Dieselprys daal skerp, maar petrol duurder

Argieffoto (Foto: Megan Swart, Maroela Media)

Motoriste sal van Woensdag 59c/liter meer vir petrol opdok, terwyl die prys van diesel met ʼn swaelinhoud van 0,05% met R1,57 per liter sal daal. Diesel met ʼn swaelinhoud van 0,005% word met R1,52/liter goedkoper.

Petrol (95-oktaan) sal vanaf middernag R23,46 per liter in Gauteng en R22,81 aan die kus kos. Diesel (0,05%) sal Gautengse motoriste van Woensdag R23,92 per liter kos, terwyl motoriste aan die kus R23,27/liter vir diesel sal betaal.

Die prys van gas styg met 95 sent per kilogram en paraffien word 57,3 sent per liter goedkoper.

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, skryf die jongste prysveranderings toe aan duurder internasionale oliepryse en die rand/dollar-wisselkoers.

Die rand het in Oktober van R18,11 teen die Amerikaanse dollar tot R17,43 in November versterk, terwyl die gemiddelde Brent-olieprys van $90,79 tot $88,77 per vat gedaal het. Olie word in dollar geprys.

Mantashe sê petrolpryse het tydens die oorsigtydperk gestyg weens ʼn groter vraag deur motoriste wat vir die dankseggingseisoen in die VSA reis én ʼn beperkte aanbod weens die konflik tussen Rusland en Oekraïne. “Die verhoogde vraag het gelei tot ʼn daling in petrolvoorraad en hoër pryse.”

Mantashe sê ook raffineerders produseer meer middeldistillate, soos diesel, paraffien en gas om aan ekstra wintervraag in die Noordelike Halfrond te voldoen. Minder petrol word gevolglik geproduseer.

Die prysstyging van gas word weer toegeskryf aan die styging in die pryse van propaan en butaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JohanR ·

$1 vandag kos jou R17.35. Soe as jy vandag R100000 se vakansie geld Miami toe vat dan kry jy darem $5764. Tensy jy Squirrel is wat saam met 100 kaders vlieg om vir Joe Biden te gaan kuier dan maak wisselkoers geen saak nie. Wonder hoeveel dit gekos her om vir Charles III se gaan kuier? 1 pond vandag R21.11. Dink nie ek sal ooit weer die Eiffel toring of Venesia sien nie.

Lillian ·

As brandstof van alle oktane daal met R10 per liter, kan ons weer praat, maar tot dan is hierdie pryse steeds absurd!

SwartBees ·

Dis te gemaklik so voor meeste mense op vakansie gaan.

Wannneer gaan ONS bietjie score?!?!?

Hendrik ·

Diesel prys daling van R1.52 is beslis nie ‘n skerp daling nie.

Hendrik ·

Sasol produseer branstof teen R6.50/l en agv die prys regulering kan die mark nie mededingend wees nie. ‘n Hoe pertrolprys beteken ook hoe belastings om die stroop piramiede stelsel aan die gang te hou.

Groen Ghoen ·

Baie waar Hendrik, dit is alles relatief tot die spesifieke basisprys? Dit is winter in die noordelike halfrond. Rusland gaan die energieskroewe nou aandraai…. interessante tye wag.

Jacobus ·

Wat het geword van die ondersoek na die miljoene vate ruolie wat in Saldana opgaardamme gestoor was en deur Tina Joemat-Pietersen verkoop is.

Roek ·

DAAR HET NIKS MAAR NIKS VAN GEKOM NIE , DAAR WAS INDERDAAD MILJOENE EN IS DIT NET SOOS IN WEG ……………..FLIPPEN SKANDE!

Rooikoos ·

Ons betaal die ekwivalent van R10 per liter vir petrol in Sadi Arabie.

Aggie ·

As jy baie moet ry, bly dan liewer daar want hier gaan jy nie oorleef nie.

Danie ·

Elke druppel help maar die wipplank verhogings sus ons net.Daar is niks goed in die verhoging en verlaging van brandstof nie hulle maak ons net gewoond aan die hoe pryse.

Boer ·

At least gaan my kar se petrol liggie langer aan bly as Eskom se ligte

Koos 100 ·

Petrol en diesel word van dieselfde olie vervaardig, nie waar nie? Dit word met dieselfde rand in dollars betaal? NOU HOE GAAN EEN OP EN EEN AF????? Dis seker gedoen dat Eskom kan diesel koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.