Dié honde kan Covid-19 uitsnuffel – verslag

Argieffoto: Pixabay

ʼn Onlangse studie in Engeland het bevind dat honde opgelei kan word om positiewe Covid-19-gevalle uit te snuffel, selfs al is pasiënte asimptomaties.

Luidens ʼn verslag uitgereik deur die London School of Hygiene & Tropical Medicine (LSHTM) het navorsers van dié instituut deur hul studie bewys dat Covid-19-pasiënte ʼn kenmerkende reuk afgee wat opgeleide honde kan uitken. Die studie het ook bevind dat dié honde pasiënte met ligte of selfs geen simptome vinnig en akkuraat kan identifiseer.

Na aanleiding van dié studie sê navorsingleiers die honde kan ʼn belangrike rol speel om die Covid-19-pandemie wêreldwyd te bekamp.

Die LSHTM het in samewerking met Medical Detection Dogs en die Durham Universiteit altesaam 1 097 reukmonsters van mense wat met Covid-19 besmet is en 2 031 van mense wat nié besmet is nie, ingesamel. Daarna moes ses honde, wat binne ʼn beheerde omgewing opgelei is, 200 reukmonsters van positiewe Covid-19-gevalle uitsnuffel. Honde is beloon indien hulle positiewe gevalle kon uitsnuffel.

Die studie het bevind dat die opgeleide honde tot 94% van die Covid-19-pasiënte kon uitsnuffel, selfs al was pasiënte asimptomaties. Honde kon ook die reuke van Covid-19-pasiënte met verskillende virusvariante opspoor.

Navorsers sê hoewel die tradisionele Covid-19-toets tot 97,2% akkuraat is, kan honde die positiewe Covid-19-gevalle baie vinniger in openbare plekke, soos lughawens, identifiseer.

Volgens die navorsers sal ligte of asimptomatiese Covid-19-gevalle twee keer meer akkuraat aangewys word indien honde saam met die tradisionele toetse ingespan word. Die gebruik van honde kan dus die doeltreffendheid van Covid-19-toetsing verhoog, asook bydra om die verspreiding van die virus te bekamp.

Prof. James Logan, hoof van die departement van siektebeheer by LSHTM, wat die projek gelei het, het op hul webwerf gesê verdere navorsing is nodig om te bepaal of dié honde dieselfde resultate buite die beheerde omgewing, wat tydens die studie gebruik is, kan behaal.

Hy sê egter die resultate van die studie het sy verwagtinge oortref.

“Hoewel die massa-toediening van entstowwe in Engeland ʼn groot sukses is, sal dit tyd neem voordat die land heeltemal Covid-19-vry is. Aangesien nuwe variante die land kan binnekom, beteken dit daar is steeds ʼn groot behoefte aan doeltreffende toetse,” het Logan gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Fedup ·

Slap me silly for guessing here. But this logan guy is jumping hoops.
Most dogs and cats, no matter the breed, can sense, I guess the word is, any change in their humans.
I heard and read a lot of cases about this kind of behaviour from pets who never received any training in regard of any illness.

LD ·

Honde is toe slimmer as party persone wat mediese agtergrond het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.