DA misbruik Joslin-saak vir politieke gewin, sê polisie

Joslin Smith (6) van Saldanhabaai word sedert verlede Maandag vermis. (Foto: Facebook)

Die polisie beskuldig die DA daarvan dat hy die saak van die vermiste Saldanha-dogtertjie, Joslin Smith (6), vir politieke gewin uitbuit.

Die polisie verwys in die besonder na ʼn plakkaat waarop die DA se naam en ʼn foto van Joslin verskyn.

Dié plakkaat dui aan dat Bheki Cele, polisieminister, aan die soektog na die kind onttrek het, terwyl die Stad Kaapstad ingespring het om die saak oor te neem, al het hulle minder hulpbronne.

“Die ministerie het met absolute afgryse verneem van ʼn plakkaat wat die party op sosiale media versprei en wat die publiek mislei oor die betrokkenheid van die Suid-Afrikaanse polisiediens in die aktiewe soektog na die sesjarige Joslin Smith wat op 19 Februarie in Saldanhabaai in die Wes-Kaap verdwyn het,” het Cele Vrydag gesê.

Die minister besoek vandag (Saterdag) Saldanhabaai om die gemeenskap toe te spreek.

Die plakkaat wat die DA, volgens die polisie, uitgereik het.

Cele sê die DA het ʼn “nuwe laagtepunt” bereik deur “ʼn sensitiewe, hartseer saak van ʼn vermiste kind” te verpolitiseer om stemme te werf.

Hoewel die stad wel bykomende hulpbronne op versoek van Saldanhabaai se burgemeester, André Truter, beskikbaar gestel het nadat die polisie hul soektog afgeskaal het, is dit egter nie seker of die plakkaat inderdaad die party sʼn is nie.

Dit is nie op die DA se nasionale of provinsiale sosialemediaplatforms gedeel nie en ook nie op enige van die DA-leiers se profiele nie.

Die polisie is nietemin woedend en voer aan dat slegs die polisiehelikopter aan die soektog onttrek is.

Mediakonferensie van die regering se interdepartementele groep belas met justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: GCIS)

“Die polisie se honde-eenheid, beamptes en ondersoekers soek egter steeds aktief na Joslin.”

Lt.kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het Woensdag gesê hul grootskaalse soektog het nog geen teken van die kind opgelewer nie, ondanks talle hulpbronne wat ingespan is om haar te vind. Vandaar die besluit om die soektog af te skaal.

Dit het Truter genoop om Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, te kontak.

Ná ʼn vergadering met Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, en JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het Truter ʼn amptelike versoek aan die stad gerig vir mannekrag en hulpbronne om die soektog voort te sit.

Die stad het ingestem en Donderdag sy eie polisiëringshulpbronne in Saldanhabaai ontplooi om na Joslin te help soek.

Dit sluit snuffelhonde, hommeltuie, lede van die marine-eenheid en bote asook ervare soek- en reddingsvrywilligers in.

Maroela Media het berig dat Joslin meer as ʼn week gelede van haar huis in die Middelpos- informele nedersetting in Saldanhabaai verdwyn het. Niemand is al in verband met haar verdwyning in hegtenis geneem of as amptelike verdagtes deur die polisie geïdentifiseer nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.