Cope se Makhubele nié geskors

Colleen Makhubele, ʼn Cope-raadslid in die Johannesburgse metroraad. (Foto: Twitter)

Eers was dit die verwarring oor die kwansuise skorsing van Cope-leier, Mosiuoa Lekota, en toe volg nog ʼn deurmekaarspul met die party se beweerde skorsing van Colleen Makhubele, ʼn Cope-raadslid in die Johannesburgse metroraad.

Makhubele, die metro se voorsitter van voorsitters, het vroeër ’n skorsingsbrief van Cope se tussentydse provinsiale komitee ontvang.

Luidens dié interne brief – wat Maandag op sosialemediaplatforms rondgevlieg het – het die komitee tydens ’n onlangse vergadering besluit om Makhubele hangende ʼn dissiplinêre verhoor as verteenwoordiger van die metroraad te skors.

Ná ʼn geheen en weer blyk dit nou dat Makhubele nie geskors is nie en vir eers in haar amp aanbly.

Ariel Mokete, sekretaris van Cope in die Groter Johannesburg-streek, het Dinsdag in ’n interne brief (wat Makhubele gedeel het) gesê die komitee het geen magtiging om in enige hoedanigheid namens Cope op te tree nie. Dié was dus nie by magte om Makhubele te skors nie.

“As Cope in die Stad Johannesburg-streek, wil ons graag sê en dit onomwonde herhaal dat die Gautengse provinsiale tussentydse komitee ʼn parallelle struktuur is wat gevorm is sonder behoorlike of enige inagneming van die party se grondwet deur lede wat duidelik nie gemagtig is om dit te doen nie.

“Dit is ʼn liggaam wat in die wet en in werklikheid ʼn nonentiteit binne die party is. Gevolglik het só ʼn liggaam geen besluitnemingsmagte van watter aard ook al nie,” lui Mokete se brief.

Makhubele het gisteraand in ’n onderhoud met Newzroom Afrika self bevestig dat sy nié deur Cope geskors is nie en steeds haar pligte as raadslid en voorsitter van voorsitters sal uitvoer.

“Die nasionale leierskap staan nog sterk en ondersteun wat ek doen.”

Sy het wel gesê dit is “jammer” dat die beweerde skorsing Cope in ’n slegte lig stel.

Dié drama volg kort nadat die Johannesburgse hooggeregshof ʼn stokkie gesteek het voor ʼn plan van Makhubele om ʼn buitengewone raadsvergadering te belê.

Die regter het beslis dat, strydig met wat Makhubele en haar bondgenote glo, sy nie die waarnemende speaker is nie en dat sy verbied word om haar voor te hou as waarnemende speaker óf om enige funksies van ʼn waarnemende speaker te verrig.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pierre ·

Sirkus, lyk my deesdae raak almal se koppe te swaar as fotos geneem word, dan moet die kop met die hand gestut word.

annie ·

Colleen… En sy wil die burgermeester wees… Because I am so beautiful… So much more than…

vuurvliegie ·

Cope is ‘n deurmekaar party.
Hulle bly in die nuus vir die verkeerde redes.

Koos 100 ·

Daar is soveel skorsings by COPE dat niemand meer die mag het om iemand te skors nie! Eish!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.