Departement erken Facebook-verkragter het ontsnap

Thabo Bester tydens sy verhoor meer as tien jaar gelede. (Foto: Verskaf)

Die departement van korrektiewe dienste het Saterdag erken dat die berugte Facebook-verkragter en veroordeelde moordenaar Thabo Bester inderdaad op 3 Mei verlede jaar uit ʼn Bloemfonteinse tronk ontsnap het.

“Dis in dié stadium van die uiterste belang dat Thabo Bester opgespoor word.

“Die departement doen ʼn beroep op die publiek om met inligting na vore te kom wat tot Bester se inhegtenisneming kan lei. Sodanige inligting kan by die naaste polisiestasie of korrektiewe fasiliteit aangemeld word.”

Die departement sê verder dat hulle geen steen onaangeroer sal laat om uit te vind hoe Bester ontsnap het en wie hom gehelp het nie.

“Daar sal ernstige gevolge wees vir enigeen wat betrokke was.”

Die departement het verlede jaar gesê dat Bester, wat tot lewenslange tronkstraf plus 75 jaar gevonnis is, in sy tronksel doodgebrand het nadat die liggaam van ʼn erg verkoolde man daarin aangetref is. Die oorsaak was aanvanklik as selfmoord bestempel.

Foto’s van ʼn man wat baie soos Bester lyk het egter onlangs opgeduik terwyl daar ook verskeie teenstrydighede in die nadoodse ondersoekverslag was – onder meer dat die oorledene korter as Bester was en weens ʼn harde hou teen die kop dood is. Daar was ook geen tekens van rookinaseming nie, terwyl die oorledene se milt en pankreas reeds ten tyde van die vonds in ʼn vroeë stadium van ontbinding was. DNS-toetse van die verbrande liggaam het ook geen ooreenkomste met die DNS van Bester se biologiese ma getoon nie.

Foto van ‘n persoon wie mense glo Thabo Bester, die sogenaamde Facebook-verkragter, is. Dié foto is by ’n Woolworths in Johannesburg geneem. (Foto: GroudUp/Verskaf)

“Gegewe dié inligting is die aanneemlike gevolgtrekking dat die betrokke liggaam nie dié van Thabo Bester is nie. Dit is op grond hiervan dat die departement in sy ondersoekverslag bevind het dat Bester op 3 Mei 2022 uit wettige aanhouding ontsnap het.”

Volgens die departement duur die polisie se ondersoek na die voorval nog afsonderlik voort.

Die departement het tot verlede week nog aangevoer dat hulle nie die nadoodse verslag het nie en dat die ondersoek na die brandvoorval voortduur. GroundUp het egter berig dat die verslag reeds die dag ná Bester se beweerde dood verlede jaar afgehandel is en lankal deel van openbare hofdokumente is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.