Die beste matriek van 2023 is …

Al die topmatrikulante van 2023. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Landwyd is openbare skole Vrydag oorval deur angstige matriekleerders wat wil weet of verlede jaar se bloed, sweet en trane die moeite werd was. ʼn Uitgesoekte groep matrikulante het egter nié vanoggend met ʼn knop op hul maag wakker geword nie.

Die departement van basiese onderwys het Donderdag die topmatrikulante vir verlede jaar aangekondig.

Melissa Muller van Rhenish Girls High School in Stellenbosch het kop en skouers bo die res uitgestaan.

Melissa het die beste gevaar in wiskunde van al 2023 se matrikulante. Sy is ook aangewys as die beste matrikulant van kwintiel 5-skole en eindelik as die topmatrikulant van die jaar gekroon.

Melissa Muller is as die topmatrikulant van die jaar gekroon. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Melissa het Donderdag aan Maroela Media gesê sy het groot verwagtinge vir haar finale uitslae gehad, aangesien sy die afgelope paar jaar baie tyd en werk in haar studies gesit het.

“Ek hoop net regtig ek pluk die vrugte van my harde werk,” het sy gesê voordat sy gehoor het dat sy vir al sewe van haar vakke onderskeidings ingeoes het.

Melissa het nie net 100% vir wiskunde en rekeningkunde behaal nie, maar ook 99% vir lewenswetenskappe en fisiese wetenskappe.

Sy het verwag dat sy die beste in wiskunde, fisiese wetenskappe en rekeningkunde sou doen, omdat dit haar gunstelingvakke is.

“Ek hou baie van dié soort vakke, veel meer as tale,” het sy geskerts.

Melissa skryf haar sukses toe aan haar dissipline om te doen wat nodig is om sukses te behaal.

“Ek was verlede jaar baie besig; ek het eerstespan-hokkie gespeel, asook waterpolo, so die tydsbestuurvaardighede wat ek deur die jare aangeleer het, het my verlede jaar baie gehelp.

“As daar een stukkie raad vir vanjaar se matrieks is, is dit om jou tydsbestuur reg te kry. Dit help jou in soveel aspekte.”

Kyk hier wat Melissa oor haar toekoms te sê het:

Die Wes-Kaapse regering spog met nóg matrieks wat as die beste in die land aangewys is.

Jared Ryan Benn van Wynberg Boys High School, is as die topmatriek in fisiese wetenskappe aangewys. Hy was ook die naasbeste matrikulant van al die kwintiel 5-skole.

Jared gaan oor ʼn paar weke chemiese ingenieurswese begin studeer, maar hy het nog nie besluit of dit aan die Universiteit Stellenbosch (US) of die Universiteit van Kaapstad (UK) gaan wees nie, aangesien hy by albei universiteite ʼn plek aangebied is.

Hy wil graag met dié graad “die land na ʼn beter toekoms lei”.

Matrikulante in die Wes-Kaap het die beste slaagsyfer vir wiskunde (75,4%) in die hele land behaal, asook die topslaagsyfer vir fisiese wetenskappe (82,2%).

Dié provinsie het die naasbeste getal onderskeidings gekry, met 50 000 matrieks wat altesaam 24 982 onderskeidings ingeoes het.

Kerry Mauchline, woordvoerder van die LUR van onderwys in die provinsie, het 2023 se matrikulante gelukgewens vir hul uitmuntende resultate “en vir die baie ure wat hulle gedurende hul matriekjaar daaraan gewy het om in hul eie toekoms te belê”.

“Dit het vrugte afgewerp, en ons is so baie trots op hulle.”

Sy het ook vir vanjaar se matriekleerders gesê dat hulle “groot skoene het om te vul” en hulle uitgedaag om die voorbeeld van verlede jaar se matrieks te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ore ·

Baie geluk aan die leerders met hulle briljante resultate. Altyd interessant hoe die lewe werk. Presteerders word geprys maar wat van die leerders wat ‘n potensiaal van 60% het en dalk 62% behaal het? Kry hulle erkenning vir die prestasie bereik volgens potensiaal? Ek dink maar net altyd aan hulle wat ook hulle bes probeer maar nooit die kollig haal nie. Natuurlik gaan die lewe om wenners…of nie?

Karoo ·

Baie geluk aan al die leeders, die ouers en onderwysers en almal in die leerders se ondersteunings netwerk. Ek wil net by voeg, dat elke liewe kind, waarvan die meeste baie onbevoreg is, wat watse skool jaar ookal geslaag het, het besonders goed geodoen. Ek sal graag wil he Maroela moet oor Matrieks terug voering gee,veral die, wat onder moeilike omstandighede geslaag het, hulle verdien ook ‘n plekkie in die son. Ek neem niks weg van die top presteerders nie, maar, daar is meer “normale” kinders and briljant en daar moet vir hulle ook hande geklap word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.