Dis heerlike lente, maar koue nog nie verby

Argieffoto Foto: Jörg Peter, Pixabay

Nes Suid-Afrikaners dink dit is heerlike lente, kom maak die winter weer ʼn (Kaapse) draai.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel ’n kouefront wat na verwagting Saterdag sy opwagting sal maak.

Volgens Ishmael Moyo, ’n senior weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, sal die kouefront aan die weste van die land inbeweeg en temperatuurdalings in die Kaapprovinsies teweeg bring. Die kouer temperature sal met geïsoleerde reën en winderige toestande gepaard gaan.

Maksimum temperature kan in dele van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap tot ver onder 20 °C daal.

“Teen Sondag sal temperature in die sentrale gebiede, waaronder die Noord-Kaap en die westelike dele van Noordwes en die Vrystaat, ook begin daal, soos die kouefront in ’n oostelike rigting beweeg. Geïsoleerde reën kan ook in hierdie gebiede verwag word,” sê Moyo.

Teen Maandag sal die kouefront verder ooswaarts beweeg en die temperature in die westelike dele van die land sal dan begin normaliseer.

Volgens Moyo sal die temperature in die oostelike dele van die land, waaronder die oostelike dele van Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal, ook beduidend daal. Die koue sal steeds in die sentrale gebiede van die land gevoel word.

Die temperature sal teen Woensdag stadigaan normaliseer.

Moyo sê die reën wat vir die naweek voorspel word, is frontale reën wat deur ’n laagdrukstelsel veroorsaak word. Die weerdiens kan in hierdie stadium nie sê wanneer die eerste somerreënval sal uitsak nie.

Sy sê kouefronte kan nog in lente hul verskyning maak, maar dit sal nie so gereeld soos in die winter gebeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.