Covid-19-samevatting: 80 SA’ners uit Rome gerepatrieer

Minister Naledi Pandor (Foto: DIRCO South Africa, Twitter)

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het gesê ’n groep van 80 Suid-Afrikaners is Saterdag uit Rome in Italië na Suid-Afrika gerepatrieer. Die groep is reeds in kwarantyn geplaas.

Clayson Monyela, woordvoerder van die departement, het in ’n verklaring gesê twee vliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het reeds uit Frankfurt in Duitsland met 305 Suid-Afrikaners vertrek na Suid-Afrika. Een van die vliegtuie sou Egipte aandoen om 34 Suid-Afrikaners op te tel wat tans in dié land gestrand is.

Monyela het gesê die departement doen alles in sy vermoë om Suid-Afrikaners in die buiteland te repatrieer. Meer as 600 landsburgers is reeds van Brasilië, die VSA, Italië, Duitsland, Brittanje, Maledive, Nigerië en Namibië na Suid-Afrika teruggebring.

Die departement het egter ’n beroep op Suid-Afrikaners in ander lande, ondermeer Peru, Indonesië en Thailand, gedoen om geduldig te wag terwyl die departement pogings ondersoek om ook hulle na Suid-Afrika te kan terugbring.

“Ons pogings word beperk deur regulasies wat ingestel is om die beweging van mense wêreldwyd te beperk. Die departement wil egter alle Suid-Afrikaners wat in die buiteland gestrand is, verseker dat ons alles binne ons vermoë doen om hul terugkeer huis toe te vergemaklik,” het Monyela gesê.

Presidensiële adviesraad vergader

Foto: Presidensie

Meer as 100 000 huishoudings is reeds van kospakkies voorsien sedert die algehele landwye afsondering ingestel is.

Die presidensiële adviesraad het Saterdag virtueel met die president vergader waartydens daar bekend gemaak is dat die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) meer as R400 miljoen opsy geplaas het om om nog kospakkies en koskoepons onder behoeftige huishoudings te versprei gedurende die afsonderingstydperk.

Die adviesraad bestaan uit ministers, premiers, die uitvoerende burgemeesters van metrorade en die leierskap van die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regering. Pres. Cyril Ramaphosa het dié vergadering gelei.

Luidens ’n verklaring deur die presidensie is die adviesraad dit eens dat pogings op ’n baie groter skaal uitgevoer moet word om in die nood van Suid-Afrikaners te voorsien. Dit sluit nie net die verspreiding van kospakkies in nie, maar ook die verspreiding van nog watertenks.

Die adviesraad het tydens die vergadering ook bespreek wat die geleidelike ophef van die algehele landwye afsondering sal behels.

Sakeliga stel ultimatum aan minister Patel 

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. Foto: Morné Prinsloo

Die sakeorganisasie Sakeliga het Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, tot Maandagoggend gegee om sy besluit oor die verbod op produksie en verkoop van voorbereide, warm en gekookte kos tydens die afsonderingstydperk terug te trek. Sou hy dit nie doen nie, sal die organisasie hom na ’n hof wend.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het in ’n verklaring gesê die organisasie is geadviseer dat daar geen regmatige beperking op die produksie van dié soort kos is soos wat die minister en sy departement aandring nie.

“Nie net is hierdie regulasies nooit gepromulgeer nie, maar die blote idee dat die verkoop van warm, gaargemaakte of voorbereide kos gestaak behoort te word is irrasioneel en skadelik vir die openbare gesondheid. Elke kositem op die winkelrakke is iewers in sy produksieketting verhit, gaargemaak of op een of ander wyse voorberei,” meen Le Roux.

Le Roux verduidelik hoewel die bedrywighede van restaurante verbied word, is daar geen regulasie wat die verkoop van gaar of vooraf voorbereide kos verbied nie.

“Alles van pasta tot blikkieskos tot brood tot groente tot kouevleis tot melkprodukte is verwerk. Dit is ’n onmoontlikheid in die reg om te definieer wat die minister en sy amptenare ‘onwettig’ verklaar het. Dit dien net om informele handelaars, sowel as klein- tot middelslag ondernemings te intimideer. Dit laat die kosvoorraad afneem – en so ook laat dit pryse styg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Fae Fubar ·

Hoe gaan die spreekwoord? “Too many Chiefs and too few Indians!” Daar is ‘n wêreldwye krisis en elkeen wat iemand is, wil na vore tree vir sy 15 sekondes in die kollig. As elkeen fyn tussen die gepromulgeerde regulasies wil lees en hul eie vertolking daarvan wil implementeer, gaan dit ‘n Babelse verwarring teweegbring. My mapstieks man: as ons helde op die voorste linies doodmoeg huis toe gaan, wil hulle die voorreg hê om by Woollies of iewers ‘n warm ete te kry. Hoe pateties om selfs die kleinste gerief van mense te weerhou. Drank, sigarette, kos… Wat volgende?

Die Wolf ·

Ek wonder of hulle regsmense nie eers die regulasies deurgaan voordat dit van krag word. Is dit dalk pure arrogansie wat wil bewys dat ek sal regulasies promulgeer omdat ek kan sonder regsadvies. Ek hoop die Sakeliga dagvaar met koste.

marius ·

Hierdie mense het geen idee wat die gevolge gaan wees nie . Hulle het nog nooit hongersnood beleef nie . Daar gaan ook nie van die Weste enige hulp wees nie , want daar moet na hul eie mense omgesien word . Wat se gebeurlikheids planne het hulle ?

lekkerdink ·

China is die groot sondebok . Ek het besluit om van nou af geen of so min as moontlik produkte van China te koop. ek het vae plan oor wat moontlik gedoen kan word . Met die skenking bevoordeel hulle dadelik hulle ekonomie en wys dat hulle ,,OMGEE,, Ongelukkig net vir hulself. Ek volg alle berigte noukeurig op al die webwerwe want ek skryf n joernaal oor elke dag se belangrikste nuus en iets klop nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.