De Ruyter bly aan stuur van Eskom

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. (Argieffoto)

André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, sal vir eers aan die stuur van dié onderneming bly. Calib Cassin, Eskom se finansiële hoof, bly ook in sy pos aan.

Dít ondanks oproepe deur sekere politici en die National Union of Mineworkers dat De Ruyter en ander lede van Eskom se topbestuur die trekpas moet kry weens die voortslepende kragkrisis in die land. Skommelinge in die topbestuur word wel mettertyd verwag.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het dié aankondiging Vrydag gemaak, en ook bevestig dat Eskom se direksie tot 13 lede vergroot.

Uit die vyf direkteure wat Eskom nog teen Vrydagoggend gehad het, het net dr. Rod Crompton, voorheen ʼn adjunk-direkteur-generaal, oorgebly.

Prof. Malegapuru Makgoba, een van De Ruyter se groot ondersteuners, is as voorsitter van dié direksie afgedank. Mpho Makwana, wat tans die voorsitter van Nedbank is, is as voorsitter aangestel. Makwana was tot 2011 Eskom se voorsitter, maar is destyds afgedank.

Gordhan het Vrydag met verwysing na Makwana gesê dat goeie mense destyds weens staatskaping uit Eskom gedwing is.

Op die nuwe direksie is ook drie geoktrooieerde rekenmeesters en drie ingenieurs.

Gordhan het Vrydag gesê dat die nuwe direksie die nodige ervaring, kundigheid en vaardighede het wat aan Eskom “stabiliteit en strategiese rigting” sal bied.

Dié direksie sal nou die onmiddellike beurtkragprobleme moet takel, en ook ʼn fokus op verkryging en die uitroei van korrupsie hê. Verder sal die direksie ook moet toesien dat daar voldoende en betroubare energievoorsiening in die medium- tot langtermyn is.

Gordhan het Vrydag gesê dat die direksie verder die verantwoordelikheid sal hê om die sabotasie, onbevoegdheid en wangedrag by kragstasies te takel.

Hy het ook gesê dat Eskom nie langer as ʼn politieke speelbal gebruik moet word nie, en toegelaat moet word om sy werk te doen.

Lys van bykomende direkteure:

  1. Mpho Makwana
  2. Busisiwe Vilakazi
  3. Lwazi Goqwana
  4. Clive le Roux
  5. Leslie Mkhabela
  6. Mteto Nyati
  7. Fathima Gany
  8. Ayanda Mafuleka
  9. Tsakani Mthombeni
  10. Claudelle von Eck
  11. Tryphosa Ramano
  12. Bheki Ntshalintshali

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anel ·

En nou moet ons ook vir hulle reuse salarisse betaal. Los vir Andre om die saboteurs af te dank en die werk te doen. Geen regeringsinmenging of vakbondinmenging nie. Dalk kan daar dan iets gebeur!

Robert ·

Ek dink vakbonde gaan aan die einde van die dag die ondergang van die land wees!!

Keelvol ·

So gedink. Sy bewonderaars is seker nou bly dat load shedding bly.

Frank John ·

Mr. André de Ruyter, sterkte, die sabotasie wat aangaan is om jou in slegte lig te stel sodat iemand onbevoeg in jou pos aan te stel. Ek weet jy kan maar dis om te poe…. teen donderweer….nee, orkaan.

Di ·

Sterkte – hoop van harte hulle kry nou iets uitgerig. Eskom moes LANKAL van al die slegte aartappels ontslae geraak het. Hulle kos net geld en beteken niks

Harley Davidson ·

Maak nie saak wie is aan die stuur dinge gaan net agteruit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.