Dié SA bestemmings is van die wêreld se gunstelinge

Kampsbaai in Kaapstad. (Foto: Sebastian Canaves/Unsplash)

Die Toerismesentiment-indeks (TSI) se jaarlikse ranglys het Hermanus, Kaapstad en Stellenbosch onlangs as drie van jaar se 100 mees geliefde toerismebestemmings ter wêreld aangewys.

Data van meer as 1,6 miljard aanlyngesprekke en gratis publieke opnames word gebruik om dié ranglys volgens verbruikerssentiment op te stel. Ongeveer 21 330 bestemmings word ook jaarliks geïdentifiseer en oorweeg.

Volgens die TSI streef elkeen van die bestemmings op die indeks daarna om nie net die beste vir hul toeriste nie, maar ook hul inwoners te bied. Elkeen word volgens die TSI se toerisme-sentimenttelling (“Tourism Sentiment Score”) bepunt en sy vernaamste besienswaardighede word ook op die ranglys genoem.

Hermanus word vir sy wildbesigtiging uitgesonder. (Foto: Argieffoto)

Hermanus het vanjaar ‘n indrukwekkende 18de plek op die lys behaal en word vir sy wildbesigtiging uitgesonder.

Stellenbosch het van verlede jaar se 41ste plek na die 34ste mees geliefde bestemming op die lys gestyg, danksy sy kenmerkende wynkelders en wingerde. Bordeaux, die Franse stad wat dikwels as die wêreld se wynhoofstad erken word, het net die 80ste posisie op dié lys behaal.

Kaapstad het met 14 plekke opgeskuif weens sy voortreflike restaurante – van die 54ste na die 40ste mees geliefde bestemming.

Mireille Wenger, Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, het dié nuus verwelkom en dit as ’n uitstaande toekenning vir die Wes-Kaap bestempel.

‘n Lugfoto van die Lanzerac Wynlandgoed in Stellenbosch. (Foto: Clifford Roberts)

“Ek is hoopvol dat die blootstelling wat deur hierdie erkenning gegenereer word, selfs meer besoekers na ons kus sal lok om meer van ons vele en diverse dorpe, besienswaardighede en aanbiedinge in die Wes-Kaap te verken. Hermanus, Stellenbosch en Kaapstad word herhaaldelik deur internasionale besoekers as ʼn gunstelingtoerismebestemming uitgesonder en vanjaar se TSI-ranglys bevestig hulle mededingendheid.”

Die Maldive-eilande het danksy sy idilliese strande en kristalhelder seewater vanjaar die topposisie behaal terwyl Lexington, ʼn dorp in Kentucky in die VSA, 100ste op die lys verskyn het en vir sy kosaanbiedings uitgesonder is.

Knysna, wat verlede jaar die 20ste plek behaal het, is ongelukkig nie by vanjaar se indeks ingesluit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

JohanR ·

Seker daai R900 Tottenham Hotspur borgskap sal nog R50 miljoen toeriste bring! Lees iewers dat iemand gaan soe 30% van die borgskap in die bankrekening kry.

Eugene ·

Daar sal nie gepraat word van misdaad in daai gebiede nie. Hulle skets net die mooi Kant van die prentjie.

Tipper ·

Korrek, want die toeriste is net vir n paar dae hier dan gaan hulle weer terug.

Republikein in die Wes Kaap ·

En net daar styg Hermanus se eiendomspryse met 15%.

miraclealigner ·

Dankie tog Hermanus en Stellenbosch het nie nodig om sokkerspanne te wil borg dat die toeriste hulle kan besoek nie… Dalk moet die regering gaan kyk wat doen Hermanus en Stellenbosch reg…

Nie Verbaas ·

Ek sou dink die lughawe met die terugvlug is die gunsteling bestemming in Suid Afrika.

Gerhard ·

En weereens sien ons waar wie in beheer van areas is om dit van die gewildste toeriste bestemmings te maak…….

Sandra ·

Waar feature Franschhoek miskien? Kan nie glo hulle is nie op die lys nie

Danie ·

Ons het n mooi land met baie potensieel raak eers van die misdaad en onbekwame leiers ontslae.Wie wil vermoor word om n mooi sonsondergang te sien ?

Vonny ·

Bid, Glo en Vertrou.
God is in beheer.
Dankie Heer vir U mooi Skepping!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.