De Villiers pens en pootjies uit Good geskop

Oud-Springbokbreier Peter de Villiers. (Foto: AFP PHOTO/Stephane de Sakutin)

Die voormalige Springbokbreier Peter de Villiers is weens “seksuele wangedrag” uit Good, die politieke party, geskop én as lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer verwyder.

Volgens Matthew Cook, Good se nasionale voorsitter, berus dié besluit op die uitkoms van ʼn dissiplinêre proses wat bevind het dat De Villiers die party se “grondwet en gedragskode oortree het”.

Maroela Media het vroeër berig dat De Villiers summier as lid van die party geskors is nadat ʼn klag van seksuele wangedrag in Januarie vanjaar teen hom aanhangig gemaak is. De Villiers was hangende die dissiplinêre proses van alle party-aktiwiteite geskors.

“Good is ʼn party wat deur vroue gelei word, met ʼn grondwet wat ʼn bepaalde waardestelsel uiteensit en waaraan alle lede onderworpe is, ongeag hul posisies,” het Cook Maandag gesê.

“Geslagsregte en seksuele wangedrag word omvattend en onomwonde in Good se grondwet hanteer en uitgeengesit. Die party se rekord van voorspraak vir gelyke regte vir vroue en meisies, en die standpunt teen die geslagsgebaseerde geweldplaag in Suid-Afrika is iets om op trots te wees.”

Cook sê die party het ʼn onafhanklike voorsitter, adv. Lionel Esau, aangewys om De Villiers se dissiplinêre verhoor te behartig, asook ʼn onafhanklike aanklaer, adv. Peter Cyster.

De Villiers is verteenwoordig deur David van der Merwe van Leon Frank en Vennote, asook adv. Mias Schreuder.

Suzette Little, Good se adjunk- sekretaris-generaal, ʼn voormalige stadsraadslid, is Maandag deur die speaker van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer ingehuldig om De Villiers se termyn te voltooi. Dié termyn verstryk op 29 Mei wanneer die algemene verkiesing plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Thom ·

Good het duidelik meer integriteit as die. Republikeinse Party in die VSA .

Republikein in die Wes Kaap ·

Snorre het reeds in die hof verskyn rakende dié gebeurtenis. Indien die saak teruggetrek óf uitgegooi, wat dan. Die hof kan hom selfs onskuldig vind.

Piet 6 ·

Good se “groot advertensie en trekpleister” word toe Good se “groot verleentheid”.

Grassie ·

Arme ou Peter. Hy het nou al by ‘n paar plekke die trekpas gekry.

Wikkie ·

Toe hy destyds bokbreier was, het ek aansien vir hom gehad. Tot hy suur druiwe gehad het nadat hulle hom as breier onttroon het en allerhande valse beskuldigings en aantuigings gemaak het. Dis toe ek my aansien en respek vir díé knaap verloor. Waarom het hy nie tydens sy tyd by die bokke tóé reeds die aantuiging en beskuldigings gemaak nie? Waarom eers toe hy nie meer die afrigter is nie? As daar mos sulke ongerymdhede daar aangaan, soos wat hy beweer,.dan moes hy dit mos daar-en-dan uitgewys het. Nee wat, in my opinie sal die knaap so rondploeter is sy soeke na ‘n plekkie onder die son, waar hy genoegsame aandag en aandag en verhewing ontvang.

Mike ·

@ Thom – ja so ook die Demokrate se Biden wat sommer oop en bloot op die verhoog klein meisies bevoel. Maar nou ja hulle response sal seker wees Biden is nie corpus mentis nie, en dus nie aandadig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.