Debat oor ‘terugeis’ van Vrystaat in Lesotho gehou

Foto: Google Earth

Wetgewers in Lesotho debatteer Woensdag of dié land moet probeer om groot dele grond van Suid-Afrika terug te vat. Dit sluit in die hele Vrystaat, asook vier ander streke wat in die verlede aan die Basotho behoort het.

Vandag se debat volg nadat ʼn LP van ʼn opposisieparty in Lesotho in Desember ʼn mosie ingedien het wat versoek dat die parlement groot stukke grond wat tans aan Suid-Afrika behoort as deel van die Koninkryk van Lesotho verklaar. Dit sluit in die hele Vrystaat, wat aan Lesotho grens, asook dele van die Noord-Kaap, Oos-Kaap, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.

Dit moet gedoen word in ooreenstemming met die Verenigde Nasies se besluit 1817(XVII) wat op 18 Desember 1962 geneem is. Die resolusie het die reg op selfbeskikking en onafhanklikheid vir die mense van die destydse Basoetoland erken.

“Ek hoop die grond sal ná die debat aan ons land teruggegee word soos dit lankal moes gedoen gewees het,” het Tsepo Lipholo van die Basotho Convenient Movement (BCM) Woensdag voor die debat aan AFP gesê.

Lipholo is die enigste BCM-wetgewer in Lesotho se Nasionale Vergadering van 120 setels.

Dié opposisieparty se verkiesingsveldtog in aanloop tot Lesotho se nasionale verkiesing van verlede jaar het veral gefokus op die moontlike terugeis van die Basotho se grond in Suid-Afrika. Die grond is ook ʼn gewilde onderwerp onder lede van die opposisie.

Sou die parlement van Lesotho die mosie aanvaar, sal dit maar net die begin wees van ʼn lang proses om die grondeis in wet te verander.

Lees meer oor die 1962-resolusie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.