DA skop vas teen BTW-verhoging

(Argieffoto: Maroela Media)

Verbruikers kan binnekort tot breekpunt gedruk word te midde van nog ʼn moontlike rentekoersverhoging, immer stygende brandstofpryse en skerp prysstygings in die vervoersektor, vir krag en natuurlik kos.

Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies, sê verskeie berigte dui daarop dat Enoch Godongwana, minister van finansies, dit oorweeg om die BTW-koers te verhoog in ʼn poging om verwagte inkomstegapings wat uit laer as geprojekteerde ekonomiese groei voortspruit, te probeer aanvul.

“Die bespiegeling kom ná hoëvlaksamesprekings tussen die minister van finansies, president van die Reserwebank en pres. Cyril Ramaphosa verlede maand plaasgevind het.”

George sê die nasionale tesourie skarrel intussen om genoeg geld te vind om die regering se onrealistiese bestedingsplanne te finansier.

“Die DA wil dit duidelik stel dat ons enige verdere druk op reeds sukkelende Suid-Afrikaners sal verwerp en enige BTW-verhoging sal teenstaan.

“Augustus se fiskale verslae wat die tesourie vrygestel het, dui daarop dat die meeste staatsdepartemente besig is om hul begrotings teen ʼn ongebreidelde tempo uit te put.

“Die geld sal voor jaareinde in Maart 2024 opraak en die langverwagte surplus, wat ʼn baken van fiskale verantwoordelikheid sou wees, is bloot ʼn lugkasteel,” sê George.

Die tesourie het Ramaphosa glo ingelig dat ʼn verhoging in BTW van 1% tot 2% nodig is vir die regering om meer inkomste te genereer.

“Suid-Afrikaners dra reeds ʼn geweldige belastinglas en sal geen verhoging in belasting – BTW ingesluit – duld nie.”

Lewensgehalte weggekalwe

George meen die hoofoorsaak van die regering se finansiële krisis is die gebrek aan ekonomiese groei en toekomsvooruitsigte.

“Met onvoldoende groei word die regering se vermoë om die nasie se maatskaplike veiligheidsnet in stand te hou, in die gedrang gestel en hy moet hom nou wend tot maatreëls wat van sukkelende Suid-Afrikaners sal vereis om selfs dieper in hul sakke te delf en selfs meer kos van hul tafels af te haal.

“Voedselpryse styg steeds teen ʼn kommerwekkende tempo. Die regering gee blykbaar nie om dat die armste 40% van Suid-Afrikaners die grootste deel van hierdie stygende koste dra nie,” sê George.

“Die gevaar van voedselprysinflasie vereis dadelike en beslissende regeringsoptrede.

“Pleks daarvan om BTW te verhoog, sal ʼn DA-regering die las op laerinkomstehuishoudings verlig deur noodsaaklikhede soos hoender aan die been, beesvleis, geblikte bone, koringmeel, margarien, grondboontjiebotter, babakos, tee, koffie en soppoeier alles BTW-vry te maak.”

Thys van Zyl, uitvoerende hoof van Everest Wealth, waarsku ook dat verbruikers hulle sal moet staal te midde van “nog skerp prysstygings wat hul lewensgehalte wegkalwe”.

“Verbruikers sal proaktief met hul geldsake te werk moet gaan terwyl hulle al hoe nader aan die rand van die afgrond gestoot word.

“Die rentekoers is sedert November 2021 al met 4,75 persentasiepunte verhoog en nog ʼn moontlike verhoging presies twee jaar later lê weer voor,” sê Van Zyl.

“Nog ʼn rentekoersverhoging sal veroorsaak dat verbruikers selfs meer sukkel om kop bo water te hou en moontlik nie meer die paaiemente op hul huis, motor, kredietkaart of persoonlike lenings kan bekostig nie.

“Die hoër rentekoers beteken ook dat verbruikers nog dieper sal moet delf met kredietkaart- en winkelskuld wat al hoe duurder word.”

Van Zyl sê die gemiddelde salaris in die land verhoog nie teen dieselfde koers nie en dat Suid-Afrikaners al hoe armer raak.

“Die hoë lewenskoste weens alewige prysstygings dwing verbruikers om meer skuld te maak en dit is ʼn bose kringloop. Betaaldaglenings skiet op en verbruikers onttrek beleggings om met stygende lewenskoste by te hou.

“Verbruikers het reeds genoeg bekommernisse, tog is daar gerugte dat BTW moontlik verhoog kan word om toelaes aan te hou befonds terwyl daar ook sprake van belastingverhogings is om die staat se projekte, soos die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), te finansier.

“Dit is nou belangriker as ooit dat verbruikers behoorlik moet begroot om seker te maak dat hulle met die prysstygings kan byhou. Elke ekstra sent moet gebruik word om skuld af te betaal en te probeer spaar om ʼn noodfonds gereed te hê,” sê Van Zyl.

Solidariteit het ook al gewaarsku dat die voorstel om BTW met tot twee persentasiepunte te verhoog, “waansinnig” sal wees en dat dit reeds kwesbare huishoudings onder selfs groter druk gaan plaas. Navorsing wys boonop dat ʼn styging in BTW nie tot die verwagte verhoging in staatsinkomste sal lei nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

tweeling ·

Hierdie ‘regering’ het geen idee hoe om ‘n land te bestuur nie, stel net belang hoeveel in hulle sakke kan beland

Bernard ·

13 000 000 kindertoelaes teen R510 elk per maand – R6.6-miljard/maand! Waansin

Fanie ·

Paar jaar gelede – my seun was so 5 jaar oud – het hy sy kop oopgekap by ouma in die Karoo. Ons moes maar na staatskliniek toe – ons het privaat medies , maar ek was onder die indruk dat alle kinders darem nog x hoeveelheid van staats medies af kry. Maand later kry ek helse rekening van staatshospitaal af, vir meer as wat dit by privaat hospitaal sou kos. Soos die gesegde gaan All Animals are equal, some are just more equal than others……

Johan Botha ·

Om nie te noem die astronomiese salarisse wat aan onbevoegde en geskorsde en nie werkende amptenare in die regering en munisipaliteite uitgegee word nie…!

Billy ·

Eintlik n briljante idee maar net 50% deurdink.
Verhoog btw tot 20% en verlaag persoonlike en besigheids belasting met die helfte…. dan betaal al die belasting ontduikers en onwettige immigrante ten minste iets wat bydrae tot die skade wat hulle aan ons vaderland aanrig…… wen wen vir my

Waarnemer ·

Tyd dat die mense besef(blank en nie blank) dat die korrupte regering n veer voel vir alle SA ners.

Johanncb ·

Liewe aarde! Absolute gekheid! Binnekort sal net Ministers met al hulle voordele kos op die tafel kan bekostig! As hulle nie dalk reeds subsidie daarvoor ontvang nie!

Andries ·

Kom ons begin met n 1 – 2% vermindering in Staatsamptenare en n 10% vermindering in Alle Staatsdiens Miljoeners se salaris + byvoordele

Ryan ·

As dié sotlikheid wel gaan plaasvind moet ALMAL slegs die noodsaaklike aankooop sodat die regering minder belasting as voorheen inwin. Alle huis en tuin en ander onnodige werkers moet deur ons afgedank word sodat hulle nie geld het om goedere aan te koop nie. Geen geld aan karwagte en bedelaars nie. Ons sal die regering baie seer maak as hulle hiermee voortgaan.

Elma ·

en wat sal die regering se teenvoeter wees indien hulle inkomste minder word? Maar net NOG verhogings.

Pinoccio ·

Maar die wie die swaarste kry sal waaragtig weer vir die cancer loop stem…

Papsak ·

Ja nee kyk hulle onbevoeg om die land te regeer want hulle sal ons nou druk met alles ten hoogste te verhoog want baie gaan in hulle sakke in

annie ·

Julle verstaan nie. Die ANC se agtergeblewenes sal altyd agter moet bly en dus nie méér hoef te betaal nie. Almal sal by verkoopspunte nou ‘n bewys moet lewer dat hul nie wit is nie en word glo dan sommer van alle verkoopsbelasting vrygestel. Die minister van kraglaagtepunte sal na bewering dit binnekort aankondig. Poskantore sal hierdie bewyse sommer saam met Sassa hanteer. Die kanse is glo goed dat raskleurkaarte teen die einde van die maand gereed sal wees.

Gerhard ·

Annie, as dit werklik gaan gebeur, wat ek hoop nie gaan gebeur nie, dan is dit absoluut niks anders en selfs erger as “appartheid”. Dit is ‘n skande, regtig. Dit maak mens heeltemal negatief.

Pawiljoen Rot ·

Hulle kan dit op stoot na selfs 50% as hulle wil. Dit gaan op die ou einde ook nie saak maak nie, As jy te onbevoeg is om die werk reg te doen, is dit net ‘n kwêssie van tyd voor jy weer uit geld uit hardloop.

bolletjie blom ·

Ek hoop hulle kry soveel teenkanting en word summier in hulle spore gestuit. Hoekom moet ons so erg belas word. Mense kan net nie meer nie.

lodewyk ·

Omdat die cANCer regering mos net toelae links en regs uitdeel,nou moet die mense almal daarvoor boet,dit is n bose sirkel en die klomp het geen benul wat hulle doen nie,kom 2024 se verkiesings.

Ronél ·

‘n Goeie vriend het eendag gesê: ” jy kan nie teen donderweer poep nie”

Elma ·

Jan Publiek “Verwerp” ook al die verhogings. Vir wat dit werd is. Verwerp is maar net n woord en beinvloed nie enige besluitneming nie. Erens moet NGV befonds word.

Wondermaarnet ·

Dit is beter om BTW te verhoog, want dan sal ALMAL in die land die verhoging betaal op goedere en dienste en nie net sekeres nie. Indien die BTW nie verhoog nie, sal individue se inkomstebelasting net meer styg en dit benadeel slegs seker mense in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.