Dele van etiese kode ongrondwetlik – hof

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Konstitusionele Hof het bevind dat die etiese kode vir die uitvoerende gesag ongeldig, onwettig en ongrondwetlik is.

Dit beteken dat die uitvoerende gesag nou alle skenkings en finansiering vir interne verkiesingsveldtogte in hul onderskeie politieke partye moet verklaar.

Regter Steven Majiedt het die uitspraak Dinsdag gelewer. Dit bekragtig die uitspraak wat die Pretoriase hooggeregshof in Desember verlede jaar oor die saak gelewer het. Die hooggeregshof het verlede jaar bevind dat die etiese kode ongrondwetlik is, omdat dit nie vereis dat lede van die uitvoerende gesag skenkings vir interne politieke veldtogte hoef te verklaar nie. Dit sluit kabinetslede, provinsiale LUR’e en adjunkministers in.

Luidens die uitspraak voldoen die kode nie aan die grondwetlike en statutêre voorskrifte van deursigtigheid, aanspreeklikheid en openheid nie.

Majiedt het verder bevind dat die versuim om skenkings vir interne partyverkiesings te verklaar, die Wet op Politieke Partyfinansiering ondermyn.

Dinsdag se uitspraak volg op ʼn aansoek wat die sentrum vir ondersoekende joernalistiek, amaBhungane, in Mei vanjaar gebring het. Dit het betrekking op skenkings wat pres. Cyril Ramaphosa in 2017 vir sy CR17-veldtog ontvang het om president van die ANC te word, en spruit uit ʼn verslag deur die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, in 2019 waarin bevind is dat die president hierdie kode oortree het.

Ramaphosa het ʼn aansoek in die hooggeregshof gebring om dié verslag te hersien, waarna amaBhungane hom tot die land se hoogste hof gewend het om die hooggeregshof se uitspraak te bekragtig. Dit sluit in dat die bevel wat die kode ongeldig verklaar, vir 12 maande opgeskort word om die president die ruimte te gee om probleme met die kode reg te stel.

Die uitspraak deur die Konstitusionele Hof is egter nie terugwerkend nie, wat beteken dat skenkings aan Ramaphosa se CR17-veldtog nie openbaar gemaak hoef te word nie. Die hof het wel beslis dat Ramaphosa amaBhungane se regskoste moet betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.