De Ruyter: Regstappe teen dié wat boek onwettig versprei

Andre de Ruyter se nuwe boek. (Foto: Verskaf)

Penguin Random House sê hy is “met geen ander keuse gelaat” as om regstappe te doen teen diegene wat ’n PDF-weergawe van André de Ruyter se boek Truth to Power: My Three Years Inside Eskom onwettig op onder meer WhatsApp versprei nie.

Die uitgewer het nou sy prokureurs opdrag gegee om aanmaningsbriewe uit te stuur waarin die vermeende oortreders gemaan word om hul optrede te staak. Dit geld nie net vir diegene wat die onwettige e-boek versprei nie, maar ook diegene wat dit ontvang.

Ian Dennewill, woordvoerder van Penguin Random House, het Donderdag gesê onwettige kopieë van die boek word ongelukkig steeds op veral WhatsApp-groepe aangestuur ten spyte van die uitgewer se waarskuwing daarteen vroeër vandeesweek.

“Penguin Random House wil nie regstappe teen individuele lede van die publiek doen nie, maar die voorkoms van hierdie praktyk, nie net ten opsigte van hierdie boek nie, maar ook ten opsigte van ander, raak só wydverspreid dat dit Penguin Random House met geen ander keuse laat nie.”

Steve Connolly, uitvoerende hoof van Penguin Random House, sê die onwettige deel van werk wat deur kopiereg beskerm word, benadeel nie net die uitgewer nie, “maar ook diegene wat ontelbare ure spandeer het om lewe in die werke te blaas. Dit sluit die skrywer, proeflesers, feitetoetsers, ontwerpers en die talle mense in wat op die uitgewersbedryf staatmaak vir ’n inkomste.

“Dit sluit ook die publiek in, want die prys van boeke sal moet styg indien wydverspreide kopieregskending die kommersiële waarde van die boek ondermyn.”

Connolly sê Penguin Random House ondersoek tans ál sy regsopsies om hom teen kopieregskending te beskerm. Dit sluit in die reg om onwettige verspreiders te verbied om voort te gaan daarmee en om hulle vir skadevergoeding te dagvaar.

Die Outeursregwet bepaal ook dat ’n boete of tronkstraf vir kopieregskending opgelê kan word.

“Die deel van ʼn werk met kopiereg sonder die kopiereghouer se toestemming is onwettig. Dit is nie ʼn ingewikkelde regsaangeleentheid nie en daar is geen ruimte vir misverstande by die publiek nie,” sê Connolly.

“Die mense wat hierdie boeke deel, is oor die algemeen deeglik bewus daarvan dat hulle hierdie regte skend. Die persoon wat die werk deel is nie die enigste skuldige party nie, maar ook diegene wat dit daarna lees of met ander deel.

“Penguin Random House wil nie hê dat die betreurenswaardige optrede van ʼn paar mense die geweldige belang van Truth to Power vertroebel nie en beklemtoon aan diegene wat die roofkopie van die e-boek versprei dat Penguin Random House hierdie onwettige dade in ʼn baie ernstige lig beskou.”

  • Die enigste manier om ʼn e-boek wettig te bekom, is om dit by ʼn e-boekhandelaar te koop of om dit by ʼn gemagtigde e-boekbiblioteek te leen. Enige kopiëring of verspreiding van ʼn onwettige e-boek, of die aanstuur van ʼn skakel na die e-boek, is onwettig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Harley Davidson ·

En hoe keer jy nou om dit te kry as iemand dit vir jou stuur?

miraclealigner ·

En hoe gaan hulle weet wie het dit gekry? Whatsapp is geïnkripteer (‘encrypted’), en jy kan nie net iemand se Whatsapp lees sonder toestemming nie (lees “dagvaarding van ‘n hof om die Whtsapp inhoud te lees”-) – gaan hulle die hele wêreld se Whatsapp gebruikers dagvaar? Dit sal interessant wees om te sien hoe hulle dit gaan uitvoer in ‘n land waar die basiese monitering wat die regering wou doen met Covid-19 nie eers moontlik was nie….

piet ·

Hulle kan nie eintlik nie. Hulle probeer maar die groot visse vang (die groot verspreiders). So lank jy dit nie self versprei nie (ongeag hoe jy daaraan gekom het), is die kanse uiters skraal dat jy vervolg sal word. Dit was maar nog altyd die “ongeskrewe reel”. Jy kan aflaai vir persoonlike gebruik maar nie versprei nie. Natuurlik reeds onwettig maar sal nie sommer vervolg nie. Ek het nou gaan kyk op ‘n online library wat ek van weet en die boek is daar, ek kon dit aflaai as ek wou.

Pieter ·

wat n gemors, nou moet die verbruiker maar verder verloor . As eksom nie n gemors was nie , sou Andre nie die boek geskryf het nie. So ek dink die ANC moet hiervoor betaal :)

JvR ·

Ag shame. Was daar ooit regstappe gedoen teen mense wat flieks en musiek digitaal onwettig versprei het? NEE!. Maar die heilige DR mag nie aangeraak word nie.

Elma ·

moet erken – ek raak nogal geirriteerd dat DR so opgehemel word deur die bree publiek.

kommentaar ·

Dit gaan nie oor hom nie, dit gaan oor almal betrokke by die boek!! Kom dan bietjie onder daai prejudiced klip uit!!

George ·

Daar was al baie opgetree teen mense wat dit so versprei, n vinnige google search sal jou kan wys.

SjN ·

Gordan wag vir sy onwettige kopie om te lees, hy se mos hy het nog nie gelees.

Wit Leeu ·

Regsstappe teen die waarheid ! Wat ‘n siek land leef ons in ???????????

piet ·

Gaan hier oor skending van kopiereg niks met waarheid of nie te doen nie.

Lily ·

Ek verstaan nie waar kom die digitale weergawe in die eerste plek vandaan nie? En hoe bepaal hulle wie het dit begin versprei? Slaan my dronk.

piet ·

Die boek is in papier-vorm en elektronies (digitaal) vrygestel. Jy kan die ebook by heelwat aanlyn verspreiders koop (soos Amazon).

JvR ·

Waarom is daar geen rekords of fotos van DR as jong mens? Van elke politikus is daar. Maar het hy uit die niet uit verskyn??

Lillian ·

Ha-ha-ha. Julle kan nie eens die land bestuur nie, hoe gaan julle enigiemand keer om die boek te lees? As ek dit kry, sal ek dit lees. Julle is bang vir die waarheid wat daarin opgesluit lê. Dis hoekom julle sulke katspronge maak.

Blomme ·

Wanneer gaan mense andere se werke respekteer. Die man het hard gewerk aan die boek… Waarom nie betaal indien jy belangstel om dit te lees nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.