DA eis ondersoek ná brand by lughawe

Die Pilanesberg Internasionale Lughawe was Dinsdagmiddag in vlamme (Foto: Skermskoot)

Die DA het Woensdag die provinsiale regering van Noordwes en die polisie gevra om die moontlikheid van ekonomiese sabotasie in dié provinsie te ondersoek.

Dié oproep kom nadat ʼn verwoestende brand Dinsdag by die Pilanesberg Internasionale Lughawe uitgebreek het.

Freddy Sonakile, die DA se koukusleier in die provinsiale wetgewer, sê nou die opposisieparty het net vroeër vandeesmaand ʼn onaangekondigde inspeksie by die lughawe uitgevoer en op ʼn oop (en onbemande) bedienerkamer afgekom “wat op sigself ʼn ernstige brandrisiko ingehou het”.

Sonakile sê die bedoeling van dié inspeksie op 11 Augustus was hoofsaaklik om die opknappingsprojek te monitor wat die departement van gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur geloods het.

“Daar was egter geen teken van enige herstelwerk of instandhouding wat plaasvind nie. Daar was ook geen kontrakteur of instandhoudingsmaatskappy op die perseel nie. Ons het reeds deur die wetgewer ʼn skriftelike navraag aan Sello Lehari, die LUR, gerig om die afwesigheid van enige werk by die Pilanesberg-lughawe te verduidelik.”

Die party vermoed nou daar skuil veel meer agter vandeesweek se brand by die lughawe én die sogenaamde sporadiese brande wat die afgelope paar jaar infrastruktuur van kardinale belang in Noordwes in puin gelê het. Dit sluit in die Christiana-hospitaal, die Mmabatho Palms-oord, ʼn afdeling van die departement van maatskaplike ontwikkeling se kantore, ʼn afdeling van die departement van landbou se kantore, die Lichtenburg-afvalbanddepot en die Potchefstroomse treinstasie.

“Hierdie brande vernietig belangrike infrastruktuur wat nodig is om dienste aan inwoners te lewer. Die vernietiging wat deur brande teweeggebring word, bedreig nie net die veiligheid van inwoners nie, maar het ook ʼn negatiewe impak op ekonomiese ontwikkeling, ekonomiese groei, werkskepping en sekuriteit – alles aspekte wat beleggers lok.

“Hierdie brande moet deeglik ondersoek word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Ek het gedurende 2019 ‘n besoek aan hierdie stukkie juweel in die Bosveld gebring en was verbaas om te sien dat daar GEEN dienste of onderhoud aan hierdie infrastruktuur meer gedoen was nie. Die enkele amptenare het doelloos in die moderne fasiliteite gesit en pap eet, wat hul vir hulself voorberei het.

Geen kafeteria of kiosk was beman, of ingerig om aan ‘n besoeker eers ‘n glas water te verskaf nie. Wilde ape het in en om die perseel gespeel en was vir besoekers eerder ‘n las as ‘n aantrekkingskrag. Dit was voorwaar hartseer om so ‘n mooi fasiliteit in sulke onbekwame mense se hande te los. Dus is die vernietiging geensins ‘n verassing nie!

Karoo ·

En nou sit almal vir die volgende 6 maande plus by die huis met vole salaris, 13de tjek en voordele….. klink na ‘n blink plan!!!!

Ryan ·

Die kaders soek tenders. Baie ander infradtruktuur gaan nog verwoes word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nuwe en groter lughawe, met Mandela se 3 meter standbeeld.

christo ·

Dit is opvallend dat wanneer ‘n kader tenderaar nie die werk behoorlik kon doen nie of selfs glad niks gedoen het nie, dan vind daar hierdie ” onverklaarbare” brande plaas. Een manier om van die
bewyse ontslae te raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.