Covid-19-gevalle aan’t styg in Wes-Kaap

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kelly Sikkema / Unsplash)

Covid-19-gevalle het die afgelope week skerp gestyg in dele van die Wes-Kaap, veral in Kaapstad en dorpe soos De Doorns, Rawsonville en Worcester.

Dié provinsie het al maande lank die meeste koronavirusgevalle in die land.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMRC) sê hy het die afgelope week konsentrasies van die koronavirus in Kaapstad en dele van die provinsie gewaar wat “maande laas waargeneem is”.

“Die toename in die SARS-CoV-2 RNA-konsentrasie in ons afvalwaterprogram stem ooreen met ʼn toename in die persentasie positiewe Covid-19-toetse wat onlangs deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) aangemeld is,” sê prof. Glenda Gray, president en uitvoerende hoof van SAMRC.

Dié navorsingsraad bedryf al vir twee jaar ʼn toesigprogram vir koronavirus by meer as 80 afvalwatersuiweringsaanlegte in ses provinsies in die land. Dit is onderneem om te help om tendense in die pandemie vas te stel.

Die departement van gesondheid het in sy jongste opdatering oor die Covid-19-gevalle in die land gesê dat die Wes-Kaap tans 1 663 aktiewe gevalle het. Dié provinsie het tans die meeste gevalle, met die Vrystaat (1 374) en Gauteng (888) wat kort op sy hakke volg. Die minste aktiewe gevalle is Woensdagaand in Noordwes (41) aangeteken.

Nuwe gevalle het reg oor die land, maar veral in Kaapstad, vanaf September weer begin toeneem. Daar is nou altesaam 5 430 aktiewe gevalle in die land, met 1 723 nuwe gevalle wat in die afgelope week aangemeld is. Dit totale aantal nuwe gevalle wat in ʼn week aangeteken is, het sedert 5 Oktober met byna 150 gevalle toegeneem.

Prof. Angela Mathee, ʼn lid van SAMRC se afvalwatermoniteringspan, sê dieselfde mate van stygings in RNA-konsentrasies wat in die Wes-Kaap se afvalwater gewaar is, is nog nie in die ander vyf provinsies opgemerk nie. Die ander provinsies is Gauteng, die noorde van KwaZulu-Natal, Limpopo, die Oos-Kaap en die Vrystaat.

“Ons sal noukeurig aandag aan volgende week se resultate gee om vas te stel of daar verdere veranderinge plaasvind,” sê sy.

“Dit sal goed wees as diegene wat veral die risiko loop om Covid-19 op te doen oor die volgende paar weke weer basiese beskermingsmaatreëls toepas soos om maskers te dra, oorvol binnehuise ruimtes te vermy en op higiëne te let.”

Maroela Media het in Augustus reeds berig dat ʼn sesde vlaag “binne die volgende maand” verwag word. Gevalle het egter nie toe noemenswaardig gestyg nie. Kenners hoop dat ʼn volgende vlaag nes die vorige vlaag ʼn matige een sal wees.

Die SARS-CoV-2 RNA-konsentrasie in die afvalwaterprogram per metro. (Foto: SAMRC)

Die SARS-CoV-2 RNA-konsentrasie in die afvalwaterprogram per distrik. (Foto: SAMRC)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pietertjie ·

Interessant dat dieselfde storie ook nou in Europa opduik. Toevallig, né…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.