Kaapstad help soek na vermiste Joslin

Joslin Joshlin Smith, vermis, Saldanha, Diazville, gesoek

Die vermiste Joslin Smith (6) van Saldanha in die Wes-Kaap. (Foto: Wes-Kaap Polisie)

Die Stad Kaapstad het Donderdag sy eie polisiëringshulpbronne in Saldanhabaai ontplooi om na die vermiste Joslin Smith (6) te help soek.

Dit sluit snuffelhonde, hommeltuie, lede van die marine-eenheid en bote asook ervare soek- en reddingsvrywilligers in.

Die stad het dié hulpbronne ontplooi ná ʼn versoek vir steun van André Truter, burgemeester van Saldanhabaai, aan die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, nadat die polisie sy soektog na die dogtertjie afgeskaal het.

Truter stem nie saam met die polisie se besluit nie en sê dat pogings om haar op te spoor inteendeel verskerp moet word.

Joslin het meer as ʼn week gelede van haar huis in die Middelpos- informele nedersetting in Saldanhabaai verdwyn.

Lt.kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê hul grootskaalse soektog het nog geen teken van die kind opgelewer nie, ondanks talle hulpbronne wat ingespan is om haar te vind. Daaruit spruit die besluit om die soektog af te skaal. Die amptelike ondersoek duur egter voort.

Truter sê hoewel hy nog altyd respek vir die gereg het en besef dat die polisie moontlik ʼn tekort aan beskikbare fondse het om die soektog voort te sit, is die opsporing van klein Joslin “van uiterste belang”.

Ná ʼn vergadering met Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, en JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, het Truter ʼn amptelike versoek aan die Stad gerig vir mannekrag en hulpbronne om die soektog voort te sit. Samesprekings het laat Woensdagaand voortgeduur.

Joslin Smith (6) van Saldanhabaai word sedert verlede Maandag vermis. (Foto: Facebook)

“In besonder het ek gevra vir ondersoekers, ʼn honde-eenheid, ʼn watervleuel, ʼn hommeltuigeenheid en professionele soek- en reddingsvrywilligers,” het Truter gesê.

“Ek is bly om te meld dat dié versoek onmiddellik deur die Stad Kaapstad goedgekeur is.”

Soekspanne is tans op die toneel.

“Ons beamptes is reeds vanoggend [Donderdag] op die grond om te help soek na Joslin Smith,” het Hill-Lewis Donderdag gesê.

“Vir ons wat self ouers is, is dit uiters pynlik en ontstellend dat hierdie dogtertjie steeds vermis word. Ons bid sy word gou gevind.”

Smith sê die spanne wat na Saldanhabaai gestuur is, het uitgebreide ondervinding om die polisie by te staan, asook soek- en reddingskundigheid.

“Ons weet hierdie beamptes sal waardevolle vaardighede tot die soekpoging voeg.”

Smith sê die onderskeie munisipaliteite sal deurlopend met mekaar in kontak wees om te reageer waar nodig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Misky ·

Hoop en bid sy word eindelik gevind. Snaakse stemmetjie ongelukkig in my agterkop en gister video gesien waar die kerel ondervra is. Hoop ek is verkeerd

Casper ·

Nee Misky jy is nie verkeerd nie.Realiteit is waarna ons moet kyk.Sy sal wel gevind word maar daar is geen waarborg dat sy nog lewe nie.

Jacobus ·

Ek stem saam, die kerel is die een wat haar laas lewendig gesien het. Begin sommer by hom.

George ·

@Jacobus, en jy dink hulle het nie? Hy is ook nie die laaste een nie.

Casper ·

Wel George dan wèt jy meer as ons.Hy weet meer as wat hy wil voorgee

Samuel ·

Dit is baie hartseer dat so-iets gebeur het. Mens het nie woorde nie. Al is dit ook net vir politieke gewin, het Hill-Lewis die regte besluit geneem om hulp te verleen met die soektog. Voorspoed aan almal wat betrokke is.

Juanita ·

Waar is die soekspanne en honde? Waar? Dis al laat middag en daar is geen teken van hulle nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.