DA kap terug ná ActionSA se ‘aanval’ oor loonverhogings

Die DA se Solly Msimanga. (Argieffoto: John Steenhuisen/X)

Die DA in Gauteng het teruggekap na ActionSA na dié party se “aanval op die grondslag van die Tshwane-koalisieregering” deur hom te distansieer van besluite waarin die party ʼn deurslaggewende rol gespeel het.

ActionSA wou Donderdag ʼn mosie indien wat die burgemeester van die Tshwane-metroraad, Cilliers Brink, sou dwing om met stakende metro-werkers te onderhandel. Die metro word nou al maande lank lamgelê weens ʼn arbeidsgeskil oor ʼn 0%-loonverhoging aan werkers.

Dit het gelei tot verskeie aanvalle op die metro se infrastruktuur en bates.

“In ʼn bisarre wending, het die polities opportunistiese ActionSA ʼn openbare aanval geloods op die einste besluit waarvoor hy vroeër vanjaar gestem het,” sê Solly Msimanga, die DA se premierskandidaat in Gauteng.

Msimanga sê nadat ActionSA ten gunste van die Tshwane-metro se begroting gestem het – wat die 0%-verhoging ingesluit het – het ActionSA die besluit as ʼn stap in die regte rigting bestempel om finansiële bestendigheid en goeie regering te herstel, terwyl dienslewering aan alle gemeenskappe versnel word.

“Hulle kies nou om ʼn mosie na die raad te bring wat gemik is daarop om hulle te distansieer van die begroting waarvoor hulle gestem het, maar selfs meer kommerwekkend, die koalisie self,” sê hy.

“Die burgemeester en sy span het sterk gestaan teen die onwettige optrede van mense en organisasies wat gelei het tot ongekende geweld en verwoesting. Die einste toerusting en infrastruktuur wat nodig is om dienste aan mense te lewer, word in hierdie onwettige staking verwoes.”

Msimanga sê die DA “stel nie belang in goedkoop politieke speletjies” wat ActionSA oënskynlik wil speel nie.

“Die DA konsentreer daarop om die onwettige optrede en die gevolge daarvan te beëindig sodat die inwoners van die metro nie langer as gyselaar gehou word deur dieselfde mense wat veronderstel is om dienslewering te verseker nie.”

Dit is boonop misleidend van ActionSA om daarop te sinspeel dat die burgemeester die loonooreenkoms onderhandel en onderteken.

“Dit is blatant vals; dit word nasionaal beding en word by alle munisipaliteite ingestel. Die burgemeester het kwytskelding gevra omdat, soos alle partye in die metro weet, die verhoging onbekostigbaar is.”

Die DA gaan egter nie handdoek ingooi en toegee dat intimidasie en geweld besluite oor belangrike kwessies vir die stad se inwoners dikteer nie.

“Ons kan nie goedkeur dat besluite met ʼn vuurwapen teen ons koppe geneem word nie.”

Msimanga sê ook die stad se bestuur kan nie swig tydens die eerste teken van teëspoed nie.

“Koalisie-eenheid is nou belangriker as ooit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amelia ·

en intussen betaal inwoners steeds vir askanne wat nou al maande nie leeg gemaak is nie Al die skande wat al aangerig is is seker al meer as die verhoging Ek dink hier sit meer agter as op die oog af Is dit die werkers wat skade aanrig of heeltemal iemand anders As die busse bv weer ry wie gaan geld verloor want hoe kom mense nou by werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.