Departement ‘buig agteroor’ vir omstrede kragskepe

Een van die maatskappy Karpowership se kragskepe. (Foto: Karpowership)

Die departement van minerale hulpbronne en energie word daarvan beskuldig dat hy “agteroor buig” vir bieërs in die risiko-verligtingsprogram vir kragverkryging by onafhanklike kragprodusente, oftewel RMIPPP’s.

Die sperdatum vir die finansiële sluiting van die ooreenkoms was aanvanklik 30 September, maar dit is luidens berigte nou weer uitgestel, dié keer tot die einde van Januarie volgende jaar. Sommige rolspelers sê die proses word doelbewus vertraag om Karpowership die oorhand tydens die aansoekproses te gee.

Die omgewingsgroep The Green Connection, wat saam met kleinskaalse vissers werk, sê hy het die stap verwag omdat dit teen hierdie tyd betreklik duidelik is dat Karpowership nie eens naastenby gereed is – of voldoen aan alle vereistes – om ʼn finansiële ooreenkoms aan te gaan nie.

Liziwe McDaid, hoof van strategie by die omgewingsgroep, sê hulle het verlede maand gevra dat die program in die geheel geskrap word.

“Dit is uit die staanspoor vertraag. Die aanvanklike boddatum is van Augustus verlede jaar tot 20 Desember verlede jaar uitgestel en hoewel die wenbieërs in Maart vanjaar aangewys is, het kenners die uitslag daarvan dadelik bevraagteken,” sê McDaid.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het vroeër vanjaar benadruk dat die sperdatum weens die dringendheid om nog krag aan die sukkelende netwerk beskikbaar te stel, nie onderhandelbaar is nie. Die eerste krag sou boonop teen Augustus volgende jaar gelewer word.

“Hier is ʼn slang in die gras. Dit lyk of die departement tyd probeer wen en dit lyk nie of hy met enige ander noodenergie-opsies tevrede gaan wees nie, en die spertyd gaan aanhou uitstel tot die ooreenkoms met Karpowership afgehandel is,” sê McDaid.

Suid-Afrika probeer nou al langer as ʼn jaar om een of ander vorm van noodkrag te bekom – sonder enige sukses.

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het reeds Karpowership se opwekkingslisensies goedgekeur, ten spyte daarvan dat die departement van bosbou, visserye en omgewingsake nog nie sy goedkeuring gegee het nie.

Kevin Mileham, die DA se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê daar is vrae of die program nog op dreef is en of dit eintlik in duie gestort het. Dit nadat die sogenaamde ononderhandelbare spertyd maar net weer aangeskuif is.

“Dit is geen geheim nie dat sekere van die suksesvolle bieërs, soos Karpowership, sukkel om die voorgeskrewe omgewingsimpaksertifisering te bekom weens onsekerheid oor hoe hul bedrywighede die mariene omgewing en kusgemeenskappe gaan raak,” sê Mileham.

Ander verskaffers het hulle boonop onttrek weens die “onrealistiese tydsraamwerk” wat in die aanvanklike boddokument uitgestippel is.

Mileham sê plaaslike finansiers heroorweeg boonop nou hul betrokkenheid of onttrek hulle.

“Die departement kan nie die finansiële sluiting onbepaald bly uitstel nie. As die suksesvolle aansoekers nie aan die vereistes van die ooreenkoms kan voldoen nie, moet Mantashe die land daaroor inlig.”

Hy sê die departement kan ook nie namens bieërs onderhandelings oor die omgewingsertifisering doen nie.

“Dit lyk of die besluit om die spertyd te verleng ʼn desperate poging van die ANC-regering is om tyd te wen en Suid-Afrikaners vals hoop te gee dat hy iets doen aan die land se verlammende kragprobleme.

“Die realiteit is dat die departement uit die staanspoor ʼn gemors gemaak het van die noodkragverkrygingsproses en dat hierdie vertragings ʼn simptoom daarvan is.

“Mantashe moet verantwoordelikheid aanvaar vir sy departement se voortgesette mislukking in dié verband.”

The Green Connection sê ook hy glo nie Karpowership gaan ooit aan al die vereistes kan voldoen nie en hou vol die ooreenkoms is nie in die openbare belang nie en behoort nie deurgevoer te word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Samuel ·

Soos dit die afgelope tyd met staatstenders gaan, wil dit voorkom asof daar weer ‘n groot slang in die gras is. Karpowership se Turkse eienaars is seker pelle met die agbare minister. Alles wat die ANC aanpak is ‘n gemors.

Hoekom ·

Solar panels word kamstig van sand gemaak, dit is ‘n leuen. Sand is nie suiwer genoeg nie, dit word gemaak van quartz. Quartz is suiwer genoeg maar is ‘n klip wat gesmelt word. Hoe smelt jy dit? Met baie steenkool. Dit gese hou solar panels ook nie baie lank nie, dan moet jy nuwes vervaardig. Groen energie is ‘n klug, ‘n klug wat baie geld vir sekere maatskappye invorder…

annie ·

Die minister wag vir iets. Wat? Mens wil raai dit is die pledge vir hulp met die glo verligting tov steenkoolverbruik met die oog op aardverwarming. Cyril het op beide knieë voor die ryk lande gestaan met ‘n verskoning dat kolonialiste steenkool uitgedink het of iets in daai lyn en nou is dit payback time. Onthou op een knie staan is vir die in ontvangs neem op payday. Dis hoekom die minister so afwagtend lyk.

Jacobus ·

Mens sidder as dit soos Kusile en Medupi in die ANC se geheime hoekie gekoester word. Nog ‘n voorbeeld van politieke melkkoeie in wording!

Saartjievandiebosveld ·

Hulle speel ‘n speletjie….met ‘n plan

Jack ·

Ek dink dis n politieke konkoksie en soos met alles gaan miljarde weer verlore sonder resultate. Die bote is klaar gesink.

Piet parys ·

Die regering kan nie eers besoedeling bestuur op land nie en hoe de hel gaan hulle dit in die
See bestuur. . Lagwekkend . Iemand kry seker weer iets onder die tafel deur. . .

Kokerboom ·

Hierdie beplande bedrog moet in sy spore gestuit word!ALLE planne van ANC kaders soos Mantashe sluit korrupsie en bedrog met voorbedagte rade in!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.