie ·

Hou op om gat te lek en doen net julle werk reg.
Hou niks goed in vir SA.

Annelie ·

Hoeveel parlementslede is daar. N kragopwekker vir elkeen. Ek glo China is al lankal besig met Suid Afrika om oor te vat

Kobus ·

Hulle beskik oor “waardevolle ervaring”! Die mense wat ESKOM onderhou het vóórdat julle alles opgemors het, het uitstekende ervaring gehad! Teen watter prys deel China nou sy kernkrag-lus met SA? Kragopwekkers, in ruil vir kernstasies, dít sal die uiteinde wees! As julle bevoegd was, en jul werk gedoen het, en nie van kundige mense ontslae geraak het omdat julle minderwaardig voel nie, was niks van hierdie kruipery nou nodig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.