Deurbraak ná moord op hoofspeurder van Villiers

Ao. Neels du Rand (Foto: Facebook/Nicholaas E B Delport)

Twee verdagtes wat verbind word met die moord op die hoof van die polisie se speurtak op Villiers is in hegtenis geneem.

Ao. Neels du Rand (47) is doodgeskiet nadat hy ondersoek gaan instel het na die beweerde kaping van ʼn vragmotor op die berugte N3-pad tussen Warden en Harrismith.

“Die twee verdagtes is binne 24 uur ná die voorval in hegtenis geneem en daar word vermoed dat hulle deel is van die bende wat die vragmotor gekaap het,” het brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, gesê.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het Saterdag saam met ʼn afvaardiging Du Rand se huis besoek om hul medelye met sy gesin te betuig. Du Rand het 29 jaar diens in die polisie gehad.

Du Rand het Vrydag omstreeks 02:45 die Villiers-polisiestasie gebel en rugsteun gevra om ʼn gekaapte vragmotor op die grondpad tussen Villiers en Standerton voor te keer.

“Terwyl die polisie na Du Rand gesoek het, het hulle ʼn beskadigde draadheining by ʼn plaas opgemerk. Hulle het verder ondersoek ingestel en op die plaas op Du Rand se Isuzu-bakkie afgekom,” het sers. Josephine Rani, polisiewoordvoerder, vroeër gesê.

Beamptes moes een van die bakkie se vensters breek om toegang tot die voertuig te kry. Du Rand is vier keer in die rug geskiet en nooddienswerkers het hom op die toneel dood verklaar. Niks is van hom of uit sy voertuig gesteel nie. Die gekaapte vragmotor is sowat 8 km buite Standerton opgespoor. Dit is verlate gelaat.

Sers. Leka Maja (Foto: Verskaf)

Intussen is ʼn soektog van stapel gestuur vir twee verdagtes nadat ʼn 41-jarige beampte Donderdag in Mamelodi doodgeskiet is.

Sers. Leka Maja is doodgeskiet tydens ʼn operasie vir die opsporing van onwettige vuurwapens. Drie verdagtes is noodlottig gewond tydens die voorval en daar is op sewe vuurwapens beslag gelê.

Maja was aan die Valke verbonde en het 14 jaar diens gehad.

“Dit is ʼn oorlog wat deur misdadigers begin is en ons kan nie tweede kom nie,” het Masemola in reaksie op die voorvalle gesê. “Ons gaan dienooreenkomstig optree totdat ons hierdie stryd teen misdadigers wen. Die families van dié beamptes verwag van ons om te verseker dat die volle mag van die wet diegene agter dié moorde en aanvalle in die gesig sal staar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.