De Ruyter-boek: Nóg plofbare bewerings

Andre de Ruyter se nuwe boek. (Foto: Verskaf)

André de Ruyter, voormalige Eskom-hoof, wou nie Sondag op die aktualiteitsprogram Carte Blanche verklap waar in die wêreld hy en sy gesin hul deesdae bevind nie. Hy het wél (waarskynlik tot politici se verbasing) ʼn onthullende boek bekend gestel waarin hy nóg plofbare bewerings oor grootskaalse korrupsie by Eskom maak.

Die boek getiteld Truth to Power: My Three Years Inside Eskom het Suid-Afrikaanse winkelrakke Sondag getref sonder om vooraf bemark te word en handel oor De Ruyter se drie jaar aan die stuur van Eskom.

In dié boek praat De Ruyter openhartig oor politieke inmenging, ongegronde beskuldigings van rassisme, die aanslag op sy lewe en hoe hy ʼn private ondersoek van stapel gestuur het wat eindelik onthul het hoe minstens vier misdaadkartelle op Eskom teer.

Hy vertel ook hoe sommige werkers van Eskom in weelde leef terwyl die land dag ná dag in duisternis gedompel word. Nog een van die bewerings in die De Ruyter-boek is dat die sukkelende kragvoorsiener byna ʼn mop teen R238 000 aangekoop het.

“Dit maak ʼn siek sweer oop,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, oor die onthullende boek wat De Ruyter in die geheim geskryf het.

“De Ruyter se boek lig die sluier op ʼn wêreld [van mense] wat hulself agter die skerms verryk het vir selfsugtige individuele verryking en politieke voordeel. Die boek werp lig op ʼn donker wêreld. Dit skuif die verantwoordelikheid na die regering en vervolgingsowerhede om op te tree,” sê Hermann.

‘Onbedoelde Tony Soprano van die kragbedryf’

“Toe ek die hoofuitgangshek van Megawatt Park vanuit my venster op die derde verdieping dopgehou het, was ek verstom om ʼn aantal Range Rovers, BMW’s, Mercs en selfs ʼn verdwaalde Porsche om 15:30 smiddae na die uitgang te sien ry.

“Het ons regtig soveel ryk werknemers?

“En, indien wel, hoekom het ons so baie betaal vir werkers wat reeds ʼn uur of twee ná middagete besig was om op te pak?” skryf De Ruyter in die boek.

De Ruyter vertel in dié hoofstuk dat hy sommige dae verstom was oor die Hermès-rokke, Christian Louboutin-skoene en Louis Vuitton-handsakke – sakke met ʼn waarde gelykstaande aan ʼn maand se salaris – wat sommige van sy junior kollegas gedra het.

Óf Eskom-werkers het ver bo hul vermoëns geleef, óf hulle het toegang tot geld van ander bronne gehad.

“Dit het nie ʼn Sherlock Holmes geverg om uit te vind wat aan die gang is nie.”

Oor die sukkelende kragverskaffer skryf De Ruyter verder: “Eskom was ʼn ryp perske gereed om gepluk te word. Met ʼn verkrygingsrekening noord van R140 miljard per jaar en ʼn kapitaalbestedingsbegroting van meer as R35 miljard per jaar (selfs ná die voltooiing van groot bouprojekte by Medupi en Kusile), was die geleenthede vir plundering oral.”

Eskom se hoofkantoor. (Foto: Google Maps)

De Ruyter skryf dat die plundering nie beperk was tot die uitvoerende vloer van Megawatt Park nie en dat werknemers met behulp van kontrakteurs en verskaffers ook hulself graag aan Eskom se geld gehelp het.

“By Eskom was geen item te klein om as moontlikheid vir die plundering te dien nie, selfs nie ʼn nederige enkellaag rol toiletpapier nie. Hulle het destyds sowat R5 elk gekos, maar Eskom het dit vir R26 gekoop, ʼn winsopslag van 420%.

“Dit het gou vir my duidelik geword dat ons hoofverkrygingsbeampte, Solly Tshitangano, heeltemal uit sy diepte was,” skryf De Ruyter. “Onder sy leiding is minder as 35% van items ingevolge die kontrak aangekoop. Die res was op ʼn sogenaamde vrye grondslag op die verskaffersagtewarestelsel SAP.

“Dit is ʼn spoggerige manier om te sê jy kan byna enige hoeveelheid wat jy wil insleutel. Dit skep die ruimte om ʼn mop van R238 000 te bestel, ʼn aankoop wat gelukkig op die nippertjie afgeweer is.

Terwyl die Gupta-familie die haai was wat in die troebel waters van staatskaping geswem het, het die veel kleiner piranas aan Eskom se vlees gesmul.

Hy verwys na ʼn vergadering wat hy in Januarie 2020 kort ná sy aanstelling as Eskom-hoof met Ben Theron, ʼn vryskut- forensiese ondersoeker, gehad het. Theron het in daardie stadium reeds saam met die departement van openbare ondernemings, die spesiale ondersoekeenheid én Eskom gewerk.

De Ruyter skryf dat Theron ʼn reeks A3-drukstukke op sy lessenaar oopgerol en met spinnekopgrafieke ʼn web van verbindings uitgestippel het wat omtrent elke afdeling van Eskom geraak het.

“Indien dít geglo moes word, het ons die spreekwoordelike gans geword wat die goue eiers lê vir die korruptes en die skelms,” skryf De Ruyter.

“Ek was steeds ʼn bietjie skepties. Kan die plundery werklik so deurdringend wees as wat die spinnekopgrafieke aangedui het?

“Maar soos die maande verbygegaan het, het ek al hoe meer besef dat Ben een van die min mense was wat dapper genoeg was om die waarheid met oortuiging te praat. Die parade van Louis Vuitton-handsakke by Megawatt Park het getuig van my naïwiteit.

Ek was inderdaad die onbedoelde Tony Soprano van die kragbedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die regime het reeds ADR se geloofwaardigheid gekelder. Geslepe kalante.

Althes ·

Mooi so! Wat ñ dapper man! Die Here sal hom ensy gesin beskerm teen die gewetenlose, goddelose en gierige kaders. Amen.

Sobymykoolkop ·

In effek beteken al hierdie gerieflike verhogings dat die belastingbetalers eskom se werkers se lewenstyl finansier en Nersa doen hulle deel om ons te melk.

Republikein in die Wes Kaap ·

ADR het die astronomiese tarief verhogings gedryf. Hy het gesê ons betaal te min vir krag.

Eugene ·

N’ mop vir 260000 Betaal. Mooi de ruyter mooi. Trots op jou. Waar is jou boek verkrygbaar?

Papsak ·

Jo Jo Jo wie sou dit kon raai dankie De Rhyter vir jou jy is n HERO staan was God sal jou en jou gesin bewaar baie dankie waar kan ons jou boek aankoop ek staan vas agter jou jy praat waarheid mooi so

Philip ·

So kom die waarheid uit.Deur ‘n sleutelgat as dit moet, maar UIT sal dit UITKOM! ‘n Mop van R238 000! Genugtig, dis mos siek! Hierdie regering MOET val en vinnig ook! Dit kan nie so aangaan nie. En die skurke moet aangekla word en tronk toe gaan, maar dit lyk nie vir my ons regstelsel het meer tande nie….

Blom ·

Ja JVR, hy moes 100% seker wees van al die feite!! Dink tog net bietjie verder.

Petrus ·

Die skuldiges skuil nou agter elke skild en slyp hulle assegaaie en spiese teen mnr de Ruyter. Hulle sal hul bes probeer om sy mond te snoer.
Dit is hoekom ons beurtkrag so laag was nadat mnr de Ruyter daar weg is, maar hulle het gou gesien dat hulle dit nie kan volhou nie. Nou staan n algehele krag ineenstorting ons in die gesig, en wie gaan daarvoor betaal? Die hele Suid Afrika. Selfs die wat die koei gemelk het ook.

Shakespeare ·

Looi hulle Andre. Jy is getrou en eervol en die ANC die teenoor gestelde(Satanies)

George ·

Maar steeds nie n enkele klag of naam nie. Talk is cheap. Die bewerings is nie die papier werd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.