Deon Meyer-aksiefliek maak Netflix-geskiedenis

Die span van ‘Heart of the Hunter’. (Foto: Netflix/Verskaf)

Die plaaslike aksierolprent Heart of the Hunter is skaars ʼn week op Netflix te sien en het reeds geskiedenis gemaak as die eerste rolprent uit Afrika om in meer as 75 lande boaan die stromingsdiens se lys van die mees gekykte Engelstalige rolprente te pryk.

Daarbenewens het dit reeds meer as 11 miljoen kyke wêreldwyd by dié stromingsdiens opgeraap.

Heart of the Hunter is geskoei op skrywer Deon Meyer se boek Proteus en vertel die verhaal van Zuko Khumalo (vertolk deur Bonko Khoza) wat deur die Presidensiële Intelligensie Agentskap gejaag word weens sy beweerde kennis oor ʼn presidentskandidaat.

Akteurs soos Tim Theron, Deon Coetzee, Milan Murray en Connie Ferguson van Isidingo-faam is daarin te sien, met Mandla Dube as regisseur.

“Mens weet nie altyd wat om te verwag nie, maar om op swart en wit daardie syfers te sien en te weet dat ons nommer een is, maak dat mens uit jou vel uit wil spring van opgewondenheid,” sê Tim, wat ook as deel van die span by Scene23 in die vervaardigerstoel gesit het.

Hy vertel daar word die afgelope week met groot opwinding gelukwense heen en weer tussen die akteurs en produksiespan gestuur.

“Dis ook Connie Ferguson, wat hierdie ongelooflike ikoon op eie bodem is, se eerste groot hoofrol in ʼn fliek, en daar word dit sommer nommer een. Vir Deon as skrywer is dit natuurlik ook lekker om te sien hoe sy verhale in fliekformaat in die buiteland tref, veral in lande soos die VSA, waar kykers met ʼn magdom van nuwe inhoud oorweldig word.”

Bonko Khoza vertolk die hoofrol in ‘Heart of the Hunter’. (Foto: Instagram/@bonkokhoza)

Hoewel kritiek onvermydelik is, sê Tim dat kykersgetalle soos dié opnuut die krag van aanbevelings deur kykers bevestig.

“ʼn Mens kan op groot advertensieborde langs snelweë jou plakkate laat pryk en beïnvloeders betaal om jou fliek te bemark, maar op die einde van die dag beteken dit niks as kykers vir mekaar gaan sê dat ʼn fliek nie die kyk werd is nie.

“Mense moet ook onthou dat jy anders as in die teater op iets soos Netflix nie deur die hele fliek hoef te sit nie; jy kan maklik oorskakel na iets anders. As 11 miljoen kyke in daardie konteks jou nie gaan oortuig nie, dan weet ek nou nie.”

Veral die fliek se aksietonele en akteurspel het volgens Tim klaarblyklik kykers se verwagtinge oortref.

“Wat vir my veral in die reaksies op sosiale media uitgestaan het, is dat selfs die enkele mense wat nie noodwendig die storielyn geniet het nie, weggeslaan was met die gehalte van die fliek, veral die aksietonele – wat ʼn groter kuns is as wat baie mense dalk besef.

“Ek dink nie die wêreld het gedink ons het dit in ons om sulke flieks in Suid-Afrika te maak nie.”

Volgens Tim strek die Heart of the Hunter-span se trots verder as hul eie rolprent.

Connie Ferguson en regisseur Mandla Dube op die stel. (Foto: Verskaf)

“Natuurlik is ons akteurs en produksiespan vreeslik trots, maar dit gaan eintlik daaroor dat dit tyd is vir die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf om internasionaal raakgesien te word en die geleenthede te kry waarvoor ons so lank werk.

“Die hoop is ook dat dit die deur vir ander plaaslike rolprentmakers wawyd oop sal maak, want ons hoef lankal nie meer terug te staan vir Hollywood nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.