Datalek ‘ontbloot’ SA bitcoin-handelaar

Argieffoto (Foto: MichaelWuensch/Pixabay)

Die volledige transaksiegeskiedenis van die Suid-Afrikaanse bitcoin-handelaar, Mirror Trading International (MTI) is verlede week deur ʼn groep kuberkrakers, Anonymous ZA, gegryp en op die internet vrygestel.

Die name, gebruikersname, e-posadresse, bitcoin-saldo’s en verdienstes wat aan elke rekening gekoppel is deur die kuberkrakers gesien en ʼn afskrif van die data wat op 14 September van toepassing was, is op ‘n donker webwerf genaamd MTILeaks gepubliseer.

Die datalek volg ná daar die afgelope tyd uit verskeie oorde beweer is dat MTI eintlik ʼn piramideskema bedryf en beleggers wêreldwyd gemaan is om hul beleggings te onttrek.

In Suid-Afrika het die finansiëlesektor-waghond, die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA), onlangs gewaarsku dat MTI nie ‘n lisensie het vir die betrokke besigheid wat bedryf word nie. Die organisasie is ook baie bekommerd oor MTI se aktiwiteite.

“MTI beweer dat hy meer as R2,9 miljard van klante in handelsrekeninge het, maar ons kon nie finaal bevestig dat die fondse bestaan ​​nie. Boonop lyk die opbrengste op die beleggings wat MTI beloof, vergesog en onrealisties,” aldus die FSCA se verklaring.

Finansiële reguleerders in Texas en Kanada het ook onlangs alarm gemaak oor MTI se sakepraktyke en dit as ʼn piramideskema beskryf wat misleidende bewerings oor sy opbrengste gemaak het.

MTI gebruik ‘n baie aggressiewe multivlakbemarkingsveldtog wat 10% kommissie aan bestaande kliënte betaal wat nuwe beleggers werf.

Volgens MTI se webwerf is Johann Steynberg, van Polokwane die maatskappy se uitvoerende hoof en stigter. Die hoofkantoor is in Stellenbosch met satellietkantore in Randburg en die Strand.

Die datalek het glo gewys dat MTI Bitcoin-deposito’s van meer as R4 miljard ontvang het en dat sowat R2,9 miljard deur beleggers onttrek is. MTI benodig glo R3,1 miljard om die oorblywende deposito’s en verdienstes van al hul lede te dek maar die beskikbare balans is aansienlik minder.

MTI se bemarkingshoof, Cheri Ward, het die sekuriteitsbreuk vroeër in die media bevestig maar die akkuraatheid van die data wat vrygestel is betwis en volgehou dat die maatskappy nie ʼn piramideskema bedryf nie.

Sy het gesê die sogenaamde tekort in bitcoin wat Anonymous ZA beweer ʼn feit is, is gebaseer op die aanname dat MTI nie handel dryf nie en dis nie die geval nie. “MTI bly gefokus om ʼn diens aan lede te verskaf en ons beloftes na te kom, wat ons tot dusver buitengewoon goed gedoen het.”

Ward het Vrydag aan Maroela Media gesê die kuberaanval was kwaadwillig en onwettig en dat MTI ‘n bewese rekord van meer as 172 000 lede het wat almal tevrede is met die diens en ondersteuning wat hul van die maatskappy ontvang.

Sy sê MTI maak eksklusief gebruik van ʼn kunsmatige intelligensie-bot, ʼn sagteware toepassing wat geprogrammeer is om sekere take uit te voer. “Dit is ons eksklusiewe handelsgeheim en ons hele sakemodel is aan die eksklusiwiteit van die bot gekoppel. Ons doen dus wat ons kan om ons intellektuele eiendom te beskerm.”

Die skeptici bly egter ongelowig. Twee advokate wat tans verskeie piramideskemas ondersoek en beleggers wat geld verloor het bystaan sê dieselfde name kom in die topbestuur van die verskillende “word vinnig ryk-skemas” voor. “Al die skemas stort na ʼn ruk in duie en los dan ʼn klomp goedgelowiges in sak en as omdat hulle al hul pensioen of spaargeld verloor het.”

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) ondersoek byvoorbeeld BTC Global waar 28 000 beleggers sowat R1 miljard verloor het. Die maatskappy het beleggers 14% groei per week beloof voor die stigter, Steven Twain, in 2018 verdwyn het.

“Daar word selfs beweer dat hy nooit bestaan het nie, dis ʼn teksboek ponziskema,” sê die advokate, wat verkies om anoniem te bly.

Hulle sê die staat van inperking was ook die perfekte verskoning om by so ʼn skema betrokke te raak want mense werk van die huis af terwyl ander weer soek na bronne om geld te verdien.

“Dis ook skrikwekkend hoe goedgelowig mense kan wees, hulle doen nie navorsing oor die onderneming nie, kyk nie of dit by die FSCA geregistreer is nie en stel nie vas wie dit bedryf nie, gewoonlik omdat gierigheid oorgeneem het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Jacobus ·

Ek het nog niemand teëgekom wat ‘n bloutjie geloop het met MTI nie. My ervaring van MTI is baie gunstig.

Stebastiaan ·

Wil net graag vir die mense sê wat die berig gepubliseer het dat hulle ‘n klokkie hoor lui het, maar nie weet waar die bel hang nie. Ek is lid van MTI.

Flip ·

Is MTI dan nie in dieselfde bootjie as wat VaultAge Solutions was nie? MTI werk dieselfde as VaultAge soos hulle op Carte Blanche bespreek het of is daar n verskil. Die enigste verskil by my is dat dit lyk of MTI se “klante” se inligting glad nie veilig is nie want hoe het die kuber krakers ingekom of is dit n vals berig op ander nuus kanale ook? So omdat jy n lid is, is jy reg en al die ander verkeerd…..
Gaan werk dit self uit, as jy 10% per maand wins maak op jou belegging soos MTI sê en jy belê R1,000 sonder om die rente te gebruik het jy oor 2 jaar R10,000 wins gemaak! 10% per maand = 214% per jaar……

Lynette ·

Sebastiaan… So dis net TOEVALLIG dat Cheri Ward OOK betrokke was by BTC Global wie se stigter 2 jaar gelede verdwyn het??

Micheal ·

Cheri Ward was ook betrokke by btc global- ons het duisende verloor met die Steven Twain scheme – onttrek julle geld – soos ek se ek het baie verloor. In die begin het dit goed gegaan en so R5000 per week gemaak.

Duane ·

Dit raak nou totaal absurd en belaglik hóé desperaat die FSCA, Moneyweb en selfs nou Maroela Madia raak oor die MTI aangeleentheid! Julle is besig om totaal en al vals inligting oor MTI te versprei maar wat kan mens van julle verwag as Media in SA?
Ek is deel van MTI, en nie die FSCA of enige iemand gaan vir mý sê om my geld te onttrek nie!! Al ooit gewonder hoekom die media so aangaan oor MTI? Omdat MTI ‘n groot gevaar is vir die finansiële sektor soos banke en instansies wat lenings aanbied teen belaglike rentekoerse!! Ek beveel enige iemand aan om te belê in MTI. Ek het finansiële uitkoms gekry by MTI en daarvoor sal ek ewig dankbaar wees.

Flip ·

Dit is nie net Maroela media nie, gaan doen gerus ondersoek.

Duane ·

Net ‘n klein en vinnige idee vir die ou negatiewe klapoog pessiemiste….ek het van die eerste April 2020 ‘n bedrag van R90 000.00 oor die afgelope 6 maande reeds in MTI belê. Tot en met gister die 26 September het ek reeds op verskillende dae R77000.00 onttrek en sit met ‘n balans van R40000.00 wat in my MTI rekening is!! Watter bank of ander belegging kan jou toegang gee tot jou geld en díé tipe van opbrengs gee?

Lynette ·

Duane So dis net TOEVALLIG dat Cheri Ward OOK betrokke was by BTC Global wie se stigter 2 jaar gelede verdwyn het en beleggers nou in sak en as sit nie?? En is dit nie JUIS n kenmerk van n Ponzi-skema dat dit aanvanklik GOED gaan nie? En jy SAL sê dat daar niks fout is nie…want jy kry 10% kommissie op elke klië t wat jy werf!

Carl ·

Hoe sterk is die kriptostelsel as dit gebreek kan word? Is dit nou Bit Coin, of Bitter Coin?

Zacahara ·

Lw: dis nie die kriptostelsel (ek neem aan dis ‘n mooi Afrikaanse woord vir “blockchain”?) wat gebreek is nie. Dit was sekere sensitiewe en persoonlike data van beleggers & transaksies, as ek reg verstaan, wat die kuberkrakers na bewering onregmatig bekom het.

Anischca ·

Kyk julle hou daarvan om vir mense net die helfde van die storie te vertel…. Die saam teen MTI was uit ge gooi omdat hulle geen bewys kon kry dat MTI iets verkeerd doen nie…

Ek is al lank n lid van MTI en ek het nog nooit in my lewe verloor deur hulle nie… Inteendeel… Dit was die beste keuse wat ek nog ooit in my lewe ge maak het om deel te word van MTI….

Hulle het my ge help toe almal hulle rug op mens ge draai het!!!

Hoekom is dit so moeilik vir mense om te sien daar is n company wat mense wil help… As julle nie n lid is van MTI nie sou ek liewers se julle moet stul bly…. Want jy sal nooit die goeie harte van die mense verstaan as julle nie self deel is daarvan nie….

MTI is mense se kaans om nie meer slaawe te wees aan die wereld nie… En hulle help gesinne om kos opi tafel te sit en tyd saam hulle kinders te spandeer…

Jy wat die artikel ge skryf het beter jou naforsing ordentlik gan doen voor jy n amazing plek soos MTI verplunder met jou halfhartige storie

Flip ·

Ek is nie uitgegooi nie want ek was nooit deel van die “scheme” nie. Het n vergadering bygewoon waar iemand dit aan my probeer “verkoop” het maar gelukkig is my wiskunde nie te sleg nie. As dit te goed kilnk om waar te wees, dan is dit te goed om waar te wees.

mtibelegger19687 ·

Dis totale snert maN!!!!!!!!!! Dis natuurlik weer een of ander iemand wat geld belê het by die verkeerde persoon, en die een is weg met sy geld. MTI is geen ponzi nie. Die media is oningelig en maak staat op souserige stories. En soos een van die ander lede gesê het, MTI is dalk n groot bedreiging vir die finansiële sektor omdat daar GEEN BANK OF INSTANSIE is wat die persentasie rentes kan bied nie, en sodoende bang is besigheid gaan verlore. En in die nabye toekoms hoop ek dit gebeur met baie groot banke. Want van die banke se fooie en transaksie kostes is belaglik hoog, en ons kapitaal verloor ook waarde en word minder soos wat die verdomde fooie opgehef word om die regering se agterlosigheid te herstel. So, wie ookal die sogenaamde kuberkrakers is wat inligting gelek het, en die mense wat so smaaklik kou aan die negatiewe kommentaar, kom by in die lewe, en gaan maak seker van julle feite. Toets die water met R100.00 voor jy op die bandwagon of bad mothing wil spring. Groete

Pappa Beer ·

Ek sit al n jaar sonder werk, dien elke dag talle aansoeke in selfs oorsee, ek is op al wat n “job site” is. Raai hoeveel onderhoude is ek na genooi, EEN! Al die poste het een ding ingemeen BBEEE en Affirmative action. Ek het MTI ook met n hewige skeptiese houding betree en was maar skrikkerig. Ek kan met n ope gemoed se dat ek nooit weer terug gekyk het nie. My “plan -B” het nou my “plan -A” geword het terwyl ek steeds soek na werk. Mense moet asseblief DEEGLIKE navorsing doen en nie net die negatiwiteit van die media glo nie. Mensdom is geneig om eerder slegte goed te glo en dan nie die positiewe deel te ondersoek nie. Ek kan weer vir d eerste keer in n baie lang tyd kos op my gesin se tafel sit en dit danksy MTI. Onthou n munstuk het 2 kante. As jy nie belangstel nie lis dit dan uit, daar is baie mense wat wel sal belangstel spndra hulle die geleentheid gebruik. Maar dis mos maar die ou storie, niemand kan mos die son oor n ander sien skyn nie. Lank lewe MTI!!!

Flip ·

By die verkeerde persoon van mti? Is elke ou dan op sy eie? Nou laat jy dit REGTIG klink soos n piramide skema….

Die Goodwoodianer ·

Ek hou my net eenvoudig hier uit. Klomp nonsens.

Daniel ·

Is ook lid van MTI, al hulle inligting is deursigtig, daar is gereeld Zoom inligtingsessies en hulle antwoord navrae van lede. Nie ‘n piramideskema, kan enige tyd my geld onttrek

Michael ·

Hier kom al die Pro-MTI lesers nou na voorskyn. Amper so desperaat soos die Crowd1 spul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.