Daniël (15) verloor gesondheidstryd

Daniël Beetge. (Foto: Verskaf)

Daniël Beetge, die 15-jarige Fanconi-anemielyer wat harte aangegryp het met sy moedige stryd teen leukemie, het Sondag sy stryd verloor.

Volgens Jeanette Beetge, Daniël se ma, het ʼn infeksie in sy ingewande die oorhand gekry en uiteindelik Daniël se lewe geëis.

Weens die chemoterapiebehandeling, asook die resessiewe beenmurgsiekte waaraan hy gely het, was sy liggaam nie sterk genoeg om weerstand teen die infeksie te bied nie.

Jeanette het Donderdag aan Maroela Media gesê sy, haar man, Willie, en Daniël se 11-jarige sussie, Julia, is verpletter deur sy afsterwe.

“Ons huil maar baie, maar ons is ook besig om dinge vir die begrafnis in plek te kry. Dit help om op iets anders gefokus te wees, maar ons is gebroke.”

Jeanette het vroeër aan Maroela Media vertel Daniël was ʼn slimkop wat ʼn Rubik-kubus in onder 15 sekondes kon oplos en hy het ook graag aan sogenaamde SpeedCubes-kompetisies deelgeneem.

Hy het ook homself geleer elektriese kitaar speel en was mal oor sy troetelslange voordat hy hulle moes weggee weens sy leukemie-diagnose en gevolglike behandeling wat hy daarvoor in die hospitaal moes kry.

Daniël en sy sussie, Julia. (Foto: Verskaf)

In ʼn gedenkbrief skryf Jeanette hoe Daniël en Julia saam sou lag en gesels as die krag af is. “Dit het die huis gevul. Hulle was so lief vir mekaar. Hy het haar beskerm en vir haar opgekom, en sy vir hom. Hulle het graag saam op die vierwielmotorfiets op die plaas rondgery. Julia het haar beste maatjie verloor.”

Sy sê die huis gaan stil wees sonder die geklik-klak van Daniël se kubus. “Sonder die klanke van sy kitaar, sonder die klanke van Metallica, sonder die skielike verskyning van ʼn seun wat sommer bietjie wil gesels of wil kom vertel van een of ander nuwe gadget, fliek of speletjie.

“Ons, as ouers, sal verlang na die warm gevoel wat dit in ons gewek het wanneer hy die woorde ‘Pappa’ of ‘Mamma’ sê. Ons sal die herinnering van buite om die vuur sit en kuier met musiek in die agtergrond vir ewig in ons harte koester.”

Jeanette benadruk hoe belangrik dit is om bloed en beenmurg te skenk. “Mense dink dit is ʼn geringe ding. Dit is nie. Vir jare het dit my kind aan die lewe gehou.”

Sy voeg by dat hulle as gesin vir Daniël geweldig gaan mis.

“Ek, Willie en Julia gaan vir ewig gebroke bly.”

Daniël se begrafnis vind Saterdag om 11:00 in sy tuisdorp van Lephalale, Limpopo, plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

KatjieDeKat ·

Ai dis hartverskeurend. My innigste simpatie uit my hele hart aan Daniël se ouers en Julia, en aan almal wat lief was vir hom.

Nettie ·

O. Ek’s so verskriklik jammer om hierdie te lees. My hart gaan uit na sy ouers, maar tog selfs nog meer na daardie dogtertjie. Ek het ‘n dogter en seun van dieselfde ouderdom, en dit breek my in ‘n duisend stukkies om te besef hoe verskriklik julle dogtertjie se verlies is. Ek kan my nie die pyn en hartseer van enige van julle werklik indink nie, maar hoe verskriklik gaan veral sy hom nie mis nie. Elke oomblik, elke dag, en sy’s nog so klein. Hoe moet sy dit verwerk? Waarmee moet sy die gat toemaak? Mag Jesus haar en julle as ouers styf vashou in hierdie tyd. Tot die Wedersiens toe. Sterkte, ons bid vir julle.

Papsak ·

Dankie vir jou moedige geveg om lewe my oe vol trane nou my hart seer vir sy ouers en familie wonde sal weer genees maar in gedagte sal hy voort leef sterkte

Marcello ·

Sterkte aan sy familie en vriende, om ‘n kind te verloor, is seker die ergste dood om te verwerk. RIV. Daniël.

Maria ·

Ek het so gebid vir volkome genesing, ek huil saam met die ouers en sussie, sterkte.

Vanessa ·

Mag hy sag rus by Jesus. Dis seker die seerste seer wat mens kan deurgaan en ek glo nie mens se lewe sal ooit weer dieselfde wees nie, maar vir hom is die pyn verby, dis die wat agterbly wat krag nodig het om elke nuwe dag in die oë te kyk. Mag God julle help deur die moeilike tyd.

Sonblom ·

Daniël, jy was moedig in jou stryd. Rus sag. Innige simpatie aan die familie en vriende.

Eugene ·

Baie jammer om van julle seun se afsterwe te hoor. Ons vertrou op die here.

Sê maar net ·

So, so verskriklik jammer. Mag God julle styf vashou, vertroos, versterk en uiteindelik berusting bring. Baie sterkte. Dit klink asof hy ‘n baie besonderse kind was. So hartseer.

Petrus ·

Ai … my hart is in skerwe vir julle onthalwe. Jammer klink só min, maar nogtans jammer om van julle reuse verlies te verneem.

Willie ·

Dankie vir julle woorde van vertroosting. Ek is Daniël se pa. As iemand meer wil weet oor hom en hoe n mens n verskil kan maak sou ek graag wil help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.