Dié produkte jaag voedselinflasie

Foto ter illustrasie (Foto: McCain Foods)

Dit is nie vleisprodukte wat ʼn mandjie kos duur maak nie, maar eerder broodnodige items soos graan, suiwel en selfs groente.

Die prys van aartappels het byvoorbeeld soveel gestyg dat dit verlede maand alleenlik verantwoordelik was vir byna die helfte van die Johannesburgse varsproduktemark se totale inkomste uit groente vir die maand.

In sy jongste opsomming oor inflasie wys die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) daarop dat dié mark 44% van sy R754,5 miljoen inkomste aan aartappelverkope toeskryf.

“Gevolglik sal enige vergelyking van totale groenteverkope op die mark grootliks deur aartappels gedryf word,” lui die verslag, wat gegrond is op data van Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) en voedselkleinhandelpryse.

“Aangesien beurtkrag boere se vermoë om landerye te besproei erg belemmer het, het aartappelvolumes vanjaar met 24% afgeneem. Tesame met ʼn jaarlikse inflasiekoers van 209% wat veroorsaak het dat aartappels in Oktober vanjaar R10,30 per kilogram gekos het, in vergelyke met verlede jaar toe die prys R3,33 per kilogram was, het die mark se omset ook aansienlik toegeneem.”

Sou aartappels heeltemal uit die mark verwyder word, is die gemiddelde markprys vir groente wat verlede maand op die Johannesburgse varsproduktemark verkoop is, slegs 4% hoër vergelyke met dieselfde tydperk verlede jaar. Dit is wel steeds 22% hoër as wat dit in vergelyking met Januarie vanjaar was.

“Hoewel sommige van die wisselvalligheid met die prys op kleinhandelvlak geabsorbeer of uitgestryk is, is dit meer waarskynlik dat die jaarlikse verhogings reeds in verbruikers se mandjies weerspieël word,” lui die verslag.

Dit is egter nie net aartappels wat verbruikers se sakke leeg tap nie, maar ook ander produkte soos tamaties wat in vergelyke met verlede jaar met 67% gestyg het en die prys van soetrissies wat met 11% toegeneem het.

In Oktober vanjaar is die jaarlikse inflasiekoers vir voedsel en nie-alkoholiese drankies hoofsaaklik deur brood, graan, groente en suiwelprodukte gedryf.

Op tuisbodem het Suid-Afrika vanjaar ʼn goeie graanoes gehad, maar die pryse was grootliks beïnvloed deur internasionale tendense, onderskeie handelsposisies en die wisselkoers. Internasionale pryse vir growwe graan was effe hoër (0,6%) in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar, maar die dalende voorrade in Argentinië het tot hoër mieliepryse gelei.

BFAP sê maand tot maand het die prys van mielies gestyg, met geelmielies wat in Oktober 1,5% duurder was en witmielies wat 3,7% duurder was.

“Ons is wel bekommerd dat die El Niño-weerverskynsel, wat tans verantwoordelik is vir hoër temperature wêreldwyd, die vooruitsigte vir die gewas wat tans geplant word, kan beïnvloed,” sê BFAP se verslag.

“Enige moontlike impak op voedselpryse sal eers oor ʼn paar maande gesien word en is grootliks afhanklik van die weer oor die volgende paar maande. Hoewel boere in die oostelike produksiestreke goeie vordering gemaak het met die meeste van hul aanplantings, is daar gebiede in die westelike produksiestreke wat nie voldoende reën gekry het nie.

“Daar bly wel ʼn venstergeleentheid van ongeveer 4 weke om mielies en sonneblom in hierdie westelike produksiestreke te plant.”

Die verslag wys daarop dat die tyd om sojabone te plant wel al hoe minder raak.

Vleis nie duurste, maar tog duur

Die prys van bees‑ en hoendervleis het ʼn opwaartse kurwe gevolg. ʼn Vars, heel hoender was in Oktober 5% duurder, gevolg deur bevrore hoender wat 4% duurder was.

Eierpryse het groter stygings getoon – dit was 5% duurder vir ʼn halfdosyn eiers en 11% duurder vir 18 eiers – te midde van die voëlgriepuitbreking.

“Dié stygings weerspieël die feit dat Suid-Afrika reeds ʼn groot invoerder van hoendervleis is en die land se invoere dus redelik doeltreffend toeneem wanneer binnelandse voorrade onder druk geplaas is deur die uitbreking.”

Varkvleispryse het in Oktober met 7% gestyg.

Die prys van beesvleis was ook hoër, alhoewel met ʼn klein persentasie van 0,6, terwyl speenkalfpryse laer was vergeleke met die vorige maand (-1,4%).

“Plaaslike vraag na beesvleis bly laag weens ekonomiese druk, maar die vakansieseisoen versterk tipies die vraag na dié soort vleis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.