Deurbraak in moord op Zoeloeprins

Prins Lethukuthula Zulu (Foto: ANA)

Vyf verdagtes is die naweek in hegtenis geneem in verband met die onlangse moord op die 50-jarige prins Lethukuthula Zulu.

Zulu, die seun van Zoeloekoning Goodwill Zwelithini, se liggaam is vroeër vandeesmaand in ʼn woonstel in Randburg aangetref is. Sy sakevennoot het in ’n ander vertrek gelê en slaap ten tyde van die moord.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, sê vyf verdagtes onder wie vier vroue en ’n man, is Vrydagaand in Pretoria aangekeer.

Die verdagtes, almal tussen die ouderdom van 27 en 42 jaar oud, sal Maandag in die landdroshof in Randburg verskyn op aanklag van moord en diefstal.

Maroela Media het vroeër berig ’n ondersoekdossier is vroeër by die Honeydew-polisiestasie geopen om die omstandighede rondom Zulu se dood te ondersoek. Die dossier is daarna na ’n moordsaak verander op grond van voorlopige getuienis van die aanvanklike ondersoek.

Peters sê die inhegtenisnemings volg nadat kritieke getuienis wat maklik oorgesien kon word deur die polisie se forensiese wetenskapkenners van die misdaadtoneel verwyder is. “Die verwerkte getuienis het die ondersoekspan gehelp om ʼn moontlike verband tussen die verdagtes en die misdaad te bepaal.”

Die verdagtes is ten tyde van hul inhegtenisneming in die besit betrap van verskeie items wat na bewering uit Zulu se woonstel gesteel is.

“Een van die verdagtes is in besit van verskillende stowwe betrap waarop daar beslag gelê is vir verdere ondersoek met betrekking tot die moontlikheid dat die oorledene en sy sakevennoot bedwelm is voordat kontant en ander waardevolle uit die woonstel gesteel is.”

Die ondersoek duur voort om onder meer te bepaal of die verdagtes moontlik betrokke kan wees by ander voorvalle waar slagoffers bedwelm en beroof is.

Zulu was die Zoeloekoning en sy vrou Sibongile MaDlamini se oudste seun en die eerste aanspraakmaker op die troon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Casper ·

Politiek aikona,ek dink hy was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek en ek glo nie hulle het eers geweet hy is ‘n prins nie.Welgedaan aan die polisie met die vinnige deurdraak.Verbeel ek my of raak vrouens al hoe meer by die misdade betrokke.

Snowball ·

Koning, prins, prinses, troonopvolger – is dit nie Westerse terme nie? Wonder maar net.

Andréas ·

Dink maar so vêr terug as Bybelse tye met koning Salamo asook ons eie SA se Zoeloe geskiedenis met konings Chaka en Dingaan, sal ek nee reken…

Snowball ·

Shaka was die seun van ‘n kaptein met ‘n klein kapteinskap, wat deur krygsvernuf en oorlog die vader van die Zoeloes geword het. Dingaan word beskryf as ‘n hoofman, nie ‘n koning nie en hy was een van vele in daardie tyd. Dit sal nogal interessant wees om te sien wanneer die term ‘koning’ binne die Zoeloes se geskiedenis begin gebruik word en hoe een bloedlyn nou aanspraak maak op dié titel.
So ook die vir die koning/koningshuise van die Swazi, Sotho, Venda ens..
Maar jy is reg, dit is seker nie uitsluitlik ‘n Westerse woord nie.

Mariana ·

En sy vennoot lê en slaap in ander vertrek? Moes redelike groot plek wees as hy dan niks gehoor het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.