Dan Marokane as nuwe groepshoof van Eskom bevestig

Dan Marokane (Foto: Dan Marokane/LinkedIn)

Die raad van Eskom het Vrydag bevestig dat Dan Marokane as nuwe groepshoof van Eskom aangestel is.

“Mnr. Marokane is ʼn gekwalifiseerde chemiese ingenieur met ʼn MBA. Hy is ʼn ervare uitvoerende beampte met meer as 20 jaar ervaring op senior leierskapsvlak. Hy sal teen 31 Maart 2024 by Eskom aansluit,” het die raad in ʼn verklaring gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat daar amper ʼn jaar lank na ʼn nuwe kandidaat gesoek is.

Volgens mediaberigte is daar besluit op Marokane wat voorheen as Eskom se hoof van groepkapitaal gedien het en tans uitvoerende hoof van Tongaat Hulett is. Eskom het in reaksie op die berigte gesê die aanstelling van sy uitvoerende hoof “is by die aandeelhouer” en dat ʼn aankondiging gemaak sal word sodra daar ʼn besluit geneem is.

Marokane keer terug na Eskom ná hy en drie ander senior uitvoerende lede geskors is oor die standpunt wat hulle ingeneem het teen staatskaping, bedrog en korrupsie.

Volgens Mteto Nyati, voorsitter van die Eskom-raad, volg Marokane se aanstelling ná ʼn lang en deeglike werwingsproses.

“Dan het ervaring in die bestuur van komplekse strategiese, bedryfs- en handelomkeerstrategieë in die privaat- en openbare sektor. Hy het ook ʼn indiepte kennis van die Eskom-omgewing. Hy lei van voor af. Hy sal dadelik inspring. Dit is wat Eskom en Suid-Afrika nou nodig het,” het Nyati bygevoeg.

“Dit is ʼn eer om gekies te word om Eskom in hierdie kritieke tydstip van sy geskiedenis te lei,” het Marokane gesê. “Ek sien uit daarna om met die leierskapspan, die raad van Eskom, die aandeelhouer en ander belanghebbendes saam te werk om die implementering van die kragopwekkingsherstelplan te bespoedig om ʼn volhoubare toekoms vir Eskom te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fanie ·

hoe kan iemand se hulle het 20 jaar se senior uitvoerend bestuursvlak ervaring….en hulle is 50

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.